Die Bybel gebruik verskeie instrumente om ons perspektief
oor die lewe te vorm. Beproewing is ‘n instrument wat deur God gebruik word om
ons perspektief oor die lewe te vorm. Goddelike openbaring van die Bybel, is ‘n
ander essensiële instrument wat God gebruik om ons perspektief te vorm.
Openbaring oor die skepping vorm my perspektief van waar ek vandaan kom, waar
ek inpas en wat my lewensdoel is. ‘n Nie-Bybelse perspektief beïnvloed die
manier hoe ek na myself kyk en wat my lewensdoel is. Openbaring deur die
wysheidsliteratuur (Psalms, Spreuke, ens.) vorm my perspektief van hoe ek kan
reageer op die dinge wat met my gebeur. Openbaring deur middel van profesie
vorm my perspektief van die geskiedenis en die toekoms. ‘n Mens kan God se perspektief
gebruik om sin te maak van alles en sy lewensdoel te verstaan.
As deel van die spesiale profetiese openbaring
van die Woord van God, vorm die profetiese boeke (groot en klein profete) in
die Bybel ons perspektief van God en Sy invloed in wêreldgebeure. Met ander
woorde, as ons ‘n boek soos Daniel byvoorbeeld sal lees, moet een van die
resultate wees, dat ons meer sin kan maak van ons eie verlede, hede en toekoms.
Omdat God aan ons die spesiale profetiese openbaring van die Woord het in boeke
soos Daniel en ander gegee het, kan ons die nuusberigte op CNN beter verstaan,
of in perspektief sien; kan ons besluite van die reserwebank beter verstaan, of
in perspektief sien.
Maar dit bly nie net by die “sien” deel van perspektief nie, daar
is ook ‘n “doen” deel van perspektief. Dit is een ding om dinge in die regte
perspektief te sien, maar totaal ‘n ander om dieselfde dinge met die regte
perspektief te doen! Dit is die waarde van openbarende perspektief van die
Woord – dit gee jou ‘n geestelike perspektief om dinge deur God se oë te sien, maar
dit gee jou ook die motivering om in ooreenstemming met God se perspektief op
te tree of te reageer. God raak nie ontsteld of verbouereerd nie en oorreageer nie
deur wisselvallige en irrasionele besluite te neem of emosioneel onstabiel raak
nie (algemene angsversteuring). Hierdie karakter is ook vir my beskore om so te
kan wees. Dit is immers een van die voorregte om deur God gered en geseënd te
wees.
Nog ‘n manier hoe God ons Christene vandag
perspektief gee is deur die leerstellings van die Nuwe Verbond. Die Nuwe
Verbond is onvoorwaardelike beloftes wat God met Israel, hulle wat die fisiese
nasate van Abraham in die vlees is, gemaak het en met hulle alleen. Die
ewigdurendheid van die volk Israel en hulle toekomstige herstel tot hulle land
is ‘n essensiële beginsel t.o.v. Israel as die tweede party in die sluiting van
die nuwe verbond en die ontvanger van die onvoorwaardelike beloftes daarin
gemaak. Die partye in die nuwe verbond is dus God en Sy uitverkore volk Israel.
Het nie-Joodse mense (soos ek en jy) dan geen reg op die beloftes en seëninge
van God nie?
Die Seun van God, Jesus Christus, het opgetree
as Tussenganger tussen God en die mens (1 Tim. 2:5) en het as die Waarmaker van
die Verbond of Testament opgetree om dit met Sy bloed te bekragtig deur Sy dood
aan die kruis van Golgota (Luk. 22:20;1 Kor. 11:25; Heb. 8:6; 9:15;
12:24).
Maar ons almal weet alte goed dat Israel hulle
Messias verwerp en doodgemaak het en dat hulle tot vandag toe vêr van God af in
totale ongeloof leef. Hulle het as die verbondsvolk van God tot nou toe gefaal
om toe te tree tot die beloftes as die regmatige bevoordeeldes van die Nuwe
Verbond. Hierdie seëning soos deur Jeremia en ander vooruit gewys is en wat aan
hulle deur die Messias se eerste koms aangebied is deur hulle verwerp (Matt.
12:22-45). Deur Israel se hardheid van hart, het God die klousules van die Nuwe
Verbond oopgestel vir die Heidene (nie-Jode) om deel daaraan te kry.
Die vraag is dan: “Het God miskien sy volk
verstoot?” (Rom. 11:1). Met ander woorde, het Israel hulle plek in die Nuwe
Verbond verloor? “Nee, stellig nie!” Is Paulus se antwoord onomwonde! “Want ek
wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat
julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het
totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos
geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob
afwend; en dit is van my kant die
verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.” (Rom. 11:25-27)
Onkunde oor die nuwe verbond, sê Paulus, kan
lei tot eiewysheid! Die waarskuwing is dat as ons nie die waarheid oor Israel
se regmatige plek as die bevoordeeldes van die Nuwe Verbond verstaan nie ons
miskien sal begin dink dat God ons verruil het vir hulle. Ons sal dan begin om
onsself in hulle plek te plaas en onsself begin aanstel as hulle wat eintlik
die seëninge moet kry wat wederregtelik aan Israel behoort. Verskeie
godsdienstige groepe in die geskiedenis het hulleself gevorm rondom ‘n
wanbegrip van hierdie waarheid. So het die Verbondsteologie byvoorbeeld geleer,
dat die Kerk nou geestelike Israel is en as te ware Israel vervang het as die
volk van God. Die hedendaagse Messiaanse beweging leer ook byvoorbeeld dat die
kerk die Joodse godsdienstig kulturele gebruik en tradisies moet insluit of
omarm in hulle aanbidding en liturgie (diensordes). ‘n Derde groepering is die
Israelisme beweging wat leer dat net ‘n sekere groep mense die ware Israel is
(Britse Israelisme kies die Britte en die Boere Israelisme kies die boere) en
dat deur geboortereg, bloedlyn nasate en die regte stamboom slegs húlle
eksklusief deel is van die tien stamme van Israel wat eens verlore was, maar
nou hulle regmatige plek moet inneem!
Die Bybels stel dit tog duidelik dat Israel
nie deur God verstoot is nie, en dit beteken immers dat God NIE vir Israel met
‘n ander bevolkingsgroep of ‘n paar “uitverkore” mense vervang het nie. Aan die
hand van Romeine 11 en Galasiërs 3 kan ons duidelik leer dat die Nuwe Verbond
nie totaal vervul sal wees as Israel – die nageslag van Abraham in die vlees –
nie die beloftes van die Nuwe Verbond letterlik deur redding ontvang het en
deelagtig geword het nie.