Maandag 25 Februarie 2019

Psalm 3 - Net die Here kan help!

Ons kry hier n kykie in die hart van Dawid wat onder druk was. Is Dawid nie net besig om homself te bejammer nie? Om te kla oor sy lot nie? Wel, stel jouself voor dat jou eie kind teen jou draai en dat jy skielik n klomp vyande het wat jou lewensreg bedreig. Hierin is 'n stuk wysheid vir ons, maar eers 'n paar retoriese vrae. Kan die Here vir ons 'n skild wees as niks ons bedreig nie? Kan die Here ons beskerm as ons nie aangeval word nie? Kan die Here vir my opstaan as ek nie in nood verkeer nie? Die antwoord is ook die punt van die Psalm. God is gekant teen onreg en skryf deur Dawid n Psalm oor sy eie stryd met die vyande van die Here Jesus. "Dit is net die Here wat kan help" (v9). 'n Skild word benodig as die pyle teen ons afgevuur word. 'n Beskermheer word benodig as ons aangeval word. Ons het die Here nodig om ons van onreg te red. Eendag sal die Here God self die Here Jesus regverdig deur sy heerskappy op die troon van Dawid. Dit is net die Here wat kan help. 

Woensdag 20 Februarie 2019

Psalm 2 - Nie-Bedreigende Outoriteit

‘n Messiaanse Psalm want dit wys iets van Jesus voor hy nog gekom het. Ek besef dat ek nie rerig gemaklik is met verantwoordelikheid en outoriteit nie. Dis nie lekker om gesĂȘ te word wat ek moet doen en aan ander se verwagtinge te voldoen nie. Dis nog slegter as ek hoor ek het iets verkeerd gedoen of om te voel ek voldoen nie aan ander se standaarde nie. “Ons wil (eerder) vry word, ons wil nie meer dien nie. Ons wil die toue stukkend breek waarmee hulle ons vasgemaak het.” Soms voel ek daar is nie ‘n uitkoms nie, my lewe word deur iemand anders beheer, gedomineer en gemanipuleer en dit maak gevoelens van opstandigheid in my wakker. Die wonder van Jesus Christus is dat God Hom as gesalfde ge-oormerk het om die nie-bedreigende outoriteit in my lewe kan wees.

Psalm 1 - Nie-ooglopende Voorspoed

Ons voorspoedigheid is nie altyd ooglopend nie. Ek sukkel soms om te onderskei tussen die voorspoedigheid van die Christen en nie-Christene. Hoe kan ons anders as om mismoedig te voel as dit lyk asof daar nie rerig 'n voordeel is in Christenwees nie. Dit is boonop harde werk. Ek kan dus verstaan dat ons en ons kinders begin moed verloor en eerder ingee onder druk. Dis dan wanneer ons geloofsperspektief vernou. Ons soek sigbare voorspoed. Ek moet myself en my kinders gereeld herinner dat die Christen-lewensboom wat by 'n waterstroom staan is nie gesteld op selfpreservering nie, maar gooi n skaduwee waaronder reisigers kan rus. So 'n boom dra vrug wat ander se honger en dors les. Die voorspoedigheid van so n boom is nie in uiterlike welvaard en populariteit onder vriende nie, maar die voordeel is  in die innerlike waterbron en lewenskragtigheid wat die Gees van God verskaf. Dalk sien niemand dit raak nie, maar God sal sorg dat jy staande bly.