deur Marc Blackwell sr.
Ons lewens bestaan
uit ‘n reeks van besluite. Wanneer ons moet opstaan in die oggend en óf ons
moet opstaan? Watter werksaanbod om te aanvaar? Wat reg is om te doen of
wat skadelik sal wees? Hoe kan ons weet of ons goeie en wyse besluite neem? Dit
is ‘n moeilike vraag, omdat die keuses wat jy vandag maak jou opsies en
geleenthede in die toekoms beïnvloed. As jy goeie besluite neem en die regte
keuses maak, sal dit tot verdere sukses lei.
As jy slegte of verkeerde keuses maak, sal dit jou lewe negatief beïnvloed
en jou opsies in die toekoms beperk. As
Salomon sê: “Moenie jou mooiste jare verspil en jou beste jare aan ‘n hartelose
mens gee nie.” (Spr. 5:9), dan moet ons leer om goeie besluite te neem.
Daar is vyf maniere
om jou keuses te toets.
1. Die Ideaal Toets: Strook jou besluit met die waarheid in die
Bybel? Is die Bybel die hoogste
outoriteit in jou lewe? Daar is net twee tipes keuses in hierdie lewe rakende
outoriteit: ‘n wêreldse (aardse) of
Woord-gebaseerde (hemelse) keuse (Jak. 3:13-18). Die wêreld se opinie oor reg en verkeerd
verander gedurig en eindig in verkeerde dinge, maar God se Woord verander
nooit. Jy hoef ook nie al die “hoekoms”
beantwoord te hê om te verstaan wat God se wil is nie. God is God en jy nie! Hy is die Skepper en ons is Sy geskape
wesens. God is nie in die hemel besig om reëls te maak om ons ongelukkig te
maak nie. Hy het ons lief en gee leiding
tot ons voordeel en beskerming. As God iets
sê, moet ek dit glo en aanvaar en daarmee is die saak afgehandel – of ek dit
nou wíl glo of nie.
2. Die Integriteit
Toets: Kan almal in my lewe daarvan
weet? Wat sal Jesus daarvan sê? Slegte
keuses lei altyd tot geheimsinnigheid.
Integriteit is wanneer jou privaat en openbare lewe dieselfde standaarde
weerspieël. “Wie opreg leef, leef sonder
vrees; wie krom paaie loop, word uitgevind” (Spr. 10:9). Vra jouself of jy jou keuse met ‘n skoon
gewete kan uitoefen. “As iemand iets as
onrein beskou - vir hom is dit dan onrein” (Rom. 14:14). As jy twyfel oor wat jy moet doen en nie
vrymoedigheid voel om dit met ander te deel nie, moet dit liefs nie doen nie!
3. Die
Goed-Beter-Beste Toets: Sal dit van
my ‘n beter mens maak? Baie keuses in
die lewe is nie noodwendig oor goed of sleg, reg of verkeerd nie, maar wel of
dit goed, beter of beste is. Ons moet
altyd streef om te weet en te doen wat die beste is - “Alles is geoorloof. Ja, maar alles is nie heilsaam nie. Alles is
my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie
alles stig nie.” (1 Kor. 10:23) Daar is
baie “goeie” dinge om te doen, maar nie alles is nuttig nie; wees dus versigtig
met jou keuses. Doen genoeg navorsing.
4. Die Verslawing
Toets: Kan dit wat ek kies verslawend
raak? Dit maak nie saak hoe onskuldig
iets voorkom, of hoe gewild dit is nie, as dit kan veroorsaak dat ek my
selfbeheersing of getuienis verloor, moet ek dit ten alles koste vermy. “Alles is my geoorloof, maar ek sal my nie
deur iets laat oorheers (verslaaf) nie.” (1 Kor. 6:12) As dit my lewe gaan
oorheers (weghou van ander dinge), dan word dit vir my ‘n afgod. Dit kan vriende, dobbel, drank, werk,
stokperdjies, ‘n sportsoort, mense, geldmaak, internet of musiek wees; dit
alles kan my lewe oorheers deur verslawing. Nog ‘n manier om te toets of iets
my lewe oorheers is deur die vraag: Waaraan dink ek die meeste?
5. Die Invloed Toets: Sal dit iemand anders benadeel? Omdat ons in ‘n baie selfsugtige samelewing
leef, wil God hê dat ons ander in ag moet neem as ons keuses maak. Wie sal ek
daardeur seer maak s my keuse misluk?
“Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee. Neem
julle voor om niks te doen wat jou broer aanstoot kan gee of tot ‘n val kan
bring nie.” (Rom. 14:12,13)
Daar is niks wat ons
karakter so sal bou as die minder belangrike keuses wat ons herhaaldelik moet
maak as ons besluite moet neem nie. Die belangrike besluite in ons lewens wys
weer watter keuses ons gemaak het en dit openbaar so ons karakter. Laastens kom
dit hierop neer: “Wat sou Jesus
doen”? Besluit nou om keuses te maak wat
getuig: “Ek het dit op God se manier
gedoen.”
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking