Sondag 13 Maart 2016

Hoe kan ons meer mense bereik!

Dit is nie meer so ’n maklike taak om die Afrikaanse kerkgemeenskap van ons dag te beskryf nie. Die gemiddelde Afrikaanse Geloofsgemeenskap in Suid-Afrika bestaan hoofsaaklik uit: 1.) Een deel Christene wat nog in die tradisionele gereformeerde susterkerke is, maar wil weet of daar 'n alternatief is; 2.) , ander deel meer “verligte” Christene wat die tradisionele kerke verlaat het en uit vrye wil die charismatiese of ontluikende kerke gekies het, omdat dit bleik die enigste ander opsie te wees (nuwe hervorming, kruiskerk, internet kerke); 3.) nog 'n deel Christene wat hulleself in huiskerke of groterige gebedsgroepe gevorm het en graag die “groot” doop wil ondergaan en dan laastens, maar nie die minste, 4.) Christene en gekerkte ongelowiges wat besluit het om nie meer kerk by te woon  nie, en basies glo dat daar nie enige waarde meer daarin sien nie.

Afrikaans as ’n taalmedium is ook onder druk op alle vlakke van ons samelewing en daarmee saam is daar ’n groeiende aantal Afrikaanssprekendes wat Engelse kerk verkies en dit as werks- en aanbiddingstaal verkies. Die selfs groter getal jongmense wat besluit het om hulle ouers se geestelike nalatenskap vaarwel toe te roep en Sondae te gebruik vir sport, ontspanning en onafgehandelde huistake, is ook ’n interessante tendens. Moet ook nie die groot hoeveelheid Afrikaanssprekende jongmense wat deur middel van werksgeleenthede ’n “beter” heenkome elders in die buiteland gaan soek.  Die enigste gevolgtrekking wat ons hieruit kan maak, is dat die Afrikaanse geloofsgemeenskap aan die kwyn is. Daar is baie min onafhanklike Baptiste/Bybel kerke wat suiwer Afrikaans as medium gebruik. Hierdie nie-denominasie gerigte of onafhanklike kerke is baie klein in getal en nie kerke van voorkeur nie.  

Die rede hiervoor is dat daar baie min motivering is vir mense om die kerke waarin hulle ouers was te verlaat, al is daar min motivering om wel na hulle ouers se kerk toe te gaan. Dit is baie moeilik vir mense wat in bv. in een van die gereformeerde Susterkerke grootgeword het om te besluit om 'n Baptiste kerk by te woon. Daarbenewens is pastorale leierskap ‘n uitdaging in die kleiner kerke, omdat die jong Afrikaanse mans wat potensiaal wys vir gemeentelike leierskap eerder hulleself beskikbaar stel om oorsee te gaan of in sendingorganisasies betrokke te raak wat hulle sal wegneem van Suid-Afrika of die gebiede wat hulle ken.

Wat wel positief is, is dat daar tog 'n aansienlike aantal Christene in die groter geloofsgemeenskappe is wat steeds die suiwer uitleg van die Skrif wil navolg en wil bly by die waarheid van die woord en hulle kinders so grootmaak in hulle eie moedertaal. Hierdie groepies gelowiges is regoor die land in al ons dorpe en stede en op soek na ’n Skrif-suiwer gemeente. Hulle soek Sondae na iets meer as net die program van die tradisionele kerk en maak gebruik van materiaal wat deur verskeie bedienings op die Web geplaas word, asook die DSTV kerk ens. Hierdie Christen is meer wêreldwys en is ingelig oor ’n wye verskeidenheid van onderwerpe as wat hulle ouers was. Hulle is geïnteresseerd in die praatjies wat bekende persoonlikhede lewer oor alledaagse, relevante onderwerpe. Hulle wil tog ook die tradisionele familiewaardes behou en is nie te vinde vir die nuwerwetse en vreemde idees wat ander kulture en bedienings inbring nie. 

Het ons die potensiaal om mense in die diverse plaaslike gemeenskappe te bevriend, te bereik met die evangelie en te bedien met die Woord? Daar sal altyd 'n behoefte wees vir persoonlike kontak met mense. Volge 'n paar maklike stappe: BEVRIEND IEMAND – Maak ‘n vriend met vreemdelinge. BEARBEI HOM/HAAR – Maak tyd vir jou nuwe vriende. BETREK HOM/HAAR – Nooi hulle saam na jou Groeigroep of kerkbyeenkoms. BEREIK HULLE –  Praat met hulle oor die Here Jesus.  


Sondag 06 Maart 2016

Hoe sal Christenskap oorleef?

Is jy onseker oor hoe die werk van God deur middel van Christenskap op aarde gaan uitbrei en oorleef? Die Groot Opdrag, om mense te bereik met die evangelie, is die antwoord! Nie almal van ons sien onsself egter as voorbrand evangeliste nie, en loop dalk rond met skuldgevoelens wat ons weerhou om betrokke te raak. Ons sien onsself nie as goeie verkoopsmanne of vroue nie en is skugter om die eerste stap te neem. Baie van ons pogings het dalk al misluk en moontlike onoorkombare hindernisse vir ons in die pad na spontane uitreik geplaas.

Johannes, die evangelis, gee ons raad hierin: “En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees.  Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai, en ‘n ander wat maai. Ek het julle gestuur om te maai waar julle nie aan gewerk het nie. Ander het gewerk, en julle het in hulle arbeid ingegaan.”  (Joh. 4:36-38) Op grond van hierdie waarheid kan ons die eenmalige poging wat oes-ten-alle-koste behels, tot ‘n meerfasige proses van saai EN oes aanpas. Kinders wat in Christen huise grootword het en later tot redding gekom het, is ‘n voorbeeld van ‘n proses-gebaseerde voorbereiding van die hart vir die ontvangs van die evangelie. 
   
Onthou, dit is die werk van die Heilige Gees om mense se harte waarlik voor te berei deur sonde oortuiging en waardering van God, maar die Heilige Gees gebruik beide die Woord en die goeie getuienis in Christelike vriendskappe wat goud werd is.  ‘n Boer kies nie bv. nie net ‘n stuk aarde en begin daarop die plant nie. Die grond is te hard en moet gebreek word om sag te wees, anders sal daar geen saad kan ontkiem nie. Die saai van die saad volg hierop en die nasorg van die lande en gesaaides is net so belangrik om ‘n goeie oes te verseker. Kultivering van die hart deur vriendskappe en sosiale interaksie, die saai van die evangelie saad deur goed-geplaaste geestelike gesprekke en die oes van die geestelike vrug deur ‘n oproep tot bekering – dit is alles die werk van die evangelis en dissipelmaker, onder leiding van die Heilige Gees. Al hierdie aktiwiteite neem tyd. Die grootste vraag wat jy jouself in gebed dus moet afvra is, watter vriendskappe het ek gekultiveer in my ongeredde vriende se lewens?  Watter mense se harte is ontvanklik genoeg vir die saad van  die evangelie, dat ek met hulle ‘n geestelike gesprek kan hê? Of dalk is al hierdie dinge al gedoen en die vrug is al ryp en moet afgeoes word deur iemand tot bekering te lei? 

Die opwinding is dat ek en jy betrokke kan raak by die mees belangrike saak wat God nog ooit vir die mens gegee het om in Sy Naam te behartig. Moenie bang wees nie, maar begin met vriendskappe en vriendelike, geestelike gesprekke en hou in gedagte dat daar ander is wat jou kan help.   

Donderdag 03 Maart 2016

Ons Gewete - Deel 2

Ons gaan voort met ons bespreking oor die gewete

Tweedens, word die gewete elke keer uitgebeeld as 'n "getuienis" van iets anders  (Rom. 2:15; 9: 1; 2 Kor. 1:12; 4:2; 5:11). Die gewete is nie 'n onafhanklike gesag wat wette kan maak en afdwing nie. Die gewete is bloot ‘n ooggetuie wat reageer op basis van die getuienis wat reeds bestaan. Die gewete bepaal nie wat werklik reg of verkeerd is nie; maar lewer bloot getuienis op grond van die waardestelsel wat reeds in 'n persoon teenwoordig is oor wat reg of verkeerd is. In hierdie sin, is die gewete nie 'n gids nie, maar moet eerder gelei word deur 'n deeglik ontwikkelde waardestelsel.

Derdens, is die gewete 'n dienaar van die mens se waardestelsel. 'n Ontleding van 1 Korintiërs 8,10 lig hierdie beginsel uit. Na gelang van die konteks van 1 Korintiërs, is 'n swak gewete een wat optree sonder voldoende Bybelse kennis met betrekking tot die vleis wat aan afgode geoffer word. Dit wil sê, die gewete reageer op grond van 'n swak waardestelsel en daarom lei dit tot skuldgevoelens. Die sterk of meer volwasse gelowige het 'n behoorlike kennisbasis en is dus vry van skuld. In Romeine 14 word "kennis" byna elke keer gebruik as 'n plaasvervanger vir die gewete.  Paulus se lering in 1 Kor. 10 rakende die rol van die gewete beteken dat die finale sê nie by ons gewetes lê nie, maar by die waarheid wat uitspraak lewer oor dit wat tot stigting van die gemeente en tot verheerliking van God is.

Die volgende aanhaling beskryf dit goed:
“Paul does protect the function of conscience in weak believers of 1 Corinthians, but not because they are correct or because their views should be forever tolerated. If the strong were to force the weak to conform against their values (albeit wrong), they would thereby destroy a process of conviction God created so society could police itself. The solution is to address the foundational values. As the value set is informed and changed, conscience will follow. Herein is a needful principle for the Christian community. While a person's judgment may be wrong in light of a biblically enlightened worldview, he or she must be given correct information and the opportunity to pursue maturity without oppressive external manipulation. This is the way of love (cf. 1 Corinthians 8:1-3 ). On the other hand, the classic question, "How long do you put up with the weak?" is easily answered by contextual implication. You work with their weakness until they have had the opportunity to learn the correct way and it becomes a new conviction for them. If they refuse to learn and mature, then they have shifted from the category of weak to belligerent and thereby come under new rules of engagement.”


Gevolgtrekking. Ons gewetes is ‘n deel van ons eie self-bewustheid en gee aanleiding tot die gevoelens van ongemak as ons oortree en/of die gevoel van tevredenheid as ons "voel" asof ons die norme en waardes wat ons erken en toegepas of nagekom het. Die gewete is nie ‘n stem van buite nie, maar 'n innerlike stem wat die mense oor beskik om homself te beoordeel en geskied op grond van dit wat die Skepper voorsien om die skepping onder beheer te hou.

Ons Gewete - Deel 1

Gewete Grieks: suneidesis; Engels: conscience

Ons gewete is 'n belangrike deel van ons menswees. Dit vorm deel van ons innerlike self-bewustheid. Die gewete is ‘n onlosmaaklike deel van die innerlike rasionele denke van die mens. Die gewete maak voorsiening vir ‘n kritiese innerlike beoordeling van ons optrede en gesindheid en lewer getuienis van die norme en waardes wat ons erken en uitleef.

Die komplekse aard van die waardes waarmee ons gewetes te doen het, sluit nie net ons eie waardestelsel in nie, maar ook die hele reeks van waardes waaraan ons tydens ons lewensjare blootgestel word. Gevolglik is daar in ons gedagtes as ons oor dinge wat gebeur het nadink, 'n innerlike gevoel dat ons ‘n stryd stry teen iets. Die getuienis van die gewete maak sy teenwoordigheid bekend deur geestelike angs en skuldgevoelens te weeg te bring, veral wanneer ons in stryd is met die waardes wat ons reeds erken en toepas. Terselfdertyd, bied die gewete ook 'n goeie gevoel van bevrediging en tevredenheid wanneer ons besef dat ons optrede en gesindheid in lyn is met ons waardestelsel.

Daar is geen Hebreeuse term in die Ou Testament, wat 'n taalkundige ekwivalent vir die klassieke Griekse term suneidesis is nie. In die Nuwe Testament kom suneidesis [Johannes 8:9) ongeveer dertig keer voor. Vervolgens gaan ons kyk wat die Nuwe Testament ons kan leer oor ons gewete. 'n Tematiese oorsig van die gebruik van suneidesis [συνείδησις] in die Nuwe Testament bied drie hoofpunte:

Eerstens, die gewete is 'n God-gegewe vermoë wat die mens gebore is mee en word gebruik om sy optrede te evalueer of te beoordeel (1 Kor. 4: 4; Rom. 2: 14-15). In 1 Korintiërs 4: 4 verklaar Paulus dat hy nie veel waarde heg aan ander mense of selfs sy eie beoordeling van sy bediening nie. Hy is egter meer gesteld op die Here se beoordeling van sy bediening. Die gewete is dus die innerlike (siel) funksie van evaluering en beoordeling van optrede.


(lees verder in deel 2)