Dinsdag 23 Julie 2013

Die Bybelse Kuns van Kommunikasie - Deel 1

Ons almal kommunikeer op een of ander manier. Daar is soveel verskillende style van kommunikasie. Sommige mense kommunikeer verbaal, ander weer net met die met die oë of deur notas, e-posse of SMS’e. Party glimlag net of frons en ander weer met hulle lyftaal. Deur jou teenwoordigheid of afwesigheid kan jy ‘n boodskap oordra of deur ‘n drukkie of ‘n handdruk. Die gee van geskenke of om te help met jou gawes of talente is nog maniere van kommunikasie. Jou gewilligheid om met ander te deel en deur te luister of nie te luister nie, is alles maniere van kommunikeer.   

Terwyl goeie kommunikasie opbou en bemoedig, kan swak kommunikasie lei tot onopgeloste konflik, die oordrag van verkeerde idees, misverstande en wanopvattings floreer. Swak kommunikasie kan wyse besluite verydel, eenheid belemmer, interpersoonlike probleme vermeerder, ontevredenheid en frustrasie ontwikkel. Dit kan lei tot die opbreek van verhoudings en min geestelike hulp is gewoonlik die gevolg.

Die Bybelse se eienskappe van goeie kommunikasie skets natuurlik ‘n beeld van ‘n mens wat ons aan Jesus laat dink. As ons kommunikeer moet ons eerstens in liefde die waarheid praat (Ef. 4:15) en nie halwe waarhede kwytraak nie. As dit ons gewoonte is om deur halwe waarhede, wit leuens, insinuasies of stilstuipe ons punt te maak, moet ons onthou dat ons lede is van dieselfde liggaam en mekaar se beste belange op die hart moet dra (Ef. 4:25). Sekere mense het hulle swak manier van kommunikeer by hulle pa of ma aangeleer en dink dit is iets om op trots te wees om met uitdrukkinglose gesigte na jou te staar. Ons moet natuurlik ons styl van kommunikasie by Jesus aanleer.  

As ons wil kommunikeer, moet ons tweedens daarvan bewus wees dat ons sal wil reageer op ongeregtighede. As ons ontsteld raak, sê die Bybel, moet ons nie dat dit oorgaan in woede, haatspraak of wraakneming nie (Ef. 4:26), want daardeur sal ons die duiwel ‘n plek in ons verhouding gee (Ef. 4:27). Kragwoorde word deur sommige gesien as ‘n bewys van sterk karakter of leierskap, maar dit is volgens die Bybel vuil taal en nie opbouend nie (Ef. 4:29).

‘n Derde area van kommunikasie is ons reaksie teenoor die nuus wat ons van ander kry. As mense nuus of boodskappe aan ons oordra van iemand anders, dan is ons geneig om sinies te raak. Ons wil dadelik ‘n verklaring gee van wat ons dink is besig om plaas te vind of onsself regverdig. Inplaas van skeptiese en siniese woorde, moet ons vriendelik en vol ontferming wees en gou om mekaar te vergeef (Ef. 4:32). Hierdie is ‘n goeie reël vir kommunikasie tussen man en vrou in die huwelik. Liefdevolle en eerbiedige kommunikasie tussen man en vrou word aangemoedig (Ef. 5:33) en sal die fisiese en emosionele verhouding tussen egpare bevorder.   

Vierdens, is dit soms, veral in die hitte van die stryd, of in die passie van die oomblik, moeilik om nie iets te sê nie. Ons brand om iets te sê en voel dat iemand dit al lankal moes gesê het, maar die gebed wat Dawid gebid het, is die antwoord: “Here, stel ‘’n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.” (Ps. 141:3). As daar enige iemand is wat iets moes gesê het, was dit Jesus gewees. Hy is so erg te nagekom, afgekraak en gespot, maar ten spyte daarvan word van geprofeteer dat die Here Jesus ‘n geoefende tong ontvang het – ‘n tong wat “weet om die vermoeide te verkwik met woorde.” (Jes. 50:4) Jesus het op ‘n herderlike manier die mense met probleme om Hom hanteer en hulle harte met ‘n sagte woord aangeraak (Spr. 15:1). Daarom is troosvolle, bemoedigende en vriendelike woorde die tipe kommunikasie wat God verheerlik en genesing kan bring vir die ontstelde hart (Pred. 12:10; Spr. 16:24).

In die vyfde plek is daar volgens Salomo al groot oorloë tussen vyande gekeer met ‘n gewilligheid om te luister en deur te reageer met ‘n sagte antwoord (Spr. 25:15). Daar kom tye waar konflik en twis ‘n onmiskenbare deel van ons lewens is en die Bybel sê dat dit soos ‘n damwal is wat kan bars (Spr. 17:14). Ons kan egter deur ‘n gewilligheid om te luister en te verstaan, die saak ontlont. Wyse en selfbeheerste kommunikasie is die gereedskap om in enige situasie die gesindheid van twisgierigheid te vermy (Spr. 25:8). Daarmee sê ons nie dat jy nie jou saak moet verdedig nie, inteendeel, ons as Christene kan antwoord op die aanklagte teen ons of misverstande rondom ons. Wat ons teen moet waak is om driftig te raak en om eerder die gemoedere te laat bedaar en deur kalmte te beraadslaag. (Spr. 29:11). Daar is ‘n wonderlike voorbeeld in Spreuke 31:26 van ‘n moeder wat met wyse en vriendelike woorde baie mense kan beïnvloed vir die goeie.   

Laastens, as jy as ‘n verstandige mens erkenning wil verkry, dink eers deeglik na aan wat jy wil sê voordat jy dit sê en as jy iets wil sê dan moet dit gebaseer wees op grondige kennis (Spr. 15:2; 15:28; 20:15) en uit die regte harts gesindheid (Spr. 16:23,24). Die regte woorde wat op die regte tyd gespreek word, het baie groot waarde in God se oë, want dit bou op, motiveer en genees.

Ter opsomming, Christene is ook in hulle kommunikasie deur die bloed van Jesus vrygemaak om ‘n nuwe mens te wees. Liefde, met ander woorde, ‘n opregte en opofferende omsien na die belange van ander, is die nuwe manier van kommunikasie (Gal. 5:13,14). Wat meer is, hierdie liefdevolle tipe kommunikasie is nie net die regte ding om te doen nie, maar is die vervulling van die wet van God.      

Dinsdag 02 Julie 2013

Die Genoegsaamheid van Jesus Christus - Deel 2

Die misleiding waarteen Paulus ons waarsku wil ons gedagtes aflei van wie Jesus Christus is. Met ‘n God en Verlosser wat so uitnemend en al-genoegsaam is, het ons geen ander Verlosser of Here nodig nie. Wat ons regtig nodig het, is om meer en meer op Hom staat te maak. Daarom is dit belangrik dat as ons geestelik paraat wil wees, dat ons by die waarheid sal bly en op die uitkyk sal wees vir enige misleiding wat ons wil wegneem van wie Jesus Christus is. Enige misleiding en valse leerstelling wil ons wegneem van die waarheid en kennis van die oorvloed van die genoegsaamheid van Jesus Christus. Dit wil jou oortuig dat jy God is of soos Hy kan wees. Dat jy die onderhouer is van alle dinge, dat jy die hoof is van die gemeente. Dit wil jou oortuig dat jy jou eie Verlosser kan wees. Dat jy die oorwinning oor sonde op jou eie kan bereik deur wettisisme en voorskriftelikheid. Dat jy deur die gestrengheid van die liggaam meer geestelik kan wees. Dit wil jou oortuig dat die kerk hoofsaaklik te doen het met jou en jou behoeftes. ‘n Ander misleiding is dat jy voel dat jy alleen kan regkom en nie ander mense nodig het nie. Dit wil in jou ‘n vleeslike gesindheid skep wat jou opgeblase maak teen ‘n ander. Dit skep ‘n eiesinnige (ek is reg en ander is verkeerd) godsdiens.

Paulus begin deur te sê:  “As julle dan saam met Christus opgewek is...” (Kol. 3:1) of siende dat julle reeds saam met Christus uit die dode opgestaan het, “...soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.” As Christus so almagtig, uitnemend en genoegsaam is, dat Hy die dood oorwin het, dan moet ons met Hom vereenselwig in ons denke en ideale. Ons ambisies en ideale moet te daagliks te doen hê met die hemelse werksaamhede waar Christus Jesus aan die regterhand van God is. Hierdie hemelse werksaamhede behels die werk wat die Heilige Gees, doen om sondigheid en die behoefte vir redding te oortuig. Dit behels ook die redding van siele wat tot geloof kom en die voorbereiding deur heiligmaking vir toetrede tot die hemelse koninkryk. Soos wat Jesus besig is om ons hemelse tuiste voor te berei vir ons, so moet ons onsself voorberei totdat Hy ons kom haal.

Hierdie hemelse werksaamhede van evangelisasie, die redding van siele, heiligmaking en ons hoop op die koms van Christus, is alles die aktiwiteite en ideale waarop ons ons aandag moet plaas. Dit is wat dit beteken om die dinge te soek waar Christus is. Om besig te wees met die evangelie, die redding van siele, heiligmaking en om uit te sien na die hemel, is wat dit beteken om daardie dinge te soek. Dit is die vyand se werk om jou aandag en ideale op wêreldse en tydelike ideale en ambisies te plaas. Wees paraat Christen stryder!  

Die Genoegsaamheid van Jesus Christus - Deel 1

‘n Deeglike studie van Kolossense laat ons met twee duidelike begrippe: die uitnemendheid van Jesus Christus en die beperktheid van die mens. As ons mooi daaroor nadink, dan is dit waaroor die lewe gaan. Elke Christen is daagliks gewikkel in ‘n stryd om die beperkings en behoeftes van die mensheid te oorkom deur in geloof staat te maak op die genoegsaamheid van Jesus Christus. Een deel van ons is ten volle onder die invloed van ons eie ek en verslaaf aan ons eie vleeslike begeertes. Ons floreer op ons eie kreatiewe denke en determinasie en ambisie om suksesvol te wees. Aan onsself oorgelaat maak ons planne en bou ons lewens sonder om een oomblik te erken dat ons beperk en gebrekkig en onvolmaak is en nie kan oorleef op ons eie nie. Deur die genade van God is daar darem ook ‘n deel van ons wat gereeld besef dat ons afhanklik en beperk is.

Om ons eie beperktheid te besef kan ons net kyk wat Paulus aan die kerk in Kolosse sê oor die realms van werklikheid wat ons beperkings uitlig. Die mag van die duisternis (1:13) en die koninkryk van die Seun van sy liefde, m.a.w. die hemele  of die erfdeel van die heiliges (1:12,13,16), is twee teenoorgestelde realms waarin die Christen beperkte insig het. Die geskape aarde (v:15,16) en die dode en die lewende (v:18,22, 2:12) is nog realms waarin ons werklik net ‘n klein hoeveelheid van weet, wat nog te sê om enige vermoë te hê om dit te verander. Die kerk (1:18, 1:24,28, 2:3) is een realm van werklikheid waarin ons meer mag gegee word, maar waar ons steeds beperkte beheer het.

Dit is nie net die realms van werklikheid waarin ons bestaan wat ons beperkings uitlig nie, maar ook ons geestelike behoeftes wat ontstaan as gevolg van hierdie beperkings. Ons bestaan as mense begin met die feit dat ons vasgeketting is in die mag van die duisternis en ‘n behoefte het om verlos te word van die sondemag van die duisternis. Ons kan onsself nie daaruit bevry nie, want die Bybel sê dat ons onbekend en vervreemd van God is en sonder hoop en sonder God in die wêreld inkom. Ons liggame en die wêreld waarin ons leef het onderhouding dringend benodig. Kyk net op ‘’n Maandagoggend in die spieël of na die verkeer om te sien hoe dringend ons goddelike instandhouding nodig het.

Jesus Christus se uitnemendheid, voortreflikheid en genoegsaamheid stel Hom in staat om alle realms te betree en om alle behoeftes te vervul. Hy is Bevryder van gevangenis (1:13) wat ons bevry uit die mag van die duisternis en oorbring uit die duisternis na die koninkryk van die lig. Hy is die Verlosser van sondaars (1:14), wat Sy eie bloed as betaling vir ons sondes geoffer het. Hy was uniek in staat om Sy bloed aan die Vader ter voldoening van die sondeskuld. Hy is die Bekendmaker van God (1:15a), die Beeld van God – Hy wys ons hoe God is en maak God bekend aan die mens. Alleenlik deur hierdie werk van Christus kan die mens God ken. Hy is die Eersgeborene van alles (1:15b,16). Hy is van alle dinge die Eerste in prioriteit en prominensie. Hy is die Skepper van alles (1:16b), want alles wat bestaan wat bonatuurlik, sienlik en onsienlik is, is Sy handewerk. Hy is ook die doel waarom dit alles geskape is. Hy is die Onderhouer van alles (1:17) en is voor alle dinge en hou alle dinge in stand. Hy is die Hoof van die kerk (1:18), die Opperherder van die skape en staan eerste vir die skape. Hy is die Vredemaker en Skeidsregter (1:19), wat alles met Homself versoen en vrede maak tussen God en die mens. Hy is die Heiligmaker/Bruidegom (1:20), omdat Hy ons heilig maak deur ons voor te berei. Hy is Immanuel, die persoonlike God met ons. Hy is God en Hy is in ons. In Hom woon al die volheid van die Godheid. Hy is die Besnyer van die harte en tree op as die Hoof van die geestelike familie van God. Hy is die Oorwinnaar en het die skuldbrief teen ons en die aanklaer en veroordelaar vernietig aan die kruis. Hy stel ook ons vyand bekend in Sy triomftog oor sonde en verklaar dat hy ‘’n oorwonne vyand is. 
 
Omdat Jesus so uitnemend, voortreflik en genoegsaam is, kan ons baie meer vermag as wat ons in staat is om te doen. Ten spyte van ons beperkings en behoeftes, kan ons in die Here Jesus ‘n lewe in oorvloed leef.