Woensdag 17 Desember 2014

Jesus, die WAARDIGE Heiland

        Met Kersliggies wat oral flikker en bekende liedere wat oral weerklink, word ons herinner dat die jaar 2014 einde se kant toe staan. Ons word ook herinner dat God Sy Seun vir ons gestuur het en so bemoedig Hy ons met Sy wonderlike beloftes van verlossing! Paulus verklaar in 2 Kor. 1:20:  “...hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” Al die wonderlike beloftes van God word ons deel, nie deur ‘n onpersoonlike medium nie, maar deur ons eie liefdevolle en persoonlike Heiland, Jesus Christus. Die feit dat God al sy beloftes deur Jesus aan ons oordra, is in lyn met die goddelike werkswyse.
        Die Bybel is ryk aan grafiese beelde van Jesus en sy persoonlike bediening aan ons. Jesus is bv. ons Herder! En nie sommer enige Herder nie, die GOEIE Herder wat my eie persoonlike Herder is (Ps. 23:1), wat opofferend Sy lewe vir my aflê om my te red van die wolf, te versorg in my behoeftes en om my te lei deur die dal van doodskaduwee (Joh. 10:11-16). Die goeie Herder is ook die GROOT Herder, wat intree vir die skape om die vrede tussen hulle en God te behou (Heb.13:20-2).  Psalm 23 beskryf so mooi die werk van die  Groot Herder as hy sê dat niks ons sal ontbreek nie. Of ek nou rus nodig het, dors is, verkwik wil word, leiding kort, kameraadskap soek deur die dal van doodskaduwee, vertroos wil word, voeding benodig,  smag na oorwinning, volkome vrede en vreugde wil hê, volmaakte voorsiening verlang en ‘n ewige tuiste soek, dit alles sal Hy voorsien tot en met die dag as hy weer kom as die Opperherder (1 Pet. 5:4) om ons te beloon.  Tot dan, wanneer Jesus ons kom haal, sê Jesaja 40:11  “Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.”, en Jesaja 49:10 sê “hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water.”
         Dit is moeilik soms om te besluit watter beeld van Jesus die beste is, want die beeld van die goeie, liefdevolle en ontfermende Herder van die skape word so mooi aangevul met die beeld van Jesus as die Rots, die Steunpilaar (1 Kor. 10:4) waarop Israel kon staatmaak in die woestyn. Dawid besing die Here Jesus in 2 Samuel 22:2,3,7 as hy sê: “Die Here is my rots, my vesting en my Redder; my God is my rots, by wie ek skuil.” (Ps. 18:2,31; 23:3; 61:3; 62:2,3; 78:20; verw.. Deut. 32) Om dit alles te kroon, het Jesus verklaar dat Hy self die Rots, die rotsvaste fondasie van ons geestelike lewens, die onbeweegbare hoeksteen en geestelike struktuur van die kerk sal wees.
         Liewe vriende, die werk van die Here sal voortgaan. Jesaja sê dat “daar ... ‘n takkie (sal) uitspruit uit die stomp van Isai en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra...” (Jes. 11:1). En Sagaria sê: “Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe.” (Sag. 8:12)  Jesus self het gesê: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.” (Luk. 12:32) 
        Baie mense kyk na ‘n spruitjie  of na ‘n klein kuddetjie (gemeente) en sien swakheid en kwesbaarheid, maar God tree nie op volgens menslike prestasie en verwagtings nie. Die vrug wat op Sy werk sal voortspruit is nie iets wat ons kan voorspel, manipuleer of verydel nie. Wat ons wel weet, is dat ons hierdie tyd van die jaar, met Kerstyd, onsself weer moet herinner aan wat Jesaja 9:5 sê van ons Here Jesus: “Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterkte God, Ewige Vader, Vredevors.”

        Mag ons in hierdie tyd van vreugde en opwinding rondom die geboorte van Jesus, nie dink aan ons eie swakhede nie, maar  dink dat Jesus Christus ons Herder is, ons Steunpilaar, die Spruit van die Here wat verseker sal uitloop op die bestemde tyd en dat Hy dié Leidsman en Voleinder van ons geloof is. God is volwaardig goed!

Dinsdag 25 November 2014

Wie Staan Vir Die Here?


Eks. 32:25-26 Toe Moses sien dat die volk bandeloos was—want Aäron het hulle bandeloos laat word tot leedvermaak onder hulle teëstanders— het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel.

Die Here het Israel uit Egipte gered en was stelselmatig besig om hulle voor te berei om die slaaf-identiteit af te skud en ‘n nuwe identiteit aan te leer. ‘n Deel van hierdie verandering was om die wet van die Here te ontvang. Hulle het egter ongeduldig geraak en wou dinge op hulle manier doen. Wat as die een van die enkel grootste gebeurtenisse in die volk se geskiedenis moes wees, het een van die slegste oomblikke in die volk se geskiedenis geword. Hulle het ‘n goue kalf gemaak om God mee te vervang – ‘n nagemaakte god wat hulle kon sien and aan vat en nie ‘n God wat hulle laat vrees nie. Moses het hierdie bandelose gesindheid gesien en het dit gekonfronteer met die uitdaging: “Wie vir die Here is, kom na my toe!” Was dit nie ook Josua wat as leier van die volk vir Israel gesê het: “…kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Jos. 24:25). Het die Here Jesus nie ook dieselfde uitdaging gebied nie: “Kom na my toe…” Die gemeente van Jesus Christus staan vandag voor dieselfde uitdaging. Wie vir die Here is, moet opstaan vir die Here en kom en dien, want as ons nie vir die Here opstaan nie, vir wie staan ons dan?

Sondag 16 November 2014

Daar is geen keer aan die werk van die Here nie.

Jes. 61:11  Want soos die aarde sy plante voortbring, en soos ‘n tuin sy gewasse laat uitspruit, so sal die Here HERE geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies.

Die gedagte dat die bedieningswerk van die kerk en die gemeente nie aan die postmoderne mens se verwagtinge voldoen nie, is besig om Christene se beskouing van die Here Jesus te beïnvloed. Mense sien neer op swakheid en behoeftigheid, net soos die Jode met Jesus. Hul is opsoek na die wonderlike en volmaakte. Swakheid,  behoeftigheid en breekbaarheid word liefs verruil vir dit wat blink, presteer en uitstaan bo die res. Die Bybel sê dat dit juis die  kleinlike en breekbare Spruit of Takkie van die Here (Jes. 4:2; 11:1) is - dit waarop mense neersien as swakheid - wat God sal gebruik in oorwinning. God sal nie volgens menslike vleeslikheid, prestasie en verwagting optree nie. Die vrug wat op Sy werk sal voortspruit kan nie verhinder, gemanipuleer of verydel kan word nie. Die Here gebruik juis die swakke en behoeftige in Sy werk. Israel, net soos baie Christene vandag, wou met eie krag, doelgerigtheid en ‘n mooi voorkoms hulp aan God se werk verleen. Maar God bied die natuur, met die onkeerbare organiese en natuurlik groei prosesse om te illustreer hoe deeglik Hy te werk gaan.  Hy sal Sy lof en geregtigheid op Sy manier laat uitspruit. Wat moet ons doen? Moenie angstig word nie, maar werk geduldig saam met God se plan (Rom. 2:7; 8:24-25; 15:4; 2 Kor. 6:4-5; Gal. 5:5; 6:9; Kol. 1:11; Heb. 6:15; 10:36; 12:1-3).

Saterdag 08 November 2014

Genade, Onbeskryflik Groot! Maar hoe?

Ef. 2:7 …sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.

‘n Bekende Engelse prediker, wat probeer het om genade te verduidelik, het die woord GRACE gebruik as ‘n akroniem vir “God’s Remedy At Christ’s Expense”. Die wese van God se genade word opgesom in drie hoofgedeeltes 1.) Rom. 8:31 “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”; 2.) Ef. 2:8-9  “…uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” en 3.) Joh. 1:17  “…die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” 

Genade is dus nie net 'n algemene en abstrakte konsep nie, maar reddend en behoudend. In die huidige dispensasie van genade, gee geloof in Jesus Christus gee ons toegang tot God se reddende genade en bied interaksie met die liggaam van Christus ons deel in die seëning van God se behoudende genade. God het bepaal dat ons in Jesus Christus en deur die gemeente (sy liggaam), se woordbediening, gebedsondersteuning en liefdesorg, die genade van God kan ontvang en ervaar. 

Die wyse waarop ons dus hierdie woordbediening toelaat, ons samewerking in gebed en ons toewyding aan evangelisasie en sorgsaamheid, is direk eweredig aan ons belewing van God se genade. Baie Christene kies vandag om eerder in die koue, buite hierdie konteks van God se reddende en behoudende genade te bestaan, as om die sogenaamde onvolmaaktheid van die gemeente te bedek met liefde. Mag die Here ons genadig wees.   

Sondag 02 November 2014

1 Kor.  10:11  Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Ons almal het op een of ander stadium in ons lewens iemand anders se voorbeeld gevolg, dalk toe jy as seun gekyk het hoe pa die gras sny, of as dogter hoe ma koekies bak...mmm. Jy kon iemand se voorbeeld navolg, want jy weet nie van nature hoe om te doen wat hulle doen nie. Wat ‘n voorreg om iemand te hê wat vir jou ‘n voorbeeld stel! 

Het jy geweet dat daar een groep mense is wie die Bybel sê ons nié moet navolg nie. Wat bedoel ek daarmee? Israel, volgens die Bybel, is beide ‘n waarskuwing aan ons van die tipe dinge wat ons nié moet doen nie en ‘n voorbeeld van die dinge wat ons liefs moet vermy. Israel het alles gehad: beloftes van God, die Messias, die verbonde, die wet ens., maar wat hulle nie gehad het nie, was geloof en gehoorsaamheid. Die dinge wat hulle oorgekom het en die posisie waarin hulle tans verkeer, wys ons daarop dat God ons nie kan seën as ons moedswillig ongehoorsaam is nie. 

Die vraag is nou, watter voorbeeld stel jy? Onthou, sonder dat jy weet kyk en luister mense na jou! Elke Christen moet daarop uit wees om Christus se voorbeeld te volg. Sal God jou as ‘n goeie voorbeeld gebruik, net soos Hy met Job gemaak het, of as ‘n slegte voorbeeld waarteen hy ander waarsku? Daar is ‘n wonderlike seën daarin om ‘n voorbeeld vir Jesus te wees.

Vrydag 22 Augustus 2014

Jy kan 'n betekenisvolle lewe leef! - Deel 1

Mense soek op allerhande plekke en maniere na die betekenis van hulle lewens. In Genesis 1:26-27 lees ons: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis... En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” Hierdie verse verduidelik hoe God ons geskape het en hoe hy daardeur betekenis aan ons lewens gegee het. God het ons in Sy gelykenis of beeld geskape en ons lewens waarde gegee. Die gelykenis of beeld waarmee God ons geskape het bevat dieselfde geestelike, morele en sosiale karaktereienskappe as wat God het. Dit beteken dat ons bewus kan wees van dinge om ons, dat ons besluite kan neem en dat ons dankie kan sê. Nadat God ons op hierdie manier geskape het, het God ons geseën en vir ons gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers…(daaroor)” (Gen. 1:28). God het in sy skeppingsaksie en daaropvolgende seëning, volledige betekenis aan ons lewens gegee. Regdeur die Bybel verduidelik God aan ons waar ons ‘n betekenisvolle lewe kan vind, wat die beginsels is waarmee dit werk en hoe dit prakties werk.

Die Here het ons nie robotte gemaak nie, maar persoonlike wesens met ‘n geestelike bewustheid van wie God is en dit wat om ons gebeur, ‘n vrye wil om besluite daaroor te maak en ‘n sosiale vermoë om te kommunikeer. Met hierdie geestelike bewustheid kan ons God se wil verstaan, vrywilliglik besluit om Sy wil te volg en met Hom daaroor kommunikeer om hulp te vrae of dankie te sê. Dit gee betekenis aan ons lewens. My lewe beteken iets as ek dit wat om my gebeur kan verstaan vanuit God se perspektief, as ek kan besluit hoe ek Sy wil gaan uitleef en as ek hom kan dank en aanbid daarvoor. Paulus verklaar in 1 Thess. 2:4 dat dit God se wil is dat “alle mense gered word en tot die kennis van die waarheid kom.” Enige iemand wat ‘n betekenisvolle lewe wil hê, moet dus gered word van ‘n lewe van betekenisloosheid en oorgaan van die koninkryk van die duisternis na die koninkryk van die lig. Betekenisvolheid is dus ‘n geestelike perspektief wat net deur ‘n reddende geloof in die Bybel verkry kan word. Dit is wat God vir jou en my begeer.

Waar kan ons betekenis vind?

Die eerste plek waar ek ‘n betekenisvolle lewe kan vind, is die gemeente. As sosiale wesens wat God se betekenis-gewende wil vir ons lewens wil verstaan en uitleef, het die Here ‘n gemeente voorsien waarin ons interaksie met ander soos ons kan hê. Die definisie van ‘n betekenisvolle lewe kan nêrens beter geïllustreer word as in die werksaamhede en sosiale interaksie van die plaaslike gemeente as die liggaam van Christus nie. Hier kom mense vrywilliglik saam wat vol goedheid is en in staat is om mekaar te vermaan (help) (Rom. 15:14); ‘n plek waar mense hartlik teenoor mekaar is met broederlike liefde (Rom. 12:10); ‘n plek waar geen persoon ‘n ander iets skuld behalwe liefde nie (Rom. 13:8); 'n plek waar mense mekaar nie oordeel nie, maar eerder dít najaag wat tot onderlinge stigting en vrede dien (Rom. 14:13,19); ‘n plek waar mense waak teen verdeeldheid of onenigheid en eerder toegewyd is om gelyke sorg vir mekaar te dra (1 Kor. 12:25); ‘n plek waar ons mekaar dien deur die liefde van Christus (Gal. 5:13) en mekaar se laste dra (Gal. 6:2); in daardie plek kry ons die geleentheid om met ‘n Christus gesinde fokus ‘n waardige lewenswandel na te streef (Ef. 4:1-2); ‘n plek waar mense vriendelik en vergewensgesind teenoor mekaar is (Ef. 4:32) en nog vele meer. (verw.. Ef. 5:18-21; 2 Kor. 11:9; 9:7; Fil. 4:5; Kol. 3:9,12, 13,16; 1 Thess. 3:12; 4:8; 5:11,14; Heb. 10:23-25; 13:7; Jak. 5:9,16; 1 Pet. 4:9; 1 Joh. 4:7,11,12; 2 Joh. 5)

Dit is die geestelike bediening van die plaaslike gemeente “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam…” (Ef. 4:12), sodat mense betekenisvolle lewens kan leef. Vir dit om plaas te vind moet ons “nie meer wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie…” (Ef. 4:17), maar streef daarna om heilig (afgesonder) te leef. (Ef. 4:7,12; Rom. 12:3-6a; 1 Kor. 12:12-27; 1 Pet. 4:11).

Nog ‘n plek wat die Here voorsien het vir ons om betekenis vir ons lewens te vind, is die gesin. Die gesin wat opgemaak is uit die man en vrou huweliksverhouding, asook die ouer en kind verhoudings kan betekenis tot ons lewens toevoeg. Dit is God se wil vir ‘n man en vrou om ‘n gesin te begin deur kinders in die wêreld te bring (Gen. 1:28). Deur middel van die gesinsopset kry individue die kans om sinvolle bydraes te maak in ander se lewens en individue te leer om karakter te bou wat dan deur ‘n betekenisvolle lewe ondersteun kan word.

Nog ‘n plek waar die Here ons lewens betekenis laat kry, is die gemeenskap waarin ons geplaas is. Die Here het bepaal dat die mens se lewe betekenis sal vind as hy die aarde sal vul en daar waar hy kom te leef tot Sy eer (Gen. 1:28; 2:8; 9:1). Die Here het “uit een bloed al die nasies en die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kan soek” (Hand. 17:26). Christene kan betekenis vind deur die groot opdrag in Matt. 28:18-19 uit te leef.

Wat beteken dit vir my? 

Die beginsels van ‘n betekenisvolle lewe is soos volg: Die eerste beginsel is ‘n goeie werketiek. ‘n Betekenisvolle lewe is onder andere die resultaat van ‘n goeie werketiek. Om te werk is nie ‘n straf nie, al voel dit so, want ons weet dat God die mens geskape het om te werk voordat die sondeval plaasgevind het. Ons sien hoe Jesus self daaroor praat as Hy in Johannes 5:17 sê” “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Ons lewens kry dus betekenis as ons getrou opdragte uitvoer en voltooi (Gen. 2:15; Spr. 14:23).

Donderdag 14 Augustus 2014

Voortsetters van die werk van die Here

Daar is geen twyfel dat alles wat met die ware God te doen het vandag onder druk verkeer. Die grootskaalse afskaffing van Christenskap in Amerika en Europa, die vervolging van Christene in Iraq en die uitwissing van Israel is alles pogings om die werk van God stop te sit. Die Bybel is nie onvertroud met hierdie stryd teen God en die waarheid nie en deurgaans word ons ingelig oor die geskiedenis van die onsuksesvolle pogings om God en sy mense uit te wis. Ten spyte van die mens se grootskaalse mislukking en die vyand se beste pogings, is daar altyd diegene wat God gebruik om sy werk voort te sit. 

In die derde hoofstuk van Esra lees ons hoe die leiers in Israel, nadat hulle terugkeer het na Jerusalem, te werk gegaan het om die werk van die Here voort te sit. Na sewentig jaar se ballingskap en met alle strukture wat deur die Babiloniërs tot op die grond afbreek is, moes hulle soos vreemdelinge in hulle eie land gevoel het. Daar was letterlik geen struktuur wat skuiling en veiligheid sou kon bied nie. Hoe sou hulle hierdie ontvreemding hanteer? Waar sou hulle begin om die werk van die Here, wat sewentig jaar terug onderbreek is as gevolg van hulle eie sonde, voort te sit? Hoe sou hulle “die skrik vir die volke van die lande (wat) op hulle gekom het” en die onsekerheid en twyfelagtigheid wat daarmee gepaard sou gaan te bowe kom om die werk van die Here voort te sit? Sal daar hoegenaamd enige iets oorbly van God en van Israel? Ons lees dat die volk soos “een man in Jerusalem byeengekom” het en dat Jésua, sy broers en Serubbábel “die altaar van die God van Israel gebou (het) om daar brandoffers op te offer”. Omdat dit alles op die sewende maand plaasgevind het – die Nuwejaarsdag van Israel – is dit betekenisvol om te weet dat God dit so bepaal het. Dit was ‘n nuwe begin, vry van die slawerny wat ballingskap gebring het. Die sewende maand is volgens die wet die huttefees maand. Hulle het die Loofhuttefees, wat ‘n toewydingsfees is wat Israel teruggewys na die hulle woestynreis na die beloofde land, weer ingestel en is weer opnuut herinner aan die koms van die Messias en die instelling van die Vrederyk. Serubbábel, die kroonprins van Israel en ‘n voorsaat van Jesus Christus en Jésua, die hoëpriester, het die volk gelei om die voortsetting van die werk van God by die altaar van skuldbelydenis, heilige toewyding en heenwysing na Jesus Christus te begin. So 'n grafiese herinnering aan die moederbelofte van die koms van die Verlosser en die instelling van ‘n Messiaanse Vrederyk, sou hulle vrese besweer en hulle gemotiveer het om die werk van die Here voort te sit. Hierdie werk van die Here, wat die herbou van die altaar en die tempel behels het, het eerstens streng plaasgevind “soos geskrywe staan in die wet van Moses, en tweedens onder die streng toesighouding van geestelike leiers. Hierdie strengheid het nie die mense ontstel nie, want dit was God se werk en moes reg gedoen word. Dit was hoegenaamd nie depressiewe tye nie, maar heuglike tye in die lewe van die volk. Ons lees dat die fondasie van die tempel gelê is deur dieselfde manne wat die altaar gebou het. Net toe die fondasie gelê is, het die volk nie bloot net die aanbiddingsprosessie van die leiers gevolg nie, maar spontaan uiting gegee aan hulle dankbaarheid en lof aan God wat dit alles moontlik gemaak het. Die ouer mense se dankbaarheid is gemeng met heimwee, omdat hulle teruggedink het aan die glorie van die eerste tempel wat sou verskil met hierdie weergawe, maar uiteindelik was almal oorstelp van blydskap vir dit wat die Here gedoen het om weer sy werk in Israel voort te sit. 

Met die koms van Jesus Christus, het die Here weer na baie jare se stilte Sy werk begin voortsit in die wêreld. God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het as Waarborg van Sy toewyding tot die voortsetting van Sy liefdeswerk. Ons weet dat Israel hulle Messias verwerp het en tot vandag toe nog weier om Hom as hulle Verlosser te erken. Jesus, ‘n ware Voortsetter van die werk van die Here, het egeter net soos Sy oer oupagrootjie Serubbábel, nie toegelaat dat die hardkoppigheid van die Jode die werk van die Here stopsit nie. Jesus sê vir Petrus: “op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matt. 16:18) Die Verlosser en Saligmaker van die mens, het die werk van God voortgesit deur die gemeente te stig. Paulus, ‘n kranige Voortsetter van God se werk sê in “So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God.” (1 Kor. 4:1) En ook “want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” (1 Kor. 9:16) In 3 Johannes 6 bemoedig Johannes die geliefde Gajus deur te sê: “Jy sal goed doen as jy hulle (mense in die gemeente) voorthelp op ‘n voor God waardige wyse.” 

Nog nooit te vore is die waarheid so onder druk en is daar so ‘n nood vir hulle wat die werk van God in moeilike omstandighede voortsit nie. Voortsetters van God wat terugdink aan die kruisdood van Christus Jesus en vorentoe na sy koms, wat bekend staan as getroue dienaars van die Here Jesus en Sy gemeente, wat hulleself vrywilliglik verplig om ander voort te help op ‘n manier wat God se goedkeuring wegdra. Voortsetters van die genadewerk van God en die evangelie van Jesus Christus moet begin by die altaar van skuldbelydenis en toewyding en met hulle lewens heenwys na die hoop van die wederkoms van Jesus Christus. Hulle gee nie om vir die toesighouding van geestelike leierskap nie, want dit is God se werk. Vanuit hulle harte en monde kom daar ‘n dankbaarheid en lofspraak wat vreemd is vir enige wêreldling, want dit is God waardig en sy werk word voortgesit. Is daar ‘n altaar in jou lewe? Is jy onderdanig aan geestelike toesighouers? Doen jy dinge streng volgens dit wat in die Woord geskryf staan? Wys jou lewe die dankbaarheid en lof wat God toekom? Is jy ‘n VOORTSETTER van God se werk?