Terwyl goeie kommunikasie opbou en bemoedig, kan swak kommunikasie lei
tot onopgeloste konflik, die oordrag van verkeerde idees, misverstande en wanopvattings
floreer. Swak kommunikasie kan wyse besluite verydel, eenheid belemmer,
interpersoonlike probleme vermeerder, ontevredenheid en frustrasie ontwikkel.
Dit kan lei tot die opbreek van verhoudings en min geestelike hulp is gewoonlik
die gevolg.
Die Bybelse se eienskappe van goeie kommunikasie skets natuurlik ‘n beeld
van ‘n mens wat ons aan Jesus laat dink. As ons kommunikeer moet ons eerstens in
liefde die waarheid praat (Ef. 4:15) en nie halwe waarhede kwytraak nie. As dit
ons gewoonte is om deur halwe waarhede, wit leuens, insinuasies of stilstuipe ons
punt te maak, moet ons onthou dat ons lede is van dieselfde liggaam en mekaar
se beste belange op die hart moet dra (Ef. 4:25). Sekere mense het hulle swak
manier van kommunikeer by hulle pa of ma aangeleer en dink dit is iets om op
trots te wees om met uitdrukkinglose gesigte na jou te staar. Ons moet natuurlik ons styl van kommunikasie by Jesus aanleer.
As ons wil kommunikeer, moet ons tweedens daarvan bewus wees dat ons
sal wil reageer op ongeregtighede. As ons ontsteld raak, sê die Bybel, moet ons
nie dat dit oorgaan in woede, haatspraak of wraakneming nie (Ef. 4:26), want
daardeur sal ons die duiwel ‘n plek in ons verhouding gee (Ef. 4:27). Kragwoorde
word deur sommige gesien as ‘n bewys van sterk karakter of leierskap, maar dit
is volgens die Bybel vuil taal en nie opbouend nie (Ef. 4:29).
‘n Derde area van kommunikasie is ons reaksie teenoor die nuus wat
ons van ander kry. As mense nuus of boodskappe aan ons oordra van iemand anders,
dan is ons geneig om sinies te raak. Ons wil dadelik ‘n verklaring gee van wat
ons dink is besig om plaas te vind of onsself regverdig. Inplaas van skeptiese
en siniese woorde, moet ons vriendelik en vol ontferming wees en gou om mekaar
te vergeef (Ef. 4:32). Hierdie is ‘n goeie reël vir kommunikasie tussen man en
vrou in die huwelik. Liefdevolle en eerbiedige kommunikasie tussen man en vrou
word aangemoedig (Ef. 5:33) en sal die fisiese en emosionele verhouding tussen
egpare bevorder.
Vierdens, is dit soms, veral in die hitte van die stryd, of in die
passie van die oomblik, moeilik om nie iets te sê nie. Ons brand om iets te sê
en voel dat iemand dit al lankal moes gesê het, maar die gebed wat Dawid gebid het,
is die antwoord: “Here, stel ‘’n wag voor my mond, bewaar die deur van my
lippe.” (Ps. 141:3). As daar enige iemand is wat iets moes gesê het, was dit
Jesus gewees. Hy is so erg te nagekom, afgekraak en gespot, maar ten spyte
daarvan word van geprofeteer dat die Here Jesus ‘n geoefende tong ontvang het –
‘n tong wat “weet om die vermoeide te verkwik met woorde.” (Jes. 50:4) Jesus het
op ‘n herderlike manier die mense met probleme om Hom hanteer en hulle harte met
‘n sagte woord aangeraak (Spr. 15:1). Daarom is troosvolle, bemoedigende en vriendelike
woorde die tipe kommunikasie wat God verheerlik en genesing kan bring vir die
ontstelde hart (Pred. 12:10; Spr. 16:24).
In die vyfde plek is daar volgens Salomo al groot oorloë tussen
vyande gekeer met ‘n gewilligheid om te luister en deur te reageer met ‘n sagte
antwoord (Spr. 25:15). Daar kom tye waar konflik en twis ‘n onmiskenbare deel
van ons lewens is en die Bybel sê dat dit soos ‘n damwal is wat kan bars (Spr.
17:14). Ons kan egter deur ‘n gewilligheid om te luister en te verstaan, die saak
ontlont. Wyse en selfbeheerste kommunikasie is die gereedskap om in enige
situasie die gesindheid van twisgierigheid te vermy (Spr. 25:8). Daarmee sê ons
nie dat jy nie jou saak moet verdedig nie, inteendeel, ons as Christene kan
antwoord op die aanklagte teen ons of misverstande rondom ons. Wat ons teen
moet waak is om driftig te raak en om eerder die gemoedere te laat bedaar en deur
kalmte te beraadslaag. (Spr. 29:11). Daar is ‘n wonderlike voorbeeld in Spreuke
31:26 van ‘n moeder wat met wyse en vriendelike woorde baie mense kan beïnvloed
vir die goeie.
Laastens, as jy as ‘n verstandige mens erkenning wil verkry, dink eers
deeglik na aan wat jy wil sê voordat jy dit sê en as jy iets wil sê dan moet
dit gebaseer wees op grondige kennis (Spr. 15:2; 15:28; 20:15) en uit die regte
harts gesindheid (Spr. 16:23,24). Die regte woorde wat op die regte tyd
gespreek word, het baie groot waarde in God se oë, want dit bou op, motiveer en
genees.
Ter opsomming, Christene is ook in hulle kommunikasie deur die bloed
van Jesus vrygemaak om ‘n nuwe mens te wees. Liefde, met ander woorde, ‘n opregte
en opofferende omsien na die belange van ander, is die nuwe manier van
kommunikasie (Gal. 5:13,14). Wat meer is, hierdie liefdevolle tipe kommunikasie
is nie net die regte ding om te doen nie, maar is die vervulling van die wet
van God.