Dinsdag 02 Junie 2020

Psalm 6 Liefde in tye van angs

Psalm 6:3-5 Wees my genadig, Here, want ek is swak. Maak my gesond, Here,want my liggaam is vol pyne. My hele wese is angsbevange. Hoe lank nog, Here? (5) Kom terug, Here, en red my. Genees my op grond van u liefde.

Dawid beskryf nie net die simptome van die siekte waaronder hy lei nie, maar ook die effek wat dit op sy gemoedstemming het. Die fisiese pyn in sy liggaam gaan ook gepaard met 'n intense hoeveelheid angstigheid. Hy vertel ons dat sy hele wese angsbevange is. Hierdie simptome van die effek wat lewensdruk op Dawid het kan ons help om ons eie belewenis van druk te verstaan. Sy pleidooi om God se genesende liefde behoort ook ons vertrekpunt te wees. 


Sondag 31 Mei 2020

Psalm 5 Here, help my fokus

Psalm 5:9-10 (Bybel vir Almal) "Here, ek het vyande. Daarom vra ek dat U my moet lei
en vir my moet leer wat reg is,
U moet vir my wys hoe ek moet lewe.
10 Ek vra dit, want hierdie mense
praat nie die waarheid nie.
Hulle dink net oor hoe hulle my kan laat sterf,
hulle sê verkeerde dinge oor my,
hulle wil my in my graf bring.
En wanneer hulle mooi dinge sê,
dan is hulle vals."

Mense wat ons nie goed gesind is nie kan ons oë van ons lewensdoel en van die Here afhaal. Mense wat ons vyandig gesind is kan ons fokus op die dinge voor ons verflou. Hulle is oneerlik en dra stories en al sê hulle mooi dinge is hulle hartsgesindheid nie reg nie en gebruik hulle dit om ons en ander te manipuleer. Eintlik is hulle ware intensie om van ons ontslae te raak. Dit is nie vir ons lekker nie en naderhand spandeer ons hopeloos te veel tyd om aan hierdie saak te dink. Ons word moeg en depressief. Daarom vra Dawid dat die Here hom moet lei en so moet help om te fokus. In plaas van onproduktiewe tyd deur te dink aan mense wat verskuilde agendas het moet ons die Here volg. Hy het immers die volmaakte voorbeeld hierin gestel. 

Maandag 25 Mei 2020

Psalm 4 - Wees my genadig O God

Psalm 4:2  As ek roep, verhoor my, o God van my geregtigheid! In benoudheid het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed!

God maak ruimte vr ons in benoudhede. 
Dawid het oorweldig gevoel teen die "magtige vyand" en die "haters omdat hulle te sterk was", oor die "kuil van vernietiging", die "modderige slyk" wat hom wil verswelg (Psa. 40:3), 3.) en sy eie swakheid (Psa. 116:6), 4.) in onmag teen "die hand van die Filistyn". Ander, soos Job, het ook hierdie oorweldigende gevoel ervaar en vra vir redding uit die "ellende" en " verdrukking" (Job 36:15)

Ons moet erken dat net die Here kan help.
Die Here sal sy "siel in die benoudhede geken het" (Psa. 31:8), sy "voete op ‘n rots gestel"... en sy " gange vasgemaak" (Psa. 40:8), hom "bewaar... gehelp" het (Psa. 116:5-6).  Job verklaar dat God die ellendige en verdukte "lok... uit die mond van die nood na ‘n onbeperkte ruimte en na die behaaglikheid van u tafel wat vol is van vetspys" (Job. 36:16). 

Ons moet vra vir God se genade in 'n sekere vorm.
As die oorweldigende vloed van benoudhede ons tref, kan ons soos Dawid vra, "Wees my genadig, o God". God het vir hom "ruimte gemaak" (Psa. 4:2), sy siel het by God  "geskuil" tot die onheil verby gaan (Psa. 57:2), "verbly die siel van u kneg (Psa. 86:4), hy vra laat "u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg" (Psa. 119:76) en hy vra "Laat my u goedertierenheid in die môre hoor" (Psa. 143.8).

God sal vir ons ruimte maak, ons siel oorskadu en verbly, ons troos en ons in die more herinner dat genade vir ons beskikbaar is in die Here Jesus. 1 Kor. 1:30  Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.

Maandag 25 Februarie 2019

Psalm 3 - Net die Here kan help!

Ons kry hier n kykie in die hart van Dawid wat onder druk was. Is Dawid nie net besig om homself te bejammer nie? Om te kla oor sy lot nie? Wel, stel jouself voor dat jou eie kind teen jou draai en dat jy skielik n klomp vyande het wat jou lewensreg bedreig. Hierin is 'n stuk wysheid vir ons, maar eers 'n paar retoriese vrae. Kan die Here vir ons 'n skild wees as niks ons bedreig nie? Kan die Here ons beskerm as ons nie aangeval word nie? Kan die Here vir my opstaan as ek nie in nood verkeer nie? Die antwoord is ook die punt van die Psalm. God is gekant teen onreg en skryf deur Dawid n Psalm oor sy eie stryd met die vyande van die Here Jesus. "Dit is net die Here wat kan help" (v9). 'n Skild word benodig as die pyle teen ons afgevuur word. 'n Beskermheer word benodig as ons aangeval word. Ons het die Here nodig om ons van onreg te red. Eendag sal die Here God self die Here Jesus regverdig deur sy heerskappy op die troon van Dawid. Dit is net die Here wat kan help. 

Woensdag 20 Februarie 2019

Psalm 2 - Nie-Bedreigende Outoriteit

‘n Messiaanse Psalm want dit wys iets van Jesus voor hy nog gekom het. Ek besef dat ek nie rerig gemaklik is met verantwoordelikheid en outoriteit nie. Dis nie lekker om gesê te word wat ek moet doen en aan ander se verwagtinge te voldoen nie. Dis nog slegter as ek hoor ek het iets verkeerd gedoen of om te voel ek voldoen nie aan ander se standaarde nie. “Ons wil (eerder) vry word, ons wil nie meer dien nie. Ons wil die toue stukkend breek waarmee hulle ons vasgemaak het.” Soms voel ek daar is nie ‘n uitkoms nie, my lewe word deur iemand anders beheer, gedomineer en gemanipuleer en dit maak gevoelens van opstandigheid in my wakker. Die wonder van Jesus Christus is dat God Hom as gesalfde ge-oormerk het om die nie-bedreigende outoriteit in my lewe kan wees.

Psalm 1 - Nie-ooglopende Voorspoed

Ons voorspoedigheid is nie altyd ooglopend nie. Ek sukkel soms om te onderskei tussen die voorspoedigheid van die Christen en nie-Christene. Hoe kan ons anders as om mismoedig te voel as dit lyk asof daar nie rerig 'n voordeel is in Christenwees nie. Dit is boonop harde werk. Ek kan dus verstaan dat ons en ons kinders begin moed verloor en eerder ingee onder druk. Dis dan wanneer ons geloofsperspektief vernou. Ons soek sigbare voorspoed. Ek moet myself en my kinders gereeld herinner dat die Christen-lewensboom wat by 'n waterstroom staan is nie gesteld op selfpreservering nie, maar gooi n skaduwee waaronder reisigers kan rus. So 'n boom dra vrug wat ander se honger en dors les. Die voorspoedigheid van so n boom is nie in uiterlike welvaard en populariteit onder vriende nie, maar die voordeel is  in die innerlike waterbron en lewenskragtigheid wat die Gees van God verskaf. Dalk sien niemand dit raak nie, maar God sal sorg dat jy staande bly.

Sondag 20 Mei 2018

Pinksterdag 20 Mei 2018

Vandag vier ons die wonderlike dag toe die Heilige Gees uitgestort is, volgens Jesus se belofte in Joh. 16:7, en die kerk begin het, volgens die belofte in Hand. 1:8. Die Skrif is duidelik daaroor dat die Kerk op Pinksterdag begin het toe die dissipels met die Heilige Gees gedoop is. Die waterdoop van Gelowiges het ook op Pinksterdag begin toe 3,000 mense wat die evangelie gehoor het geglo het, gedoop is en by die nuwe gemeente gevoeg is. Dit was die heel eerste keer ooit dat so iets gebeur het.

Die uitstorting van die Heilige Gees is die begin van die kerk en die begin van God se nuwe plan vir nuwe mense. Die ou dinge is waarlik verby en die nuwe dinge het gekom. Dit is wat ons vandag vier – ALLE NUWE DINGE. Die Kerk, wat geseën is met die innerlike werk van die Gees van God, is God se nuwe plan vir ons in hierdie tydperk van Genade. Een van die seëninge van hierdie nuwe plan is dat ons deel het aan die “lewensap van die wortel van die olyfboom” (Israel) (Rom 11:17). Dit is die geestelike lewenskrag van God wat werk in ons lewens. Dit beteken prakties dat ons getuies kan wees van God se werk in ons lewens (Hand. 1:8), dat ons insig kan he om God te ken (Ef. 1:18), dat ons in ons siele versterk kan word as ons swaarkry (Ef. 3:16), dat ons deur die Gees gelei kan word (Rom. 8:14) en dat ons vry kan wees (2 Kor. 3:17). Daar is nog baie ander dinge wat die Gees vir ons doen, maar die belangrikste is dat ons NUWE dinge kan ervaar deur Sy krag.

Vier jy vandag nuwe dinge of sit jy vas in die tradisie van die ou dinge?