Woensdag 17 Desember 2014

Jesus, die WAARDIGE Heiland

        Met Kersliggies wat oral flikker en bekende liedere wat oral weerklink, word ons herinner dat die jaar 2014 einde se kant toe staan. Ons word ook herinner dat God Sy Seun vir ons gestuur het en so bemoedig Hy ons met Sy wonderlike beloftes van verlossing! Paulus verklaar in 2 Kor. 1:20:  “...hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” Al die wonderlike beloftes van God word ons deel, nie deur ‘n onpersoonlike medium nie, maar deur ons eie liefdevolle en persoonlike Heiland, Jesus Christus. Die feit dat God al sy beloftes deur Jesus aan ons oordra, is in lyn met die goddelike werkswyse.
        Die Bybel is ryk aan grafiese beelde van Jesus en sy persoonlike bediening aan ons. Jesus is bv. ons Herder! En nie sommer enige Herder nie, die GOEIE Herder wat my eie persoonlike Herder is (Ps. 23:1), wat opofferend Sy lewe vir my aflê om my te red van die wolf, te versorg in my behoeftes en om my te lei deur die dal van doodskaduwee (Joh. 10:11-16). Die goeie Herder is ook die GROOT Herder, wat intree vir die skape om die vrede tussen hulle en God te behou (Heb.13:20-2).  Psalm 23 beskryf so mooi die werk van die  Groot Herder as hy sê dat niks ons sal ontbreek nie. Of ek nou rus nodig het, dors is, verkwik wil word, leiding kort, kameraadskap soek deur die dal van doodskaduwee, vertroos wil word, voeding benodig,  smag na oorwinning, volkome vrede en vreugde wil hê, volmaakte voorsiening verlang en ‘n ewige tuiste soek, dit alles sal Hy voorsien tot en met die dag as hy weer kom as die Opperherder (1 Pet. 5:4) om ons te beloon.  Tot dan, wanneer Jesus ons kom haal, sê Jesaja 40:11  “Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.”, en Jesaja 49:10 sê “hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water.”
         Dit is moeilik soms om te besluit watter beeld van Jesus die beste is, want die beeld van die goeie, liefdevolle en ontfermende Herder van die skape word so mooi aangevul met die beeld van Jesus as die Rots, die Steunpilaar (1 Kor. 10:4) waarop Israel kon staatmaak in die woestyn. Dawid besing die Here Jesus in 2 Samuel 22:2,3,7 as hy sê: “Die Here is my rots, my vesting en my Redder; my God is my rots, by wie ek skuil.” (Ps. 18:2,31; 23:3; 61:3; 62:2,3; 78:20; verw.. Deut. 32) Om dit alles te kroon, het Jesus verklaar dat Hy self die Rots, die rotsvaste fondasie van ons geestelike lewens, die onbeweegbare hoeksteen en geestelike struktuur van die kerk sal wees.
         Liewe vriende, die werk van die Here sal voortgaan. Jesaja sê dat “daar ... ‘n takkie (sal) uitspruit uit die stomp van Isai en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra...” (Jes. 11:1). En Sagaria sê: “Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe.” (Sag. 8:12)  Jesus self het gesê: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.” (Luk. 12:32) 
        Baie mense kyk na ‘n spruitjie  of na ‘n klein kuddetjie (gemeente) en sien swakheid en kwesbaarheid, maar God tree nie op volgens menslike prestasie en verwagtings nie. Die vrug wat op Sy werk sal voortspruit is nie iets wat ons kan voorspel, manipuleer of verydel nie. Wat ons wel weet, is dat ons hierdie tyd van die jaar, met Kerstyd, onsself weer moet herinner aan wat Jesaja 9:5 sê van ons Here Jesus: “Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterkte God, Ewige Vader, Vredevors.”

        Mag ons in hierdie tyd van vreugde en opwinding rondom die geboorte van Jesus, nie dink aan ons eie swakhede nie, maar  dink dat Jesus Christus ons Herder is, ons Steunpilaar, die Spruit van die Here wat verseker sal uitloop op die bestemde tyd en dat Hy dié Leidsman en Voleinder van ons geloof is. God is volwaardig goed!