Dinsdag, 11 Februarie 2014

Hulp vir die Hulpelose


Gal. 6:1-3  Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.  Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.  Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.

Alhoewel baie mense vandag wil ontken dat hulle hulp nodig het, is dit ‘n Bybelse waarheid dat Jesus Christus die kerk gemaak het om op ‘n sekere manier te werk te gaan om hulp aan die hulpelose te bied. Dit is nie maklik vir die deursnee Christen om te erken dat hulle soms die skoene van die hulpelose kan volstaan nie. Hulpeloses is soos ons teks in vers 1 verklaar, diegene wat “deur een of ander misdaad (swakheid of sonde) oorval word.” As dinge begin skeefloop in mense se lewens, dan is dit aanvanklik nie so erg nie. Verkeerde gesindhede van rebellie, huweliksontrouheid of onrus, verslawing aan verbode middels en media, biddeloosheid en kerkloosheid is vir die meeste vandag aanvaarbare sondes wat in privaatheid gedoen en onderdruk word. Die eerste ruk sal hulle dit wat fout is probeer wegsteek, wegpraat of liewers wil vergeet. Hulle wil nie daaroor praat nie en hoop dit gaan sommer van self weg. Hierdie kop-in-die-sand metode, verhoog net die vlakke van frustrasie en die risiko vir depressie - as dit nie alreeds ingetree het nie. As die situasie dan verder ontrafel, sal die meeste ‘n baie populêre stap neem, Google dit! Of miskien ‘n boek by die Biblioteek uitneem, die immer gewilde “talk show” (dr. Phil of dr. Oz) of TV sepie raadpleeg om uit te vind hoe hulle dit moet oplos. Die meeste kere bied hierdie Google of TV gerigte self-help sielkunde net ‘n tydelike antwoord, maar dinge keer dan stadig maar seker weer terug na “normaal”. As dit nie werk nie, probeer mense dan ‘n vriend soek, of ‘n familielid wat hulle dink hulle kan vertrou en poog dan om hulle hart teenoor die persoon uit te praat in die hoop dat die uitlating van die emosies en frustrasies die oplossing sal bied. Dit gaan gewoonlik gepaard met verwyte, oordrewe, halwe waarhede of selfbejammering. As dit ook nie help nie, en dinge raak nog verder buite beheer, sal hulle ‘n sielkundige of die meer hedendaagse “lifestyle coach” oorweeg. Met ‘n sekere hoeveelheid medikasie, wat die emosionele effekte van depressie verdoof, of ‘n paar “dinamiese” self-help stappe om te volg, kan die persoon vir jare voel asof alles nou reg is en dat die probleem dalk weggegaan het. Maar het dit? Kom ons wees eerlik, daar was nog nooit soveel self-help middels, “talk show” programme, TV sepies, toegang to Google ens. nie, maar die probleme bly nog dieselfde. Om die waarheid te sê, word die hedendaagse druk en probleme net erger.

Die belangrikste rede hiervoor is dat die Bybelse oplossings nie as ‘n opsie beskou word nie. Die meeste self-help middels bied ‘n tydelike oplossing aan of die verdowing van die simptome. Dit bied nie ‘n eerlike en soms ontnugterende kykie na die rol van eie sonde nie. Die vraag is dus, kan ‘n mens jouself help as jy nie bereid is om eerlik te wees oor die ware fout nie? Kan ‘n mens dus maar net aangaan met self-help of verdowingsmiddels tipe oplossing en hoop die probleem gaan mettertyd weg?

Volgens Paulus, is dit eerstens belangrik om te weet dat as iemand deur “een of ander misdaad (swakheid/probleem)” oorval word, so ‘n persoon die Here se hulp nodig het. Die belangrikste ding wat ons moet besef is dat hierdie “misdaad” wat in die privaatheid gedoen word, werklik ‘n “swakplek in die liggaam van Christus veroorsaak” en die Heilige Gees bedroef (Ef. 4:30) en wyer skade aanrig as wat ons dink. Ons kan onsself dus nie flous deur te dink dit is nie so erg nie of dink dat ons onsself uit sekere situasies kan uitred of uithelp nie, net die Here Jesus kan dit doen deur ander geestelike mense te gebruik. Hierdie “reghelp” is volgens Jakobus 5:20 baie belangrik, want dit verklaar soos volg: “laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes bedek.”  Tweedens kan ‘n mens, volgens Paulus, nie gehelp word as dit nie ‘n gesant van Jesus Christus, ‘n “geestelike” persoon, is nie. Die een wat wil help, moet ‘n geestelike Christen wees wat hom of haarself deur die Heilige Gees laat lei en nie deur selfsugtige begeertes of eie belang nie. Dit is ook die waarde van die gemeente en sy herder-leraar en diakens. Hulle is geestelike, meer volwasse Christene, en in die geval van die leraar is dit hulle verantwoordelikheid om “as herders toesig (te) hou oor die kudde van God” (1 Pet. 5:2), en wat moet “waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee…”.   Tog sal baie min mense eerstens aan die leraar dink as hulle ‘n probleem het of sukkel om ‘n besluit te neem. Derdens sê Paulus dat so ‘n persoon “reg gehelp” moet word, wat impliseer dat die persoon nie “reg” is en self kan regkom nie.  Paulus sê ook in vers 3, “Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.” Daarmee impliseer hy dat persone wat hulp nodig het, nie altyd sal erken dat hulle hulp nodig het nie en dat die wat vra vir hulp nie sal erken dat hulle verkeerd is nie. Die meeste mense wat hulp nodig het ontken dat hulle probleem so erg is, en as hulle wel vir hulp vra, het hulle hul eie idees hoe dit gedoen moet word en wil dan voorskryf hoe hulle dink hulle gehelp moet word. En as jy hulle durf teëgaan, of met hulle verskil, sal hulle opstandig of kwaad word, en nie verder wil saamwerk nie. Daarom sê Paulus in 2 Tim. 2:25-26 dat hulle wat hulp nodig het in die “strik van die duiwel… gevang (is)… om sy wil te doen.”, en dat hulle wat wil help “die weerspanniges in sagmoedigheid (moet) teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, en hulle weer nugter kan word…”. Hierdie opstandigheid of weerspannigheid (ek is kwaad en wil nie saamwerk nie, al sê en doen jy wat) sal enige poging om te help kelder en kan vir jare duur en vereis baie geduld by die wat met so ‘n Christen moet saamleef of geestelik genoeg is om te kan help.  

Ten spyte van die feit dat sommige mense nie wil vra vir hulp nie, of nie wil erken dat hulle gehelp moet word nie, of op hulle eie manier gehelp wil word, of sommer net botweg weier om daaroor te praat, het die kerk van die Here Jesus steeds die opdrag om vir hulle te sorg wat soms af dwaal. Die liggaam moet hulle liefhê, probeer bedien met die waarheid en hulle tot inkeer probeer bring. As lede van die liggaam, moet ons altyd bid dat diegene wat ‘n “siekte” onder lede het, sal instem om saam te werk om die hulp te ontvang, sodat die liggaam gesond kan word.   
In liefde en baie gebed vir elkeen...

Geen opmerkings nie: