Vrydag 16 Augustus 2013

Onordelikheid en Goddelike Orde

Dit is vir ons almal duidelik dat die tye waarin ons leef as onseker en wisselvallig beskryf kan word. Die woord van die Here beskryf hierdie dae in 2 Tim. 3:1 as  “swaar tye”.  Die gesindheid van hier tyd word ook beskryf: “mense sal liefhebbers van hulleself wees... ongehoorsaam... ondankbaar”. Hulle sal “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” wees.
Waar kom hierdie wanorde vandaan? Vroeër het Paulus gesê: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid.” Daar is ‘n sterk verband tussen die verwerping, ontkenning en onaktiwiteit van die Woord van God in mense se harte vandag en die sosiale wanorde en wanhoop wat heers.
Die goeie nuus is dat die Here ‘n uitverkore groep mense geroep het om anders te wees, om die letterlike Woord van God in hulle harte te laat heers! Mense wat ten spyte van hierdie gees van wanorde, kies om God se orde te volg. Manne wat hulle vroue liefhet (Kol. 3:19) en vroue wat hulle onderdanig aan hulle mans (Kol. 3:18). Werknemers  wat hulle “here na die vlees... nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart” in alles gehoorsaam is (Kol. 4:22). Mense wat kies om wat hulle ook al doen “van harte te doen soos vir die Here en nie vir mense nie...” (Kol. 4:23). Mense wat “reg en billikheid” betoon aan mense wat onder hulle aangestel is. Waarom kan ons anders wees? ‘n Bietjie later sê Paulus, “Omdat (ons) weet  dat (ons) ‘n Here in die hemel het” (Kol. 4:1b), “...dien ons die Here Christus” (Kol. 3:24b).
Dit is hierdie tipe woord gerigte orde wat die voorloper is vir die Messiaanse orde van die Vrederyk en ‘n toonbeeld is van die lewe van Christus. Mag ons voortgaan om so ‘n gemeente te wees!   

Vrydag 02 Augustus 2013

Die Kuns van Bybelse Kommunikasie - Deel 2

Ek het oor die laaste tyd bewus geword van die feit dat ons kommunikasie onder druk is. As gevolg van die druk van tyd om alles gedoen te kry en die hoë stresvlakke, is ons kommunikasie besig om daaronder te ly. Ons kry nie tyd om met mekaar te praat nie. Hiermee dus ‘n paar gedagtes uit die notas van pastoor Timothy Keller oor die onderwerp van kommunikasie.

1.       Luister Mooi. Wees ‘n gretige luisteraar. Moenie antwoord voordat die ander persoon klaar gepraat het nie. (Spr. 18:13; Jak. 1:19)

2.       Dink Eers. Moenie haastig wees om iets te sê nie, dink eers mooi oor wat jy wil sê. Praat in verstaanbare taal. (Spr. 15:23,28; 29:20; Jak. 1:19)

3.       Reik Uit. Probeer om nie stilstuipe of afsydigheid te gebruik om ander persone te ignoreer of frustreer nie. Verduidelik waarom jy stil of skugter is en nie wil of kan kommunikeer nie (Spr. 10:19; 15:28; 16:21,23; 18:2; 20:15; Kol. 4:6).

4.       Maak Reg. As daar konflik was, maak eers in liefde reg voordat jy die dag afsluit met ‘n nagrus. Probeer om nie te oordryf as jy moeg of gefrustreerd raak nie. (Ef. 4:15,25; Kol. 3:8; Matt. 6:34)

5.       Vermy Argumente. Probeer om argumentering te vermy. Dit is heel moontlik om te verskil van iemand sonder om te argumenteer. (Spr. 17:14; 20:3; Rom. 13:13; Ef. 4:31)

6.       Temper jou Reaksie. Gebruik ‘n sagte woord as jy wil reageer en nie onbeheerste woede nie (Spr. 14:29; 15:1; 25:15; 29:11; Ef. 4:26,31)

7.       Bely Jou Sonde. As jy verkeerd is, erken dit en vra dadelik vir vergifnis. Bepaal daar en dan hoe jy kan verander (Spr. 12:15; 16:2; 20:6; 21:2; Matt. 5:23-25; Luk. 17:3; Jak. 5:16).

8.       Vermy Kritiek. Moenie die blaam op ander plaas of hulle kritiseer nie. Soek woorde wat opbou en bemoedig (Rom. 14:13; Gal. 6:1; 1 Thess. 5:11)

9.       Word Jy Gekritiseer? Moenie in dieselfde gees reageer nie, maar tree op in die teenoorgestelde gesindheid (Rom. 12:17,21; 1 Pet. 2:23; 3:9)

10.    Probeer Verstaan. Probeer hard om die ander se punt te verstaan en maak voorsiening vir verskillende sienswyses. Wees meer besorg oor die ander persoon se belange as jou eie (Ef. 4:2; Fil. 2:4; 3:15,16)
 
In liefde en baie gebed vir julle...