Maandag 17 Maart 2014

Watter bediening verkies jy?

1 Tim. 4:13 Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.

‘n Bediening wat ons vertel wat ons wíl hoor, of ‘n bediening wat ons vertel wat ons móét hoor? Watter een kies ons? Dit is die vraag waarop David de Bruyn sinspeel in sy artikel Gemeentelike Bediening: Relevant of Bestendig? Oor die algemeen verwag mense dat, as die bediening van die Here die moeite werd wil wees, dit relevant (wat mense wil hoor) moet wees.  Dit lyk dan ook of predikante en Christene bang is om as irrelevant geëtiketteer te word. Die idee is dat, as ‘n bediening buite die bereik bly van die gemiddelde Christen se belangstellingsveld, so ‘n bediening nie daarin sal slaag om te groei of verandering mee te bring nie. Volgens die huidige generasie moet Christenskap op so ‘n manier aangebied word dat die grootste hoeveelheid mense daarby aanklank kan vind.  Met die eerste oogopslag lyk dit prysenswaardig en nie verkeerd nie, maar kyk mooi na wat dit impliseer:  “Christenskap moet aantreklik gemaak word – die hoofdoel is om te konformeer eerder as konfronteer”.  Die doel is ‘n mens-gesentreerde, behoefte gedrewe  bediening en nie ‘n God-gesentreerde, waarheid gerigte bediening nie. Christenskap moet volgens populêre vereistes herverpak word, totdat dit in die guns val van ‘n gehoor wat oorgegee het aan nuwerwetse gesinstrukture, toegeeflike ouerskapstyle,  disfunksionele huwelike en rebelsheid. Relevansie is die nuwe orde.

Eenvoudig gestel: Die kerk verskuif sy fokus van waarheid gerigte Bybelse aanbidding na vermaaklikheid en populêre, “voel-goed” sielkunde. In plaas van om te konfronteer met die waarheid oor rebelsheid, ongehoorsaamheid, liefdeloosheid en wetteloosheid, moet die kerk nou paai, motiveer, die ander pad kyk en oorgee aan sielkundiges, net sodat getalle behou kan word. Mense is opsoek na: Eerstens: Die kerk kan enige vorm van kulturele of populêre metodes aanwend om ‘n gunstige gesindheid in verband met Christenskap te bewerkstellig. Tweedens: Die kerk streef daarna om in voeling met hul post-moderne gehoor te bly.  Derdens:  Die aanbiddingstyl in ‘n kerk moet verander, tradisie verwerp en waarheid en verandering, relevansie en nuwerwetsheid najaag. Hierin lê die ironie - niks is so onvanpas soos gister se modegier nie.  Alle modes verander en is oormôre oudmodies.

In teenstelling is Paulus se woorde aan die jong Timotheus in 2 Tim. 3:14-15  “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.”

'n Bybelse bediening behoort nie ten alle koste relevant te wees of bly nie, maar moet waarheid gerig en bestendig wees. Wat bedoel ons dan met bestendig?  Onveranderlike dinge is dit waarvan God praat en wat Hy doen.  Die Evangelie en die kerk is onveranderlik.  Die volle, geopenbaarde boodskap van God wat in die Bybel onthul word, is onveranderlik.  Ware Bybelse aanbidding is onveranderlik. Dit wat waar, reg, goed, regverdig, rein, lieflik, en lofwaardig is, is onveranderlik en uit die aard van die saak, bestendig. Kom ons stel dit op ‘n ander manier:  ware Christenskap moet daarop gerig wees om die onveranderlike te erken deur die veranderlike daarby aan te pas. As ons huwelike met die Bybelse waarheid gekonfronteer moet word, het ons nie relevansie of gewildheid nodig nie, maar waarheid oor die sonde wat die probleem veroorsaak het. Ons het ‘n bestendige en liefdevolle vermaning nodig om ons na die waarheid uit sonde terug te bring.

Wat kies jy?
 

Geen opmerkings nie: