Woensdag 16 Julie 2014

Maak die regte keuse!

deur Marc Blackwell sr. 
Ons lewens bestaan uit ‘n reeks van besluite. Wanneer ons moet opstaan in die oggend en óf ons moet opstaan? Watter werksaanbod om te aanvaar? Wat reg is om te doen of wat skadelik sal wees? Hoe kan ons weet of ons goeie en wyse besluite neem? Dit is ‘n moeilike vraag, omdat die keuses wat jy vandag maak jou opsies en geleenthede in die toekoms beïnvloed. As jy goeie besluite neem en die regte keuses maak, sal dit tot verdere sukses lei.  As jy slegte of verkeerde keuses maak, sal dit jou lewe negatief beïnvloed en jou opsies in die toekoms beperk.  As Salomon sê: “Moenie jou mooiste jare verspil en jou beste jare aan ‘n hartelose mens gee nie.” (Spr. 5:9), dan moet ons leer om goeie besluite te neem.
Daar is vyf maniere om jou keuses te toets.
1. Die Ideaal Toets:  Strook jou besluit met die waarheid in die Bybel?  Is die Bybel die hoogste outoriteit in jou lewe? Daar is net twee tipes keuses in hierdie lewe rakende outoriteit:  ‘n wêreldse (aardse) of Woord-gebaseerde (hemelse) keuse (Jak. 3:13-18).  Die wêreld se opinie oor reg en verkeerd verander gedurig en eindig in verkeerde dinge, maar God se Woord verander nooit.  Jy hoef ook nie al die “hoekoms” beantwoord te hê om te verstaan wat God se wil is nie.  God is God en jy nie!  Hy is die Skepper en ons is Sy geskape wesens. God is nie in die hemel besig om reëls te maak om ons ongelukkig te maak nie.  Hy het ons lief en gee leiding tot ons voordeel en beskerming.  As God iets sê, moet ek dit glo en aanvaar en daarmee is die saak afgehandel – of ek dit nou wíl glo of nie.
2. Die Integriteit Toets:  Kan almal in my lewe daarvan weet?  Wat sal Jesus daarvan sê? Slegte keuses lei altyd tot geheimsinnigheid.  Integriteit is wanneer jou privaat en openbare lewe dieselfde standaarde weerspieël.  “Wie opreg leef, leef sonder vrees; wie krom paaie loop, word uitgevind” (Spr. 10:9).  Vra jouself of jy jou keuse met ‘n skoon gewete kan uitoefen.  “As iemand iets as onrein beskou - vir hom is dit dan onrein” (Rom. 14:14).  As jy twyfel oor wat jy moet doen en nie vrymoedigheid voel om dit met ander te deel nie, moet dit liefs nie doen nie!
3. Die Goed-Beter-Beste Toets:  Sal dit van my ‘n beter mens maak?  Baie keuses in die lewe is nie noodwendig oor goed of sleg, reg of verkeerd nie, maar wel of dit goed, beter of beste is.  Ons moet altyd streef om te weet en te doen wat die beste is - “Alles is geoorloof.  Ja, maar alles is nie heilsaam nie. Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie.” (1 Kor. 10:23)  Daar is baie “goeie” dinge om te doen, maar nie alles is nuttig nie; wees dus versigtig met jou keuses. Doen genoeg navorsing.
4. Die Verslawing Toets:  Kan dit wat ek kies verslawend raak?  Dit maak nie saak hoe onskuldig iets voorkom, of hoe gewild dit is nie, as dit kan veroorsaak dat ek my selfbeheersing of getuienis verloor, moet ek dit ten alles koste vermy.  “Alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers (verslaaf) nie.” (1 Kor. 6:12) As dit my lewe gaan oorheers (weghou van ander dinge), dan word dit vir my ‘n afgod.  Dit kan vriende, dobbel, drank, werk, stokperdjies, ‘n sportsoort, mense, geldmaak, internet of musiek wees; dit alles kan my lewe oorheers deur verslawing. Nog ‘n manier om te toets of iets my lewe oorheers is deur die vraag: Waaraan dink ek die meeste?
5. Die Invloed Toets:  Sal dit iemand anders benadeel?  Omdat ons in ‘n baie selfsugtige samelewing leef, wil God hê dat ons ander in ag moet neem as ons keuses maak. Wie sal ek daardeur seer maak s my keuse misluk?  “Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee. Neem julle voor om niks te doen wat jou broer aanstoot kan gee of tot ‘n val kan bring nie.” (Rom. 14:12,13)
Daar is niks wat ons karakter so sal bou as die minder belangrike keuses wat ons herhaaldelik moet maak as ons besluite moet neem nie. Die belangrike besluite in ons lewens wys weer watter keuses ons gemaak het en dit openbaar so ons karakter. Laastens kom dit hierop neer:  “Wat sou Jesus doen”?  Besluit nou om keuses te maak wat getuig:  “Ek het dit op God se manier gedoen.”