Vrydag 06 September 2013

Laat julle harte nie ontsteld word nie!

Daar is soveel dinge vandag wat ons harte kan ontstel en ons letterlik die skrik op die lyf kan jaag! Tog is die Here Jesus en sy Apostels se boodskap in die Nuwe Testament: “Laat julle harte nie ontsteld word nie...”. Die dissipels het gehoor dat Jesus sou weggaan en hulle alleen agterlaat. Hoe gaan ons sonder sy leiding klaarkom? Jesus sê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My... Ek gaan om vir julle plek te berei. En ... kom... weer en sal julle na My toe neem ...sal julle ‘n ander Trooster gee... Vrede laat Ek vir julle na” (1 Kor. 14:1-5,17,18,27,28). Die kerk in Thessalonika was bekommerd en verontrus oor die verdrukking wat oor die kerk gekom het. Het die groot verdrukking al aangebreek? Paulus sê: “ons het Timótheüs, ...gestuur om julle te ...bemoedig in julle geloof, sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukkinge nie... julle weet self dat ons hiervoor bestemd is... God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus.” (1 Thess. 3:2-4; 4:13; 5:9)
Die kerk in Thessalonika het verskrik en amper kranksinnig geraak oor die valse leraars wat hulle verwar het. Wat gaan aan? Paulus sê: “Maar ons vra julle... om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie...  Laat niemand julle op enige manier mislei nie... Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk” (2 Thess. 2:1-7). Sekere spotters het leedvermakerig begin vrae wanneer die wegraping nou eintlik eendag gaan plaasvind. Sal dit ooit gebeur? Petrus sê: “aan die einde van die dae spotters sal kom ...en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? ... moedswillig vergeet hulle ... Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig... dat almal tot bekering moet kom.” (2 Pet. 3:3-9) 

Die jong Timotheus het swak, bevrees en verlate gevoel onder die gewig van die druk van die bediening. Paulus bemoedig hom: “God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Tim. 1:7). Sekere individue het bedroef geraak oor die tugtiging van die Here in hulle lewens. Die Here sê: “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” (Heb. 12:9-11)
Paulus het ernstig gebid het oor die “doring in sy vlees”. Vat dit weg Here! Die Here sê: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring... Daarom het ek behae in swakhede... om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.” (2 Kor. 12:9-10) 

Voel jy verlate sonder geestelike leierskap, bekommerd en verontrus oor al die slegte nuus, verskrik oor valse leer in die kerk, skrikkerig om ‘n bediening te hê, ontnugter deur die spotters van die Woord, bedroef en mismoedig as gevolg van tugtiging en swak as gevolg van liggaamlike lyding, dan is daar hoop vir jou! Glo in God, jou ewige Trooster, want jou lewe is bestem vir saligheid. Al kreun die wêreld en die liggaam onder die gewig van sonde, God is lankmoedig en laat ten spyte van swakheid, die vrug van geregtigheid voortkom.  Hy sal jou swakheid in Sy krag gebruik!  

Woensdag 04 September 2013

Hoe kan ons die wil van God leer ken as daar geen direkte Skriftuurlike leiding is nie?

Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.  Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad;  dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente. (Spreuke 3:5-8)

‘n Belangrike sleutel tot die kennis van die wil van God is in Johannes 7:17 opgeteken: “As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek.” Die beste manier om God se wil te leer ken, is met ander woorde, om eerstens met gewilligheid en toewyding in sy algemene wil vir ons lewens te wandel en dan sal ons kan “leer” of dit wat ons wil doen “uit God is” of nie.  

As jy wil weet of jy werklik gewillig is om die wil van God na te volg, moet jy natuurlik bepaal of jy tans besig is om Sy wil, wat reeds deur Sy Woord aan ons bekend is, na te volg. Daarvoor het jy eerstens kennis van God se Woord nodig. Vrae soos: Is ek werklik gered? Dra ek die vrug van die Gees? Is daar enige sonde, wat tussen my en God staan? Is ek daagliks in die Woord van God besig? Daarbenewens het jy geloof nodig om God se wil te vertrou, en gehoorsaamheid om dit uit te voer, veral as dit met die algemene wil van God vir jou lewe te doen het.  “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (Ps. 119:105) Is jy tans besig om in Sy wil te wandel?

Nadat jy bevestig het dat jy wel besig is om in die wil van die Here te wandel, dan alleen kan jy Hom met ‘n geruste hart (1 John 5:14-15) in gebed nader oor ‘n spesifieke saak waarvoor daar geen duidelike Bybelse lering is nie (sien Jakobus 1:5-6). God sal wel jou gebed beantwoord, hoewel dit heel moontlik nie so gou sal wees soos jy dit wil hê nie. In Lukas 18:1 sê Jesus, dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos (moet) word nie”. Dit mag dalk nie volgens ons persoonlike voorkeure of voorliefdes geskied nie, maar dit sal altyd “ten goede meewerk”. Hoor net wat Paulus in Romeine 8:26-28 verklaar: “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons... omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”

God sal ons, wat Sy wil vir ons aanbetref, op twee maniere lei waar daar nie spesifieke Skriftuurlike leiding is. Enersyds sal Hy ons in Sy voorsienigheid van ons omstandighede lei en andersyds, sal hy ons deur die innerlike oortuiging van die Heilige Gees lei. Hy gebruik Skrif beginsels wat ons uit die lesse van vorige ervarings geleer het. Hierdie twee aspekte moet egter ooreenstem. Wanneer al hierdie dinge in plek is, moet ons ons beste doen om God se wil na te volg, met volle vertroue dat die Here wel sal intree om koersaanpassings te maak as ons verkeerd verstaan het. Dit is God se wil dat ons Sy wil sal ken, want Hy sal “ons paaie gelykmaak.”