Donderdag 05 Junie 2014

Perspektief

Die Bybel gebruik verskeie instrumente om ons perspektief oor die lewe te vorm. Beproewing is ‘n instrument wat deur God gebruik word om ons perspektief oor die lewe te vorm. Goddelike openbaring van die Bybel, is ‘n ander essensiële instrument wat God gebruik om ons perspektief te vorm. Openbaring oor die skepping vorm my perspektief van waar ek vandaan kom, waar ek inpas en wat my lewensdoel is. ‘n Nie-Bybelse perspektief beïnvloed die manier hoe ek na myself kyk en wat my lewensdoel is. Openbaring deur die wysheidsliteratuur (Psalms, Spreuke, ens.) vorm my perspektief van hoe ek kan reageer op die dinge wat met my gebeur. Openbaring deur middel van profesie vorm my perspektief van die geskiedenis en die toekoms. ‘n Mens kan God se perspektief gebruik om sin te maak van alles en sy lewensdoel te verstaan.

As deel van die spesiale profetiese openbaring van die Woord van God, vorm die profetiese boeke (groot en klein profete) in die Bybel ons perspektief van God en Sy invloed in wêreldgebeure. Met ander woorde, as ons ‘n boek soos Daniel byvoorbeeld sal lees, moet een van die resultate wees, dat ons meer sin kan maak van ons eie verlede, hede en toekoms. Omdat God aan ons die spesiale profetiese openbaring van die Woord het in boeke soos Daniel en ander gegee het, kan ons die nuusberigte op CNN beter verstaan, of in perspektief sien; kan ons besluite van die reserwebank beter verstaan, of in perspektief sien.  

Maar dit bly nie net  by die “sien” deel van perspektief nie, daar is ook ‘n “doen” deel van perspektief. Dit is een ding om dinge in die regte perspektief te sien, maar totaal ‘n ander om dieselfde dinge met die regte perspektief te doen! Dit is die waarde van openbarende perspektief van die Woord – dit gee jou ‘n geestelike perspektief om dinge deur God se oë te sien, maar dit gee jou ook die motivering om in ooreenstemming met God se perspektief op te tree of te reageer. God raak nie ontsteld of verbouereerd nie en oorreageer nie deur wisselvallige en irrasionele besluite te neem of emosioneel onstabiel raak nie (algemene angsversteuring). Hierdie karakter is ook vir my beskore om so te kan wees. Dit is immers een van die voorregte om deur God gered en geseënd te wees.

Nog ‘n manier hoe God ons Christene vandag perspektief gee is deur die leerstellings van die Nuwe Verbond. Die Nuwe Verbond is onvoorwaardelike beloftes wat God met Israel, hulle wat die fisiese nasate van Abraham in die vlees is, gemaak het en met hulle alleen. Die ewigdurendheid van die volk Israel en hulle toekomstige herstel tot hulle land is ‘n essensiële beginsel t.o.v. Israel as die tweede party in die sluiting van die nuwe verbond en die ontvanger van die onvoorwaardelike beloftes daarin gemaak. Die partye in die nuwe verbond is dus God en Sy uitverkore volk Israel. Het nie-Joodse mense (soos ek en jy) dan geen reg op die beloftes en seëninge van God nie?

Die Seun van God, Jesus Christus, het opgetree as Tussenganger tussen God en die mens (1 Tim. 2:5) en het as die Waarmaker van die Verbond of Testament opgetree om dit met Sy bloed te bekragtig deur Sy dood aan die kruis van Golgota (Luk. 22:20;1 Kor. 11:25; Heb. 8:6; 9:15; 12:24). 
Maar ons almal weet alte goed dat Israel hulle Messias verwerp en doodgemaak het en dat hulle tot vandag toe vêr van God af in totale ongeloof leef. Hulle het as die verbondsvolk van God tot nou toe gefaal om toe te tree tot die beloftes as die regmatige bevoordeeldes van die Nuwe Verbond. Hierdie seëning soos deur Jeremia en ander vooruit gewys is en wat aan hulle deur die Messias se eerste koms aangebied is deur hulle verwerp (Matt. 12:22-45). Deur Israel se hardheid van hart, het God die klousules van die Nuwe Verbond oopgestel vir die Heidene (nie-Jode) om deel daaraan te kry.   

Die vraag is dan: “Het God miskien sy volk verstoot?” (Rom. 11:1). Met ander woorde, het Israel hulle plek in die Nuwe Verbond verloor? “Nee, stellig nie!” Is Paulus se antwoord onomwonde! “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;  en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;  en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.” (Rom. 11:25-27) 

Onkunde oor die nuwe verbond, sê Paulus, kan lei tot eiewysheid! Die waarskuwing is dat as ons nie die waarheid oor Israel se regmatige plek as die bevoordeeldes van die Nuwe Verbond verstaan nie ons miskien sal begin dink dat God ons verruil het vir hulle. Ons sal dan begin om onsself in hulle plek te plaas en onsself begin aanstel as hulle wat eintlik die seëninge moet kry wat wederregtelik aan Israel behoort. Verskeie godsdienstige groepe in die geskiedenis het hulleself gevorm rondom ‘n wanbegrip van hierdie waarheid. So het die Verbondsteologie byvoorbeeld geleer, dat die Kerk nou geestelike Israel is en as te ware Israel vervang het as die volk van God. Die hedendaagse Messiaanse beweging leer ook byvoorbeeld dat die kerk die Joodse godsdienstig kulturele gebruik en tradisies moet insluit of omarm in hulle aanbidding en liturgie (diensordes). ‘n Derde groepering is die Israelisme beweging wat leer dat net ‘n sekere groep mense die ware Israel is (Britse Israelisme kies die Britte en die Boere Israelisme kies die boere) en dat deur geboortereg, bloedlyn nasate en die regte stamboom slegs húlle eksklusief deel is van die tien stamme van Israel wat eens verlore was, maar nou hulle regmatige plek moet inneem!


Die Bybels stel dit tog duidelik dat Israel nie deur God verstoot is nie, en dit beteken immers dat God NIE vir Israel met ‘n ander bevolkingsgroep of ‘n paar “uitverkore” mense vervang het nie. Aan die hand van Romeine 11 en Galasiërs 3 kan ons duidelik leer dat die Nuwe Verbond nie totaal vervul sal wees as Israel – die nageslag van Abraham in die vlees – nie die beloftes van die Nuwe Verbond letterlik deur redding ontvang het en deelagtig geword het nie.