Donderdag 14 Augustus 2014

Voortsetters van die werk van die Here

Daar is geen twyfel dat alles wat met die ware God te doen het vandag onder druk verkeer. Die grootskaalse afskaffing van Christenskap in Amerika en Europa, die vervolging van Christene in Iraq en die uitwissing van Israel is alles pogings om die werk van God stop te sit. Die Bybel is nie onvertroud met hierdie stryd teen God en die waarheid nie en deurgaans word ons ingelig oor die geskiedenis van die onsuksesvolle pogings om God en sy mense uit te wis. Ten spyte van die mens se grootskaalse mislukking en die vyand se beste pogings, is daar altyd diegene wat God gebruik om sy werk voort te sit. 

In die derde hoofstuk van Esra lees ons hoe die leiers in Israel, nadat hulle terugkeer het na Jerusalem, te werk gegaan het om die werk van die Here voort te sit. Na sewentig jaar se ballingskap en met alle strukture wat deur die Babiloniërs tot op die grond afbreek is, moes hulle soos vreemdelinge in hulle eie land gevoel het. Daar was letterlik geen struktuur wat skuiling en veiligheid sou kon bied nie. Hoe sou hulle hierdie ontvreemding hanteer? Waar sou hulle begin om die werk van die Here, wat sewentig jaar terug onderbreek is as gevolg van hulle eie sonde, voort te sit? Hoe sou hulle “die skrik vir die volke van die lande (wat) op hulle gekom het” en die onsekerheid en twyfelagtigheid wat daarmee gepaard sou gaan te bowe kom om die werk van die Here voort te sit? Sal daar hoegenaamd enige iets oorbly van God en van Israel? Ons lees dat die volk soos “een man in Jerusalem byeengekom” het en dat Jésua, sy broers en Serubbábel “die altaar van die God van Israel gebou (het) om daar brandoffers op te offer”. Omdat dit alles op die sewende maand plaasgevind het – die Nuwejaarsdag van Israel – is dit betekenisvol om te weet dat God dit so bepaal het. Dit was ‘n nuwe begin, vry van die slawerny wat ballingskap gebring het. Die sewende maand is volgens die wet die huttefees maand. Hulle het die Loofhuttefees, wat ‘n toewydingsfees is wat Israel teruggewys na die hulle woestynreis na die beloofde land, weer ingestel en is weer opnuut herinner aan die koms van die Messias en die instelling van die Vrederyk. Serubbábel, die kroonprins van Israel en ‘n voorsaat van Jesus Christus en Jésua, die hoëpriester, het die volk gelei om die voortsetting van die werk van God by die altaar van skuldbelydenis, heilige toewyding en heenwysing na Jesus Christus te begin. So 'n grafiese herinnering aan die moederbelofte van die koms van die Verlosser en die instelling van ‘n Messiaanse Vrederyk, sou hulle vrese besweer en hulle gemotiveer het om die werk van die Here voort te sit. Hierdie werk van die Here, wat die herbou van die altaar en die tempel behels het, het eerstens streng plaasgevind “soos geskrywe staan in die wet van Moses, en tweedens onder die streng toesighouding van geestelike leiers. Hierdie strengheid het nie die mense ontstel nie, want dit was God se werk en moes reg gedoen word. Dit was hoegenaamd nie depressiewe tye nie, maar heuglike tye in die lewe van die volk. Ons lees dat die fondasie van die tempel gelê is deur dieselfde manne wat die altaar gebou het. Net toe die fondasie gelê is, het die volk nie bloot net die aanbiddingsprosessie van die leiers gevolg nie, maar spontaan uiting gegee aan hulle dankbaarheid en lof aan God wat dit alles moontlik gemaak het. Die ouer mense se dankbaarheid is gemeng met heimwee, omdat hulle teruggedink het aan die glorie van die eerste tempel wat sou verskil met hierdie weergawe, maar uiteindelik was almal oorstelp van blydskap vir dit wat die Here gedoen het om weer sy werk in Israel voort te sit. 

Met die koms van Jesus Christus, het die Here weer na baie jare se stilte Sy werk begin voortsit in die wêreld. God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het as Waarborg van Sy toewyding tot die voortsetting van Sy liefdeswerk. Ons weet dat Israel hulle Messias verwerp het en tot vandag toe nog weier om Hom as hulle Verlosser te erken. Jesus, ‘n ware Voortsetter van die werk van die Here, het egeter net soos Sy oer oupagrootjie Serubbábel, nie toegelaat dat die hardkoppigheid van die Jode die werk van die Here stopsit nie. Jesus sê vir Petrus: “op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matt. 16:18) Die Verlosser en Saligmaker van die mens, het die werk van God voortgesit deur die gemeente te stig. Paulus, ‘n kranige Voortsetter van God se werk sê in “So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God.” (1 Kor. 4:1) En ook “want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” (1 Kor. 9:16) In 3 Johannes 6 bemoedig Johannes die geliefde Gajus deur te sê: “Jy sal goed doen as jy hulle (mense in die gemeente) voorthelp op ‘n voor God waardige wyse.” 

Nog nooit te vore is die waarheid so onder druk en is daar so ‘n nood vir hulle wat die werk van God in moeilike omstandighede voortsit nie. Voortsetters van God wat terugdink aan die kruisdood van Christus Jesus en vorentoe na sy koms, wat bekend staan as getroue dienaars van die Here Jesus en Sy gemeente, wat hulleself vrywilliglik verplig om ander voort te help op ‘n manier wat God se goedkeuring wegdra. Voortsetters van die genadewerk van God en die evangelie van Jesus Christus moet begin by die altaar van skuldbelydenis en toewyding en met hulle lewens heenwys na die hoop van die wederkoms van Jesus Christus. Hulle gee nie om vir die toesighouding van geestelike leierskap nie, want dit is God se werk. Vanuit hulle harte en monde kom daar ‘n dankbaarheid en lofspraak wat vreemd is vir enige wêreldling, want dit is God waardig en sy werk word voortgesit. Is daar ‘n altaar in jou lewe? Is jy onderdanig aan geestelike toesighouers? Doen jy dinge streng volgens dit wat in die Woord geskryf staan? Wys jou lewe die dankbaarheid en lof wat God toekom? Is jy ‘n VOORTSETTER van God se werk?

Woensdag 16 Julie 2014

Maak die regte keuse!

deur Marc Blackwell sr. 
Ons lewens bestaan uit ‘n reeks van besluite. Wanneer ons moet opstaan in die oggend en óf ons moet opstaan? Watter werksaanbod om te aanvaar? Wat reg is om te doen of wat skadelik sal wees? Hoe kan ons weet of ons goeie en wyse besluite neem? Dit is ‘n moeilike vraag, omdat die keuses wat jy vandag maak jou opsies en geleenthede in die toekoms beïnvloed. As jy goeie besluite neem en die regte keuses maak, sal dit tot verdere sukses lei.  As jy slegte of verkeerde keuses maak, sal dit jou lewe negatief beïnvloed en jou opsies in die toekoms beperk.  As Salomon sê: “Moenie jou mooiste jare verspil en jou beste jare aan ‘n hartelose mens gee nie.” (Spr. 5:9), dan moet ons leer om goeie besluite te neem.
Daar is vyf maniere om jou keuses te toets.
1. Die Ideaal Toets:  Strook jou besluit met die waarheid in die Bybel?  Is die Bybel die hoogste outoriteit in jou lewe? Daar is net twee tipes keuses in hierdie lewe rakende outoriteit:  ‘n wêreldse (aardse) of Woord-gebaseerde (hemelse) keuse (Jak. 3:13-18).  Die wêreld se opinie oor reg en verkeerd verander gedurig en eindig in verkeerde dinge, maar God se Woord verander nooit.  Jy hoef ook nie al die “hoekoms” beantwoord te hê om te verstaan wat God se wil is nie.  God is God en jy nie!  Hy is die Skepper en ons is Sy geskape wesens. God is nie in die hemel besig om reëls te maak om ons ongelukkig te maak nie.  Hy het ons lief en gee leiding tot ons voordeel en beskerming.  As God iets sê, moet ek dit glo en aanvaar en daarmee is die saak afgehandel – of ek dit nou wíl glo of nie.
2. Die Integriteit Toets:  Kan almal in my lewe daarvan weet?  Wat sal Jesus daarvan sê? Slegte keuses lei altyd tot geheimsinnigheid.  Integriteit is wanneer jou privaat en openbare lewe dieselfde standaarde weerspieël.  “Wie opreg leef, leef sonder vrees; wie krom paaie loop, word uitgevind” (Spr. 10:9).  Vra jouself of jy jou keuse met ‘n skoon gewete kan uitoefen.  “As iemand iets as onrein beskou - vir hom is dit dan onrein” (Rom. 14:14).  As jy twyfel oor wat jy moet doen en nie vrymoedigheid voel om dit met ander te deel nie, moet dit liefs nie doen nie!
3. Die Goed-Beter-Beste Toets:  Sal dit van my ‘n beter mens maak?  Baie keuses in die lewe is nie noodwendig oor goed of sleg, reg of verkeerd nie, maar wel of dit goed, beter of beste is.  Ons moet altyd streef om te weet en te doen wat die beste is - “Alles is geoorloof.  Ja, maar alles is nie heilsaam nie. Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie.” (1 Kor. 10:23)  Daar is baie “goeie” dinge om te doen, maar nie alles is nuttig nie; wees dus versigtig met jou keuses. Doen genoeg navorsing.
4. Die Verslawing Toets:  Kan dit wat ek kies verslawend raak?  Dit maak nie saak hoe onskuldig iets voorkom, of hoe gewild dit is nie, as dit kan veroorsaak dat ek my selfbeheersing of getuienis verloor, moet ek dit ten alles koste vermy.  “Alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers (verslaaf) nie.” (1 Kor. 6:12) As dit my lewe gaan oorheers (weghou van ander dinge), dan word dit vir my ‘n afgod.  Dit kan vriende, dobbel, drank, werk, stokperdjies, ‘n sportsoort, mense, geldmaak, internet of musiek wees; dit alles kan my lewe oorheers deur verslawing. Nog ‘n manier om te toets of iets my lewe oorheers is deur die vraag: Waaraan dink ek die meeste?
5. Die Invloed Toets:  Sal dit iemand anders benadeel?  Omdat ons in ‘n baie selfsugtige samelewing leef, wil God hê dat ons ander in ag moet neem as ons keuses maak. Wie sal ek daardeur seer maak s my keuse misluk?  “Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee. Neem julle voor om niks te doen wat jou broer aanstoot kan gee of tot ‘n val kan bring nie.” (Rom. 14:12,13)
Daar is niks wat ons karakter so sal bou as die minder belangrike keuses wat ons herhaaldelik moet maak as ons besluite moet neem nie. Die belangrike besluite in ons lewens wys weer watter keuses ons gemaak het en dit openbaar so ons karakter. Laastens kom dit hierop neer:  “Wat sou Jesus doen”?  Besluit nou om keuses te maak wat getuig:  “Ek het dit op God se manier gedoen.”  

Donderdag 05 Junie 2014

Perspektief

Die Bybel gebruik verskeie instrumente om ons perspektief oor die lewe te vorm. Beproewing is ‘n instrument wat deur God gebruik word om ons perspektief oor die lewe te vorm. Goddelike openbaring van die Bybel, is ‘n ander essensiële instrument wat God gebruik om ons perspektief te vorm. Openbaring oor die skepping vorm my perspektief van waar ek vandaan kom, waar ek inpas en wat my lewensdoel is. ‘n Nie-Bybelse perspektief beïnvloed die manier hoe ek na myself kyk en wat my lewensdoel is. Openbaring deur die wysheidsliteratuur (Psalms, Spreuke, ens.) vorm my perspektief van hoe ek kan reageer op die dinge wat met my gebeur. Openbaring deur middel van profesie vorm my perspektief van die geskiedenis en die toekoms. ‘n Mens kan God se perspektief gebruik om sin te maak van alles en sy lewensdoel te verstaan.

As deel van die spesiale profetiese openbaring van die Woord van God, vorm die profetiese boeke (groot en klein profete) in die Bybel ons perspektief van God en Sy invloed in wêreldgebeure. Met ander woorde, as ons ‘n boek soos Daniel byvoorbeeld sal lees, moet een van die resultate wees, dat ons meer sin kan maak van ons eie verlede, hede en toekoms. Omdat God aan ons die spesiale profetiese openbaring van die Woord het in boeke soos Daniel en ander gegee het, kan ons die nuusberigte op CNN beter verstaan, of in perspektief sien; kan ons besluite van die reserwebank beter verstaan, of in perspektief sien.  

Maar dit bly nie net  by die “sien” deel van perspektief nie, daar is ook ‘n “doen” deel van perspektief. Dit is een ding om dinge in die regte perspektief te sien, maar totaal ‘n ander om dieselfde dinge met die regte perspektief te doen! Dit is die waarde van openbarende perspektief van die Woord – dit gee jou ‘n geestelike perspektief om dinge deur God se oë te sien, maar dit gee jou ook die motivering om in ooreenstemming met God se perspektief op te tree of te reageer. God raak nie ontsteld of verbouereerd nie en oorreageer nie deur wisselvallige en irrasionele besluite te neem of emosioneel onstabiel raak nie (algemene angsversteuring). Hierdie karakter is ook vir my beskore om so te kan wees. Dit is immers een van die voorregte om deur God gered en geseënd te wees.

Nog ‘n manier hoe God ons Christene vandag perspektief gee is deur die leerstellings van die Nuwe Verbond. Die Nuwe Verbond is onvoorwaardelike beloftes wat God met Israel, hulle wat die fisiese nasate van Abraham in die vlees is, gemaak het en met hulle alleen. Die ewigdurendheid van die volk Israel en hulle toekomstige herstel tot hulle land is ‘n essensiële beginsel t.o.v. Israel as die tweede party in die sluiting van die nuwe verbond en die ontvanger van die onvoorwaardelike beloftes daarin gemaak. Die partye in die nuwe verbond is dus God en Sy uitverkore volk Israel. Het nie-Joodse mense (soos ek en jy) dan geen reg op die beloftes en seëninge van God nie?

Die Seun van God, Jesus Christus, het opgetree as Tussenganger tussen God en die mens (1 Tim. 2:5) en het as die Waarmaker van die Verbond of Testament opgetree om dit met Sy bloed te bekragtig deur Sy dood aan die kruis van Golgota (Luk. 22:20;1 Kor. 11:25; Heb. 8:6; 9:15; 12:24). 
Maar ons almal weet alte goed dat Israel hulle Messias verwerp en doodgemaak het en dat hulle tot vandag toe vêr van God af in totale ongeloof leef. Hulle het as die verbondsvolk van God tot nou toe gefaal om toe te tree tot die beloftes as die regmatige bevoordeeldes van die Nuwe Verbond. Hierdie seëning soos deur Jeremia en ander vooruit gewys is en wat aan hulle deur die Messias se eerste koms aangebied is deur hulle verwerp (Matt. 12:22-45). Deur Israel se hardheid van hart, het God die klousules van die Nuwe Verbond oopgestel vir die Heidene (nie-Jode) om deel daaraan te kry.   

Die vraag is dan: “Het God miskien sy volk verstoot?” (Rom. 11:1). Met ander woorde, het Israel hulle plek in die Nuwe Verbond verloor? “Nee, stellig nie!” Is Paulus se antwoord onomwonde! “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;  en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;  en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.” (Rom. 11:25-27) 

Onkunde oor die nuwe verbond, sê Paulus, kan lei tot eiewysheid! Die waarskuwing is dat as ons nie die waarheid oor Israel se regmatige plek as die bevoordeeldes van die Nuwe Verbond verstaan nie ons miskien sal begin dink dat God ons verruil het vir hulle. Ons sal dan begin om onsself in hulle plek te plaas en onsself begin aanstel as hulle wat eintlik die seëninge moet kry wat wederregtelik aan Israel behoort. Verskeie godsdienstige groepe in die geskiedenis het hulleself gevorm rondom ‘n wanbegrip van hierdie waarheid. So het die Verbondsteologie byvoorbeeld geleer, dat die Kerk nou geestelike Israel is en as te ware Israel vervang het as die volk van God. Die hedendaagse Messiaanse beweging leer ook byvoorbeeld dat die kerk die Joodse godsdienstig kulturele gebruik en tradisies moet insluit of omarm in hulle aanbidding en liturgie (diensordes). ‘n Derde groepering is die Israelisme beweging wat leer dat net ‘n sekere groep mense die ware Israel is (Britse Israelisme kies die Britte en die Boere Israelisme kies die boere) en dat deur geboortereg, bloedlyn nasate en die regte stamboom slegs húlle eksklusief deel is van die tien stamme van Israel wat eens verlore was, maar nou hulle regmatige plek moet inneem!


Die Bybels stel dit tog duidelik dat Israel nie deur God verstoot is nie, en dit beteken immers dat God NIE vir Israel met ‘n ander bevolkingsgroep of ‘n paar “uitverkore” mense vervang het nie. Aan die hand van Romeine 11 en Galasiërs 3 kan ons duidelik leer dat die Nuwe Verbond nie totaal vervul sal wees as Israel – die nageslag van Abraham in die vlees – nie die beloftes van die Nuwe Verbond letterlik deur redding ontvang het en deelagtig geword het nie. 

Donderdag 29 Mei 2014

Hemelvaart

Vandag gedenk alle Christene van regoor die wêreld die hemelvaart van Jesus Christus. Wat ‘n triomfantlike waarheid dat Jesus Christus nie net uit die dood uit opgestaan het nie, maar dat Hy ook met heerlikheid in die hemel opgevaar het. Met hierdie gebeurtenis, het die Here Jesus ‘n hele aantal onbetwyfelbare getuies agtergelaat, nl. (1) die leë graf - As Jesus nie opgestaan het en opgevaar het nie, sou die godsdienstige leiers ‘n liggaam geproduseer het en daarmee saam die evangelie gekelder het. (2) Die lewende getuies – Talle getuies het die lewende Christus na sy opstanding gesien, met Hom gepraat, saam met Hom geëet, Sy opdragte ontvang en Hom in die hemel sien opvaar. (3) Die koms van die Heilige Gees tydens Pinkster – Die Heilige Gees se toetrede tot die innerlike ervaring van individuele Christene in die Nuwe Testament gemeentes, was ooglopend en ingrypend. Nie net het mense tot bekering gekom nie, maar hulle het radikale veranderinge aan hulle lewenstyle gemaak. (4) Die stigting van die gemeente – Die totstandkoming en uitbreiding van die enkel grootste organisasie van alle tye, wat in die naam van Jesus gesorg het onder andere vir die Joods-Christelike wetstelsel, die opvoedkunde, die mediese professie en die afskaffing van slawerny (natuurlik nog baie meer). Al hierdie dinge het wêreldgeskiedenis so beïnvloed, dat ons vandag nog die vrugte pluk as gevolg daarvan. Wat is dan die betekenis van hemelvaart vir ons?  As ons dink aan die geweldige invloed wat Jesus se eerste kom gehad het, wat sal die gevolge wees van Sy tweede koms. Jesus het in Johannes 14 gesê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar ek is.”  As gevolg van die hemelvaart, sal daar ‘n heerlike dag aanbreek waar die Here Jesus, na die geskal van die basuin, ons sal kom haal om by Hom te wees. Op daardie dag, wat dalk gouer kom as wat jy dink, sal Jesus Christus ons fisiese, verganklike en gebroke oorlewingsbestaan omskakel na ‘n geestelike, onverganklike en volmaakte oorwinningstriomf.  

Maandag 17 Maart 2014

Die Sonde van Stilswye

In sy boek “Share Jesus without fear.”, verklaar William Fay dat die dodelikste wond wat Jesus tydens sy kruisiging toegedien is, “the wound of silence” was. Niemand het opgekom vir Jesus nie! Toe Jesus in hegtenis geneem is, het sy mees lojale en uitgesproke dissipel nie weggehardloop nie, maar op ‘n veilige afstand gevolg sonder om ‘n woord te sê. Party van die mense wat daar byeengekom het, het Petrus erken as een van die Jesus se dissipels. “Was jy nie saam met Jesus nie?”, het hulle gevra. Maar Petrus het dit ontken en gesê: “Ek ken die man nie.” Terwyl ons gou sal wees om ons van Petrus te distansieer, is daar tog ‘n ontstellende ooreenstemming. Deur nooit ons monde oop te maak om te getuig nie, sê William Fay, ontken ons eintlik dat ons Jesus ken. Ons ontken hom deur ons stilswye!  Terwyl ons opgewonde moet wees oor ons geloof en oorloop van Jesus, veral omdat ons daardeur gered is en dat daar soveel Bybelse eindtyd profesieë in ons dag vervul word, bly ons eerder stil. Net soos Petrus van ouds, is ons ook soms geneig om die sonde van stilswye te kies.

Toets gou jouself, se William Fay, vir die tekens van ‘n stilswyende en sterwende Christelike lewe: Het jy al ooit getuig van jou geloof? Het jy al vir enige iemand die goeie nuus van die evangelie gegee? Het jy slegs Christen vriende? Het jy ooit te doen met uitgeworpe sondaars, die wat hulp soek, of is jy net met jou eie persoonlike groepie vriende gemoeid?

Christene wat getuig, val in twee groepe, die wat OOR die verlore wêreld praat en die wat MET die verlore wêreld praat. Die eerste groep is vriendelik, gee drukkies, stuur e-posse met motiverende dagstukkies, beloof dalk om te bid vir ‘n saak en gebruik selfs ‘n Johannes 3:16 plakker agter op die kar. Hulle pogings in lewensredding is soos om ‘n klein pleistertjie op ‘n bloeiende wond te plak. Hulle is vriendelik, maar  vaag en bly soos Petrus op ‘n veilige afstand, steeds in die sonde van stilswye. Hulle offer klein brokkies informasie, wat lei tot hongersnood, maar weerhou die versadigende voeding van die Brood van die Ewige Lewe. Daar is dalk niks fout met hulle kerkbywoning nie en hulle is verseker goeie Christelike mense, maar hulle getuienis aan hulle vriende en familie kan met ‘n vraag opgesom word. Die vraag word 4 keer deur Paulus gebruik in  Rom 10:14-15 herhaal: “Hoe kan hulle…?” M.a.w. Hoe kan jou vriende God vind, in Hom glo en tot bekering kom, as jy nie na hulle toe gaan en hulle die evangelie by jou hoor nie? Hoe kan die Heilige Gees hulle tot bekering lei, as hulle nie die Woord van God, wat die Heilige Gees gebruik, uit jou mond hoor en in jou lewe sien nie?   Die sonde van stilswye eindig met die vraag: “Hoe kan hulle… tot bekering kom?” 

William Fay sê dat navorsing toon dat ongelowiges ‘n totaal van 7.6 keer die evangelie moet hoor, voordat hulle ‘n oorgawe maak? Elke keer as jy met ‘n ongelowige praat moet jy bewus wees van die feit dat dit een tree nader is aan die 7.6 keer wat hy of sy dit moet hoor voordat hulle tot oorgawe kom. Sommige bely: “Maar ek het gedink ek moet met elke gesprek iemand tot bekering probeer bring en ek is bang ek faal!” 

Liewe vriend, die Here het jou gevra om getrou te wees om jou geloof met ander te deel. Of jy nou besig is om die saad van die Woord te saai deur ‘n evangeliese gesprek, of besig is om die saadjie wat reeds gesaai is water te gee deur liefde, of jy besig is om die oes af te haal – jy is besig om getrou te wees! Dit is wat God van jou verwag – GETROUHEID! Daarom moet jy elke keer as jy met ‘n mens praat, probeer bepaal of hulle vir die eerste keer die evangelie hoor, en of hulle dit al baie keer gehoor het en gereed is vir bekering en of hulle alreeds tot bekering gekom het. Jy kan dus nie faal nie! As jy die sonde van stilswye pleeg omdat jy bang is om te faal in evangelisasie, dan moet jy die sonde bely en weet dat jou sukses nie is om mense te red nie – dis God se werk! Sukses vir jou is om jou geloof met ander te deel. Klein treëtjies in die begin, met groter treë later. Begin deur te BID vir geleenthede om met mense te praat. Tweedens, BEPLAN wat jy gaan sê – dink aan ‘n vraag oor wat belangrik is in hulle lewens, en hoe die Woord of Jesus ‘n verskil gemaak het. Werk aan jou getuienis van ‘n tyd in jou lewe waar die Here en die Woord jou deurgedra het. Raak dan BESIG met mense deur spontane kommunikasie en volg jou plan.  Dis al! Nie so moeilik as wat jy dink nie? Hoekom bely jy nie die sonde van stilswye en begin vandag getuig nie?

(Vertaal en verwerk uit William Fay se boek: Share Jesus without Fear, The Gideons International, Nashville, Tennessee. 1999)
 

Staan ons nader of onttrek ons?

In sy boek, “Say it with love”, vertel Dr. Howard Hendricks van ‘n antwoord wat ‘n bekende skrywer aan ‘n verslaggewer van die New York Times gegee het op sy vraag: “Wat is fout met ons wêreld?” Haar antwoord was soos volg: “Never before has the world been so desperately asking for answers to crucial questions, and never before has the world been so frantically committed to the idea that no answers are possible.” Daarbenewens het sy ook gesê: “To paraphrase the Bible, the modern attitude is, ‘Father, forgive us, for we know not what we are doing–and please don’t tell us!” Dit is, volgens dr. Hendricks, die tipe gesindheid van die mens en samelewing waarin ons leef en met wie ons die goeie nuus van Jesus Christus se reddingswerk moet deel. Ons lees en hoor van dinge wat ongehoord was ‘n generasie of twee terug, dinge wat mense eens op ‘n tyd nie gedink het moontlik is nie. Dit is ook volgens dr. Hendriks die tipe wêreld waarin die Here ons geplaas het om Sy persoonlike ambassadeurs en verteenwoordigers te wees. En ambassadeurs moet deur middel van kommunikasie kontak maak met hierdie wêreldlinge wat elke dag tussen ons woon en werk.

Dit is egter hartseer dat Christene, as gevolg van verskeie redes, hulleself al hoe meer en op verskillende maniere onttrek (nie wil kommunikeer nie) van hierdie samelewing en in ‘n privaat tipe wêreld kongrueer waar hulle min of geen kontak het met die mense van hierdie generasie nie. Christene is nie gretig of weet nie hoe om die krisisvrae van die wêreld te beantwoord deur kommunikasie nie, maar wil hulleself eerder beskerm van die invloede. Een manier waarop mense onttrek is deur intellektualiteit en ‘n oorbeklemtoning van dogma. Dr. Hendricks sê: “Unfortunately, our greatest asset, the Christian message, sometimes becomes a great liability. In some churches, the Christian message is little more than intellectual. The correct information is thought to automatically make genuine Christians, but Jesus warned: ‘Not every one that saith unto me, Lord, Lord, shall enter into the kingdom of heaven… (Matt. 7:21-23)”.

Nog ‘n manier hoe Christene onttrek van die wêreld is deur die kerk en hulle lewens ‘n beeld te gee van onaantasbaarheid. Dr. Hendricks lewer soos volg kommentaar hieroor: “Another distortion of the message is its enshrinement in a church building. Many churches across the country are repositories of the truth, and it’s as if they had a sign in front which says, ‘HERE WE ARE, YOU LUCKY SINNERS! WELCOME.” M.a.w. kom kry jou weeklikse dosis waarheid eksklusief net by ons. 

Dit is die beeld wat Christene baie keer van hulleself na mense om hulle uitstraal, want as jy met hulle praat oor hulle lewens, dan kry jy die gevoel dit is soos ‘n heiligdom met geen ding uit plek uit nie en jy is maar te gelukkig om met hulle hoogwaardigheid te doen te kry. Maar die evangelie behoort aan alle mense, nie net aan ‘n paar in die kerk nie. Nog ‘n manier waarop die Christen wil onttrek is deur ‘n eiesoortige en private aanbiddingstyl, wat as verdedigingsmeganisme gebruik word teen die invloed van die wêreld. As jy met sommige Christene praat, dan kan jy skaars verstaan wat hulle sê soos wat hulle ‘n aangeleerde Christelike “lingo” gebruik. Paulus het vir die onkundige kerk in Korinte gesê: “Maar in die byeenkoms van die gemeente sal ek liewer vyf verstaanbare woorde praat waaruit ander iets kan leer as tienduisend in ‘n onbekende taal.” As die verhouding van verstaanbare woorde 5 teen 10,000 in die kerk is, wat behoort dit nie teenoor soekende, ongelowige mense te wees nie. Dr. Hendricks som dit alles op deur te sê dat kommunikasie van die boodskap met jou lewe belangrik is. As ons die Goeie Nuus van Jesus wil kommunikeer, dan moet ons buite die intellektuele sone beweeg, buite die hoogwaardige, ek-is-beter-as-die-res  gesindheid en buite die gebruik van eksklusiewe Christen “lingo” beweeg. Ons moet daagliks uitgaan in die wêreld na al die nasies toe, en ons moet die boodskap wat ons so goed ken kommunikeer met liefde, met gevoel en met openhartigheid, terwyl ons vir die toehoorder wys dat Jesus ook my sonde vergewe, ook my gebreke aanvul met Sy genade en my swakheid sterk maak met Sy krag. Onttrek jy of gaan jy nader?

(Vertaal en verwerk uit Howard Hendricks se boek: Say it with love, Victor Books, Wheaton Illinois. 1976)
 

Watter bediening verkies jy?

1 Tim. 4:13 Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.

‘n Bediening wat ons vertel wat ons wíl hoor, of ‘n bediening wat ons vertel wat ons móét hoor? Watter een kies ons? Dit is die vraag waarop David de Bruyn sinspeel in sy artikel Gemeentelike Bediening: Relevant of Bestendig? Oor die algemeen verwag mense dat, as die bediening van die Here die moeite werd wil wees, dit relevant (wat mense wil hoor) moet wees.  Dit lyk dan ook of predikante en Christene bang is om as irrelevant geëtiketteer te word. Die idee is dat, as ‘n bediening buite die bereik bly van die gemiddelde Christen se belangstellingsveld, so ‘n bediening nie daarin sal slaag om te groei of verandering mee te bring nie. Volgens die huidige generasie moet Christenskap op so ‘n manier aangebied word dat die grootste hoeveelheid mense daarby aanklank kan vind.  Met die eerste oogopslag lyk dit prysenswaardig en nie verkeerd nie, maar kyk mooi na wat dit impliseer:  “Christenskap moet aantreklik gemaak word – die hoofdoel is om te konformeer eerder as konfronteer”.  Die doel is ‘n mens-gesentreerde, behoefte gedrewe  bediening en nie ‘n God-gesentreerde, waarheid gerigte bediening nie. Christenskap moet volgens populêre vereistes herverpak word, totdat dit in die guns val van ‘n gehoor wat oorgegee het aan nuwerwetse gesinstrukture, toegeeflike ouerskapstyle,  disfunksionele huwelike en rebelsheid. Relevansie is die nuwe orde.

Eenvoudig gestel: Die kerk verskuif sy fokus van waarheid gerigte Bybelse aanbidding na vermaaklikheid en populêre, “voel-goed” sielkunde. In plaas van om te konfronteer met die waarheid oor rebelsheid, ongehoorsaamheid, liefdeloosheid en wetteloosheid, moet die kerk nou paai, motiveer, die ander pad kyk en oorgee aan sielkundiges, net sodat getalle behou kan word. Mense is opsoek na: Eerstens: Die kerk kan enige vorm van kulturele of populêre metodes aanwend om ‘n gunstige gesindheid in verband met Christenskap te bewerkstellig. Tweedens: Die kerk streef daarna om in voeling met hul post-moderne gehoor te bly.  Derdens:  Die aanbiddingstyl in ‘n kerk moet verander, tradisie verwerp en waarheid en verandering, relevansie en nuwerwetsheid najaag. Hierin lê die ironie - niks is so onvanpas soos gister se modegier nie.  Alle modes verander en is oormôre oudmodies.

In teenstelling is Paulus se woorde aan die jong Timotheus in 2 Tim. 3:14-15  “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.”

'n Bybelse bediening behoort nie ten alle koste relevant te wees of bly nie, maar moet waarheid gerig en bestendig wees. Wat bedoel ons dan met bestendig?  Onveranderlike dinge is dit waarvan God praat en wat Hy doen.  Die Evangelie en die kerk is onveranderlik.  Die volle, geopenbaarde boodskap van God wat in die Bybel onthul word, is onveranderlik.  Ware Bybelse aanbidding is onveranderlik. Dit wat waar, reg, goed, regverdig, rein, lieflik, en lofwaardig is, is onveranderlik en uit die aard van die saak, bestendig. Kom ons stel dit op ‘n ander manier:  ware Christenskap moet daarop gerig wees om die onveranderlike te erken deur die veranderlike daarby aan te pas. As ons huwelike met die Bybelse waarheid gekonfronteer moet word, het ons nie relevansie of gewildheid nodig nie, maar waarheid oor die sonde wat die probleem veroorsaak het. Ons het ‘n bestendige en liefdevolle vermaning nodig om ons na die waarheid uit sonde terug te bring.

Wat kies jy?