Saterdag 28 Oktober 2017

Die Onfeilbare Teenwoordigheid

Gen. 28:15  En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.

Dit is die eerste van baie beloftes van God se onfeilbare teenwoordigheid in die lewens van diegene wat Hom vertrou. Dit is wat die Here aan Jakob gesê het toe hy besig was om te vlug van die ongeregverdigde toorn van Esau. Let ook op God se belofte aan Josua: “Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” (Jos. 1:5)
 Daar is ook Sy belofte aan Sy uitverkore volk, Israel: “Want die HERE sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie verwerp nie, omdat dit die HERE behaag het om van julle vir Hom ‘n volk te maak.” (1 Sam. 12:22) Daar is baie ander soortgelyke beloftes in die Skrif. Een wat veral God se hart openbaar, is Jesaja 41:17, “Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die HERE, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.”
 Die kosbaarste van almal is egter die versekering aan alle Nuwe Testamentiese gelowiges Hebreërs 13: 5: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Na ‘n baie  vermoeiende lys van uitdagings in Paulus se lewe verklaar hy ook in Romeine 8:39 “(niks) ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” “En kyk, Ek is met julle”, het Jesus in Mattheus 28:20 gesê, “al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”  

Sondag 15 Oktober 2017

Vrede

Vrede is een van die mees essensiële Christelike waardes, maar wat baie Christen ontbreek. Net soos liefde, is vrede nie net ‘n emosie nie, maar ‘n oortuiging van die hart. Die Bybel sê eerstens in Efesiërs 2:14 dat Jesus ons vrede IS. Dis nie ‘n saak van staat (toestand) nie, maar van status (stand). Vir Jesus om ons vrede te wees, moes Hy alle vorme van vyandskap wat daar tusen God en die mens was verwyder en ons met God versoen deur die vyandskap tot niet te maak. Jesus het dit volkome gedoen deur Sy kruisdood en opstanding en ons daardeur toegang tot die Vader gegee. Die Bybel sê tweedens dat Jesus deur sy teenwoordigheid in ons interaksie met ander Christene vir ons vrede BEWERK. In 1 Kor. 14:33 leer ons dat God nie ‘n God van wanorde is nie, maar van vrede “soos in al die gemeentes van die heiliges”. Die Here se teenwoordigheid in ons gemeentelike byeenkomste is ‘n bron van vrede vir ons. Die gemeenskap van die heiliges bewerk vrede in ons harte omdat ons met ander te doen het wat ons liefhet. Die Bybel sê ook laastens dat Jesus se bediening aan ons, ons vrede BEWAAR. Paulus leer ons in Ef. 2:17 dat “Hy (het) die evangelie van vrede kom verkondig” het. Jesus het pertinent gekom om ons vrede te kom gee deur ons toegang te gee “deur een Gees tot die Vader”. Omdat Jesus daagliks vir ons intree by die Vader, word ons vrede bewaar. In Filippense 4:6-7  kry ons die opdrag, “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” Jesus is, bring en bewaar vrede in ons harte en gedagtes al voel ons nie die vrede nie. Vrede in ons lewens is dus as gevolg van die teenwoordigheid en bediening van Jesus in ons lewens en nie bloot net ‘n emosie of gevoel nie, dit is die wete (innerlike oortuiging) dat God in beheer is. Wat ookal gebeur, die Here Jesus is by ons om ons op elke lewenservaring te vergesel en om ons vrede te gee en dit te bewaar.