Maandag 17 Maart 2014

Die Sonde van Stilswye

In sy boek “Share Jesus without fear.”, verklaar William Fay dat die dodelikste wond wat Jesus tydens sy kruisiging toegedien is, “the wound of silence” was. Niemand het opgekom vir Jesus nie! Toe Jesus in hegtenis geneem is, het sy mees lojale en uitgesproke dissipel nie weggehardloop nie, maar op ‘n veilige afstand gevolg sonder om ‘n woord te sê. Party van die mense wat daar byeengekom het, het Petrus erken as een van die Jesus se dissipels. “Was jy nie saam met Jesus nie?”, het hulle gevra. Maar Petrus het dit ontken en gesê: “Ek ken die man nie.” Terwyl ons gou sal wees om ons van Petrus te distansieer, is daar tog ‘n ontstellende ooreenstemming. Deur nooit ons monde oop te maak om te getuig nie, sê William Fay, ontken ons eintlik dat ons Jesus ken. Ons ontken hom deur ons stilswye!  Terwyl ons opgewonde moet wees oor ons geloof en oorloop van Jesus, veral omdat ons daardeur gered is en dat daar soveel Bybelse eindtyd profesieë in ons dag vervul word, bly ons eerder stil. Net soos Petrus van ouds, is ons ook soms geneig om die sonde van stilswye te kies.

Toets gou jouself, se William Fay, vir die tekens van ‘n stilswyende en sterwende Christelike lewe: Het jy al ooit getuig van jou geloof? Het jy al vir enige iemand die goeie nuus van die evangelie gegee? Het jy slegs Christen vriende? Het jy ooit te doen met uitgeworpe sondaars, die wat hulp soek, of is jy net met jou eie persoonlike groepie vriende gemoeid?

Christene wat getuig, val in twee groepe, die wat OOR die verlore wêreld praat en die wat MET die verlore wêreld praat. Die eerste groep is vriendelik, gee drukkies, stuur e-posse met motiverende dagstukkies, beloof dalk om te bid vir ‘n saak en gebruik selfs ‘n Johannes 3:16 plakker agter op die kar. Hulle pogings in lewensredding is soos om ‘n klein pleistertjie op ‘n bloeiende wond te plak. Hulle is vriendelik, maar  vaag en bly soos Petrus op ‘n veilige afstand, steeds in die sonde van stilswye. Hulle offer klein brokkies informasie, wat lei tot hongersnood, maar weerhou die versadigende voeding van die Brood van die Ewige Lewe. Daar is dalk niks fout met hulle kerkbywoning nie en hulle is verseker goeie Christelike mense, maar hulle getuienis aan hulle vriende en familie kan met ‘n vraag opgesom word. Die vraag word 4 keer deur Paulus gebruik in  Rom 10:14-15 herhaal: “Hoe kan hulle…?” M.a.w. Hoe kan jou vriende God vind, in Hom glo en tot bekering kom, as jy nie na hulle toe gaan en hulle die evangelie by jou hoor nie? Hoe kan die Heilige Gees hulle tot bekering lei, as hulle nie die Woord van God, wat die Heilige Gees gebruik, uit jou mond hoor en in jou lewe sien nie?   Die sonde van stilswye eindig met die vraag: “Hoe kan hulle… tot bekering kom?” 

William Fay sê dat navorsing toon dat ongelowiges ‘n totaal van 7.6 keer die evangelie moet hoor, voordat hulle ‘n oorgawe maak? Elke keer as jy met ‘n ongelowige praat moet jy bewus wees van die feit dat dit een tree nader is aan die 7.6 keer wat hy of sy dit moet hoor voordat hulle tot oorgawe kom. Sommige bely: “Maar ek het gedink ek moet met elke gesprek iemand tot bekering probeer bring en ek is bang ek faal!” 

Liewe vriend, die Here het jou gevra om getrou te wees om jou geloof met ander te deel. Of jy nou besig is om die saad van die Woord te saai deur ‘n evangeliese gesprek, of besig is om die saadjie wat reeds gesaai is water te gee deur liefde, of jy besig is om die oes af te haal – jy is besig om getrou te wees! Dit is wat God van jou verwag – GETROUHEID! Daarom moet jy elke keer as jy met ‘n mens praat, probeer bepaal of hulle vir die eerste keer die evangelie hoor, en of hulle dit al baie keer gehoor het en gereed is vir bekering en of hulle alreeds tot bekering gekom het. Jy kan dus nie faal nie! As jy die sonde van stilswye pleeg omdat jy bang is om te faal in evangelisasie, dan moet jy die sonde bely en weet dat jou sukses nie is om mense te red nie – dis God se werk! Sukses vir jou is om jou geloof met ander te deel. Klein treëtjies in die begin, met groter treë later. Begin deur te BID vir geleenthede om met mense te praat. Tweedens, BEPLAN wat jy gaan sê – dink aan ‘n vraag oor wat belangrik is in hulle lewens, en hoe die Woord of Jesus ‘n verskil gemaak het. Werk aan jou getuienis van ‘n tyd in jou lewe waar die Here en die Woord jou deurgedra het. Raak dan BESIG met mense deur spontane kommunikasie en volg jou plan.  Dis al! Nie so moeilik as wat jy dink nie? Hoekom bely jy nie die sonde van stilswye en begin vandag getuig nie?

(Vertaal en verwerk uit William Fay se boek: Share Jesus without Fear, The Gideons International, Nashville, Tennessee. 1999)
 

Staan ons nader of onttrek ons?

In sy boek, “Say it with love”, vertel Dr. Howard Hendricks van ‘n antwoord wat ‘n bekende skrywer aan ‘n verslaggewer van die New York Times gegee het op sy vraag: “Wat is fout met ons wêreld?” Haar antwoord was soos volg: “Never before has the world been so desperately asking for answers to crucial questions, and never before has the world been so frantically committed to the idea that no answers are possible.” Daarbenewens het sy ook gesê: “To paraphrase the Bible, the modern attitude is, ‘Father, forgive us, for we know not what we are doing–and please don’t tell us!” Dit is, volgens dr. Hendricks, die tipe gesindheid van die mens en samelewing waarin ons leef en met wie ons die goeie nuus van Jesus Christus se reddingswerk moet deel. Ons lees en hoor van dinge wat ongehoord was ‘n generasie of twee terug, dinge wat mense eens op ‘n tyd nie gedink het moontlik is nie. Dit is ook volgens dr. Hendriks die tipe wêreld waarin die Here ons geplaas het om Sy persoonlike ambassadeurs en verteenwoordigers te wees. En ambassadeurs moet deur middel van kommunikasie kontak maak met hierdie wêreldlinge wat elke dag tussen ons woon en werk.

Dit is egter hartseer dat Christene, as gevolg van verskeie redes, hulleself al hoe meer en op verskillende maniere onttrek (nie wil kommunikeer nie) van hierdie samelewing en in ‘n privaat tipe wêreld kongrueer waar hulle min of geen kontak het met die mense van hierdie generasie nie. Christene is nie gretig of weet nie hoe om die krisisvrae van die wêreld te beantwoord deur kommunikasie nie, maar wil hulleself eerder beskerm van die invloede. Een manier waarop mense onttrek is deur intellektualiteit en ‘n oorbeklemtoning van dogma. Dr. Hendricks sê: “Unfortunately, our greatest asset, the Christian message, sometimes becomes a great liability. In some churches, the Christian message is little more than intellectual. The correct information is thought to automatically make genuine Christians, but Jesus warned: ‘Not every one that saith unto me, Lord, Lord, shall enter into the kingdom of heaven… (Matt. 7:21-23)”.

Nog ‘n manier hoe Christene onttrek van die wêreld is deur die kerk en hulle lewens ‘n beeld te gee van onaantasbaarheid. Dr. Hendricks lewer soos volg kommentaar hieroor: “Another distortion of the message is its enshrinement in a church building. Many churches across the country are repositories of the truth, and it’s as if they had a sign in front which says, ‘HERE WE ARE, YOU LUCKY SINNERS! WELCOME.” M.a.w. kom kry jou weeklikse dosis waarheid eksklusief net by ons. 

Dit is die beeld wat Christene baie keer van hulleself na mense om hulle uitstraal, want as jy met hulle praat oor hulle lewens, dan kry jy die gevoel dit is soos ‘n heiligdom met geen ding uit plek uit nie en jy is maar te gelukkig om met hulle hoogwaardigheid te doen te kry. Maar die evangelie behoort aan alle mense, nie net aan ‘n paar in die kerk nie. Nog ‘n manier waarop die Christen wil onttrek is deur ‘n eiesoortige en private aanbiddingstyl, wat as verdedigingsmeganisme gebruik word teen die invloed van die wêreld. As jy met sommige Christene praat, dan kan jy skaars verstaan wat hulle sê soos wat hulle ‘n aangeleerde Christelike “lingo” gebruik. Paulus het vir die onkundige kerk in Korinte gesê: “Maar in die byeenkoms van die gemeente sal ek liewer vyf verstaanbare woorde praat waaruit ander iets kan leer as tienduisend in ‘n onbekende taal.” As die verhouding van verstaanbare woorde 5 teen 10,000 in die kerk is, wat behoort dit nie teenoor soekende, ongelowige mense te wees nie. Dr. Hendricks som dit alles op deur te sê dat kommunikasie van die boodskap met jou lewe belangrik is. As ons die Goeie Nuus van Jesus wil kommunikeer, dan moet ons buite die intellektuele sone beweeg, buite die hoogwaardige, ek-is-beter-as-die-res  gesindheid en buite die gebruik van eksklusiewe Christen “lingo” beweeg. Ons moet daagliks uitgaan in die wêreld na al die nasies toe, en ons moet die boodskap wat ons so goed ken kommunikeer met liefde, met gevoel en met openhartigheid, terwyl ons vir die toehoorder wys dat Jesus ook my sonde vergewe, ook my gebreke aanvul met Sy genade en my swakheid sterk maak met Sy krag. Onttrek jy of gaan jy nader?

(Vertaal en verwerk uit Howard Hendricks se boek: Say it with love, Victor Books, Wheaton Illinois. 1976)
 

Watter bediening verkies jy?

1 Tim. 4:13 Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.

‘n Bediening wat ons vertel wat ons wíl hoor, of ‘n bediening wat ons vertel wat ons móét hoor? Watter een kies ons? Dit is die vraag waarop David de Bruyn sinspeel in sy artikel Gemeentelike Bediening: Relevant of Bestendig? Oor die algemeen verwag mense dat, as die bediening van die Here die moeite werd wil wees, dit relevant (wat mense wil hoor) moet wees.  Dit lyk dan ook of predikante en Christene bang is om as irrelevant geëtiketteer te word. Die idee is dat, as ‘n bediening buite die bereik bly van die gemiddelde Christen se belangstellingsveld, so ‘n bediening nie daarin sal slaag om te groei of verandering mee te bring nie. Volgens die huidige generasie moet Christenskap op so ‘n manier aangebied word dat die grootste hoeveelheid mense daarby aanklank kan vind.  Met die eerste oogopslag lyk dit prysenswaardig en nie verkeerd nie, maar kyk mooi na wat dit impliseer:  “Christenskap moet aantreklik gemaak word – die hoofdoel is om te konformeer eerder as konfronteer”.  Die doel is ‘n mens-gesentreerde, behoefte gedrewe  bediening en nie ‘n God-gesentreerde, waarheid gerigte bediening nie. Christenskap moet volgens populêre vereistes herverpak word, totdat dit in die guns val van ‘n gehoor wat oorgegee het aan nuwerwetse gesinstrukture, toegeeflike ouerskapstyle,  disfunksionele huwelike en rebelsheid. Relevansie is die nuwe orde.

Eenvoudig gestel: Die kerk verskuif sy fokus van waarheid gerigte Bybelse aanbidding na vermaaklikheid en populêre, “voel-goed” sielkunde. In plaas van om te konfronteer met die waarheid oor rebelsheid, ongehoorsaamheid, liefdeloosheid en wetteloosheid, moet die kerk nou paai, motiveer, die ander pad kyk en oorgee aan sielkundiges, net sodat getalle behou kan word. Mense is opsoek na: Eerstens: Die kerk kan enige vorm van kulturele of populêre metodes aanwend om ‘n gunstige gesindheid in verband met Christenskap te bewerkstellig. Tweedens: Die kerk streef daarna om in voeling met hul post-moderne gehoor te bly.  Derdens:  Die aanbiddingstyl in ‘n kerk moet verander, tradisie verwerp en waarheid en verandering, relevansie en nuwerwetsheid najaag. Hierin lê die ironie - niks is so onvanpas soos gister se modegier nie.  Alle modes verander en is oormôre oudmodies.

In teenstelling is Paulus se woorde aan die jong Timotheus in 2 Tim. 3:14-15  “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.”

'n Bybelse bediening behoort nie ten alle koste relevant te wees of bly nie, maar moet waarheid gerig en bestendig wees. Wat bedoel ons dan met bestendig?  Onveranderlike dinge is dit waarvan God praat en wat Hy doen.  Die Evangelie en die kerk is onveranderlik.  Die volle, geopenbaarde boodskap van God wat in die Bybel onthul word, is onveranderlik.  Ware Bybelse aanbidding is onveranderlik. Dit wat waar, reg, goed, regverdig, rein, lieflik, en lofwaardig is, is onveranderlik en uit die aard van die saak, bestendig. Kom ons stel dit op ‘n ander manier:  ware Christenskap moet daarop gerig wees om die onveranderlike te erken deur die veranderlike daarby aan te pas. As ons huwelike met die Bybelse waarheid gekonfronteer moet word, het ons nie relevansie of gewildheid nodig nie, maar waarheid oor die sonde wat die probleem veroorsaak het. Ons het ‘n bestendige en liefdevolle vermaning nodig om ons na die waarheid uit sonde terug te bring.

Wat kies jy?