Woensdag 24 Februarie 2016

God se Skaduwee

“Bewaar my soos ‘n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels…” Ps. 17:8

Ek het nog altyd 'n liefde vir die gedeeltes in die Bybel wat God beskryf in terme wat ek as feilbare mens dit kan verstaan. Skrifgedeeltes soos Psalm 17:8 en ander wat God se teenwoordigheid beskryf as sy "skaduwee". Hierdie volgende kort studie behoort jou te bemoedig.

Daar is twaalf verwysings in die Bybel na God se "skaduwee", wat beskrywend is van Sy onsigbare, maar baie werklike, begeleidende teenwoordigheid. Die verwysing in ons teks hierbo is die eerste, en daar is drie ander verwysings na dieselfde pragtige metafoor - die "skaduwee" van die “vleuels” van God. Psalm 36: 7 verseker ons verder dat die menskinders kan "skuil onder die skaduwee van u vleuels," en Psalm 57: 1 verklaar dat ons skuiling daar kan neem "totdat die onheil verbygegaan het," en daar kan ons ons "verheug" (Ps. 63: 7).

Die Here se teenwoordigheid is volgens Jesaja 32: 2, soos "die skaduwee van 'n swaar rots in 'n land wat versmag". Dieselfde profeet haal aan wat God gesê het "Ek het jou in die skaduwee van my hand verberg" (Jesaja 51:16; 49:2).

Dan is daar die wonderlike belofte van Psalm 91:1 “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige". Hy is dan ook 'n skaduwee teen die hitte, want die geblaas van die tiranne is soos 'n stortreën teen 'n muur en die skaduwee van 'n wolk teen die hitte (Jesaja 25: 4-5). Net so sal Hy  "‘n afdak wees vir ‘n skaduwee bedags teen die hitte en vir ‘n skuilplek en toevlug teen die stortbui en die reën.”  (Jesaja 4: 6).

Die laaste verwysing praat van "die gesalfde van die Here" (dit wil sê, van die Messias, Jesus Christus), “onder wie se skaduwee ons gedink het om te lewe onder die nasies.” (Klaagliedere 4:20). Dit is alles deel van "die grootste en kosbare beloftes" (2 Petrus 1: 4) van God. Verberg onder die skaduwee van God, is inderdaad 'n goeie en veilige plek om te wees in tye soos hierdie.


(Vertaal uit die artikel God’s Shadow deur Henry M. Morris, Ph.D.  http://www.icr.org/article/9124)