Vandag gedenk alle
Christene van regoor die wêreld die hemelvaart van Jesus Christus. Wat ‘n
triomfantlike waarheid dat Jesus Christus nie net uit die dood uit opgestaan het
nie, maar dat Hy ook met heerlikheid in die hemel opgevaar het. Met hierdie
gebeurtenis, het die Here Jesus ‘n hele aantal onbetwyfelbare getuies
agtergelaat, nl. (1) die leë graf - As Jesus nie opgestaan het en opgevaar het
nie, sou die godsdienstige leiers ‘n liggaam geproduseer het en daarmee saam die
evangelie gekelder het. (2) Die lewende getuies – Talle getuies het die lewende
Christus na sy opstanding gesien, met Hom gepraat, saam met Hom geëet, Sy
opdragte ontvang en Hom in die hemel sien opvaar. (3) Die koms van die Heilige
Gees tydens Pinkster – Die Heilige Gees se toetrede tot die innerlike ervaring
van individuele Christene in die Nuwe Testament gemeentes, was ooglopend en
ingrypend. Nie net het mense tot bekering gekom nie, maar hulle het radikale
veranderinge aan hulle lewenstyle gemaak. (4) Die stigting van die gemeente –
Die totstandkoming en uitbreiding van die enkel grootste organisasie van alle
tye, wat in die naam van Jesus gesorg het onder andere vir die Joods-Christelike
wetstelsel, die opvoedkunde, die mediese professie en die afskaffing van
slawerny (natuurlik nog baie meer). Al hierdie dinge het wêreldgeskiedenis so
beïnvloed, dat ons vandag nog die vrugte pluk as gevolg daarvan. Wat is dan die
betekenis van hemelvaart vir ons? As ons
dink aan die geweldige invloed wat Jesus se eerste kom gehad het, wat sal die
gevolge wees van Sy tweede koms. Jesus het in Johannes 14 gesê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo
in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie
so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.
En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe
neem, sodat julle ook kan wees waar ek is.” As gevolg van die hemelvaart, sal daar ‘n
heerlike dag aanbreek waar die Here Jesus, na die geskal van die basuin, ons sal
kom haal om by Hom te wees. Op daardie dag, wat dalk gouer kom as wat jy dink,
sal Jesus Christus ons fisiese, verganklike en gebroke oorlewingsbestaan
omskakel na ‘n geestelike, onverganklike en volmaakte oorwinningstriomf.