Sondag 26 November 2017

Vrees nie die dood

Vertaal uit C.H. Spurgeon se Morning and Evening boek bl. 222

Kind van God, die dood het sy angel verloor omdat die duiwel se mag daaroor vernietig is. Hou dan op om die dood te vrees. Vra genade van God dat hy jou deur 'n intieme kennis en 'n vaste oortuiging van jou Verlosser se dood versterk kan word vir daardie uur. Om naby die kruis van Golgota te bly, is om met belangstelling aan die dood dink, en dit  te verwelkom met blydskap. Dit is ‘n seëning om in die Here te sterf. Die dood is nie meer ‘n ballingskap nie, dit is 'n terugkeer uit gevangenis, 'n huis toe gaan na die baie wonings waar ander geliefdes reeds woon. Die afstand tussen die wat reeds in verheerlikte liggame wag in die hemel en die strydende heiliges op aarde lyk oorweldigend groot, maar dit is nie so nie. Ons is nie so ver van ons ewige tuiste af nie - 'n oomblik bring ons daar. Die seile is reeds gespan en die siel het reeds op die oop waters uitgevaar. Hoe lank sal die reis wees? Hoeveel moeisame winde sal die seile moet trotseer, voordat dit land in die hawe van vrede? Hoe lank sal daardie siele oor en weer op die golwe geslinger word voordat dit kan anker in die see wat geen storms ken nie? Luister na die antwoord, dit kom as ons "afwesig van die liggaam (en) teenwoordig by die Here" is. Daardie skip wat pas vertrek het, het reeds sy hawe in sig. Dit het maar skaars sy seile gespan en dit was daar. Soos die skip van ouds, aan die meer van Galiléa, het 'n storm dit rondgeslinger, maar Jesus het gesê: "Vrede, wees stil," en dadelik het hulle gearriveer. Moenie dink dat 'n lang lewensloop die tydsduur tussen die dood en die ewigheid van glorie sal belemmer nie. Wanneer ons die oë op die aarde sluit open ons dit in die hemel. Die vuurperde wat ons weg versper is maar 'n oomblik op die pad. Kind van God, wat is daar dan te vrees wat betref die dood as die vloek en angel daarvan deur die dood van jou Here vernietig is? 

Donderdag 09 November 2017

God sal jou nooit ooit verlaat nie

Deut. 31:6 “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.”

Die belofte dat God nooit sy volk sal verlaat nie kom dikwels in die Skrif voor. Hier gee Moses die belofte eers aan die kinders van Israel en toe aan Josua persoonlik. In werklikheid het dit begin by die belofte wat God aan Jakob gemaak het toe hy sy God-geordende rol moes aanvaar het “En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.” (Gen. 28:15) Dit is weer aan Josua herhaal. “Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie… Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” (Jos. 1:5) Dawid het dieselfde belofte aan Salomo oorgedra toe hy as koning verantwoordelikeid aanvaar het vir die bou van die groot tempel.  “Wees sterk en vol moed, … Hy sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie, totdat jy al die dienswerk aan die huis van die HERE voltooi het” (1 Kron. 28:20). Dalk is daar iets wat jy in die naam van die Here moet gaan doen, maar jy weet nie hoe en waar jy die moed vandaan sal kry nie.  Jy kan vandag vertroosting vind in dieselfde wonderlike belofte van Hebreërs 13: 5. “Want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Ons kan ook met vrymoedigheid sê soos verse 6 verklaar: “Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” Wat vers 5 so merkwaardig maak, is die feit dat daar in die Grieks vier verskillende dubbelle negatiewe stellings gebruik word in een vers. Letterlik vertaal verklaar vers 5: “Nooit ooit, Ek sal jou nooit ooit begewe en nooit ooit jou verlaat nooit ooit.” Dit is sekerlik een van die “grootste en kosbare beloftes” (2 Petrus 1: 4) wat God aan ons gee.

Donderdag 02 November 2017

Ons het tot hier gekom

Deut. 26:7-9  Toe het ons die HERE, die God van ons vaders, aangeroep; en die HERE het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien;  (8)  en die HERE het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders;  (9)  en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.

Voel jy dalk ook dat hierdie jaar eenvoudig net te lank is? Of dalk het jy al teruggekyk na die laaste jaar en byna moed verloor omdat jy voel dat jy misluk het. Luister na die volgende trooswoorde uit ‘n ongewone oord. Moses sê in Deut. 26:9: “God het ons tot hier gebring...”  Dit was Moses se woorde toe hy tussen die ander leiers van Israel gestaan het en hulle wou lei om, ten spyte van hulle sonde en mislukkings in die verlede, die werk van die Here te ondersteun met hulle aardse besittings. Dit is natuurlik maklik om verantwoordelikheid te neem en suksesvol te wees as alles goed gaan en daar is geen uitdagings nie, maar ons almal weet dit werk nie so nie. Hoor wat bely Moses in Deut. 26:6  “Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en ‘n harde diens op ons gelê.” Die Egiptenaars het die lewe vir hulle moeilik gemaak en glo my daar is ‘n hele paar “Egiptenaars” wat agter jou aan is om jou lewe vir jou moeilik te maak. Wat doen ons moet hulle? Wel, die antwoord wat Moses bied is ietwat ongewoon. Hy verklaar dat as hulle gee van hulle aardse besittings soos die Here voorgeskryf het, sou die Here ‘n verklaring oor hulle maak en hulle groter maak as enige ander nasie en hulle lof en eer gee. 

Liewe vriende, God het ons tot hier gebring, laat ons dit nie vergeet as ons gee van dit wat ons van die Here ontvang het nie, soos bv. ons tyd, finansies en talente/gawes. Laat ons Hom ook hierin gehoorsaam wees.