Dinsdag 11 Februarie 2014

Hulp vir die Hulpelose


Gal. 6:1-3  Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.  Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.  Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.

Alhoewel baie mense vandag wil ontken dat hulle hulp nodig het, is dit ‘n Bybelse waarheid dat Jesus Christus die kerk gemaak het om op ‘n sekere manier te werk te gaan om hulp aan die hulpelose te bied. Dit is nie maklik vir die deursnee Christen om te erken dat hulle soms die skoene van die hulpelose kan volstaan nie. Hulpeloses is soos ons teks in vers 1 verklaar, diegene wat “deur een of ander misdaad (swakheid of sonde) oorval word.” As dinge begin skeefloop in mense se lewens, dan is dit aanvanklik nie so erg nie. Verkeerde gesindhede van rebellie, huweliksontrouheid of onrus, verslawing aan verbode middels en media, biddeloosheid en kerkloosheid is vir die meeste vandag aanvaarbare sondes wat in privaatheid gedoen en onderdruk word. Die eerste ruk sal hulle dit wat fout is probeer wegsteek, wegpraat of liewers wil vergeet. Hulle wil nie daaroor praat nie en hoop dit gaan sommer van self weg. Hierdie kop-in-die-sand metode, verhoog net die vlakke van frustrasie en die risiko vir depressie - as dit nie alreeds ingetree het nie. As die situasie dan verder ontrafel, sal die meeste ‘n baie populêre stap neem, Google dit! Of miskien ‘n boek by die Biblioteek uitneem, die immer gewilde “talk show” (dr. Phil of dr. Oz) of TV sepie raadpleeg om uit te vind hoe hulle dit moet oplos. Die meeste kere bied hierdie Google of TV gerigte self-help sielkunde net ‘n tydelike antwoord, maar dinge keer dan stadig maar seker weer terug na “normaal”. As dit nie werk nie, probeer mense dan ‘n vriend soek, of ‘n familielid wat hulle dink hulle kan vertrou en poog dan om hulle hart teenoor die persoon uit te praat in die hoop dat die uitlating van die emosies en frustrasies die oplossing sal bied. Dit gaan gewoonlik gepaard met verwyte, oordrewe, halwe waarhede of selfbejammering. As dit ook nie help nie, en dinge raak nog verder buite beheer, sal hulle ‘n sielkundige of die meer hedendaagse “lifestyle coach” oorweeg. Met ‘n sekere hoeveelheid medikasie, wat die emosionele effekte van depressie verdoof, of ‘n paar “dinamiese” self-help stappe om te volg, kan die persoon vir jare voel asof alles nou reg is en dat die probleem dalk weggegaan het. Maar het dit? Kom ons wees eerlik, daar was nog nooit soveel self-help middels, “talk show” programme, TV sepies, toegang to Google ens. nie, maar die probleme bly nog dieselfde. Om die waarheid te sê, word die hedendaagse druk en probleme net erger.

Die belangrikste rede hiervoor is dat die Bybelse oplossings nie as ‘n opsie beskou word nie. Die meeste self-help middels bied ‘n tydelike oplossing aan of die verdowing van die simptome. Dit bied nie ‘n eerlike en soms ontnugterende kykie na die rol van eie sonde nie. Die vraag is dus, kan ‘n mens jouself help as jy nie bereid is om eerlik te wees oor die ware fout nie? Kan ‘n mens dus maar net aangaan met self-help of verdowingsmiddels tipe oplossing en hoop die probleem gaan mettertyd weg?

Volgens Paulus, is dit eerstens belangrik om te weet dat as iemand deur “een of ander misdaad (swakheid/probleem)” oorval word, so ‘n persoon die Here se hulp nodig het. Die belangrikste ding wat ons moet besef is dat hierdie “misdaad” wat in die privaatheid gedoen word, werklik ‘n “swakplek in die liggaam van Christus veroorsaak” en die Heilige Gees bedroef (Ef. 4:30) en wyer skade aanrig as wat ons dink. Ons kan onsself dus nie flous deur te dink dit is nie so erg nie of dink dat ons onsself uit sekere situasies kan uitred of uithelp nie, net die Here Jesus kan dit doen deur ander geestelike mense te gebruik. Hierdie “reghelp” is volgens Jakobus 5:20 baie belangrik, want dit verklaar soos volg: “laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes bedek.”  Tweedens kan ‘n mens, volgens Paulus, nie gehelp word as dit nie ‘n gesant van Jesus Christus, ‘n “geestelike” persoon, is nie. Die een wat wil help, moet ‘n geestelike Christen wees wat hom of haarself deur die Heilige Gees laat lei en nie deur selfsugtige begeertes of eie belang nie. Dit is ook die waarde van die gemeente en sy herder-leraar en diakens. Hulle is geestelike, meer volwasse Christene, en in die geval van die leraar is dit hulle verantwoordelikheid om “as herders toesig (te) hou oor die kudde van God” (1 Pet. 5:2), en wat moet “waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee…”.   Tog sal baie min mense eerstens aan die leraar dink as hulle ‘n probleem het of sukkel om ‘n besluit te neem. Derdens sê Paulus dat so ‘n persoon “reg gehelp” moet word, wat impliseer dat die persoon nie “reg” is en self kan regkom nie.  Paulus sê ook in vers 3, “Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.” Daarmee impliseer hy dat persone wat hulp nodig het, nie altyd sal erken dat hulle hulp nodig het nie en dat die wat vra vir hulp nie sal erken dat hulle verkeerd is nie. Die meeste mense wat hulp nodig het ontken dat hulle probleem so erg is, en as hulle wel vir hulp vra, het hulle hul eie idees hoe dit gedoen moet word en wil dan voorskryf hoe hulle dink hulle gehelp moet word. En as jy hulle durf teëgaan, of met hulle verskil, sal hulle opstandig of kwaad word, en nie verder wil saamwerk nie. Daarom sê Paulus in 2 Tim. 2:25-26 dat hulle wat hulp nodig het in die “strik van die duiwel… gevang (is)… om sy wil te doen.”, en dat hulle wat wil help “die weerspanniges in sagmoedigheid (moet) teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, en hulle weer nugter kan word…”. Hierdie opstandigheid of weerspannigheid (ek is kwaad en wil nie saamwerk nie, al sê en doen jy wat) sal enige poging om te help kelder en kan vir jare duur en vereis baie geduld by die wat met so ‘n Christen moet saamleef of geestelik genoeg is om te kan help.  

Ten spyte van die feit dat sommige mense nie wil vra vir hulp nie, of nie wil erken dat hulle gehelp moet word nie, of op hulle eie manier gehelp wil word, of sommer net botweg weier om daaroor te praat, het die kerk van die Here Jesus steeds die opdrag om vir hulle te sorg wat soms af dwaal. Die liggaam moet hulle liefhê, probeer bedien met die waarheid en hulle tot inkeer probeer bring. As lede van die liggaam, moet ons altyd bid dat diegene wat ‘n “siekte” onder lede het, sal instem om saam te werk om die hulp te ontvang, sodat die liggaam gesond kan word.   
In liefde en baie gebed vir elkeen...

Donderdag 06 Februarie 2014

Die Behoudende Werk van God

Prediker 3:14  Ek het ingesien dat alles wat God doen, vir ewig sal bestaan; daar kan niks bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie; en God het dit so gemaak dat hulle moet vrees voor sy aangesig.

Ons God is beide alwetend en almagtig. In Sy alwetendheid besit Hy eerstens die volmaakte wysheid om te weet wat die beste ding is om te doen en tweedens die volmaakte almag om dit uit te voer. As God iets begin het, maak Hy geen foute nie en het nie nooit nodig om terug te gaan na die tekenbord om iets oor te beplan of om iets reg te maak wat verkeerd geloop het nie. Wat Hy doen, is verewig!
Hierdie fundamentele beginsel het baie omvangryke implikasies. Die eerste implikasie is die wet van die behoud van energie, een van die belangrikste wette in die wetenskap. [Wikipedia gee die volgende definisie van hierdie wet: “In physics, the law of conservation of energy states that the total energy of an isolated system cannot change—it is said to be conserved over time. Energy can be neither created nor destroyed, but can change form, for instance chemical energy can be converted to kinetic energy in the explosion of a stick of dynamite.” Bygevoeg deur die vertaler] Dit beteken dat die energie wat tans bestaan in die natuurlike orde van alle dinge, wat ‘’n geslote stelsel is, nie geskep of vernietig kan word nie, maar behoudend sal bly totdat ‘n eksterne krag van buite dit verander.  

Die tweede implikasies kan gesien word in die voortbestaan van alle plante en dierespesies, net soos wat God dit geskape het, om voor te bestaan “volgens hulle eie soort”. Ook hierin het die geskiedenis God se ewig onveranderbaarheid bewys, want daar is nog geen wetenskaplik of biologies verifieerbare bewys dat hierdie wet van voortplanting ooit verbreek is of moontlik verbreek kan word nie, ten spyte van evolusionistiese beweringe.  
Die Psalmdigter verklaar soos volg in Ps. 148:1-6:  Halleluja! Loof die HERE uit die hemele; loof Hom in die hoogtes!  Loof Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare!  Loof Hom, son en maan, loof Hom, alle ligtende sterre!  Loof Hom, hoogste hemele en waters wat bo die hemele is!  Laat hulle die Naam van die HERE loof; want Hy het bevel gegee—en hulle is geskape.  En Hy het hulle in stand gehou vir altyd, vir ewig; Hy het ‘n wet gegee wat geeneen oortree nie. Ook in die ganse geskape heelal, sal die bevel van God dat hierdie hemelliggame geskape moet word, standhou “vir altyd, vir ewigheid”. ‘n Wet van die behoud van die kosmos wat volgens die Bybel geeneen kan oortree nie.

Bowenal het die grootste implikasie te doen met die redding van sterflike mense soos ek en jy. Jesus het dit self verduidelik in Johannes 10:28  “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” Die Psalmdigter sê: “Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders” (Ps. 103:17). Daniel het verklaar: “...sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie. (Dan. 7:14) Jesaja sê in sy profesie: ...my heil sal vir ewig bestaan en my geregtigheid nie verbreek word nie. (Jes. 51:6) en weer, “Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.” (Jes. 40:8) Waarom het God dit so gedoen? Die doel van die behoud van alles dinge word gegee in ons Skrifgedeelte, “...en God het dit so gemaak dat hulle moet vrees voor sy aangesig.”

deur Henry Morris, Ph.D. [http://www.icr.org/article/7796]

Miskien moet ons ophou twyfel en soos Salomo sê begin "vrees voor Sy aangesig".