Maandag 17 Maart 2014

Die Sonde van Stilswye

In sy boek “Share Jesus without fear.”, verklaar William Fay dat die dodelikste wond wat Jesus tydens sy kruisiging toegedien is, “the wound of silence” was. Niemand het opgekom vir Jesus nie! Toe Jesus in hegtenis geneem is, het sy mees lojale en uitgesproke dissipel nie weggehardloop nie, maar op ‘n veilige afstand gevolg sonder om ‘n woord te sê. Party van die mense wat daar byeengekom het, het Petrus erken as een van die Jesus se dissipels. “Was jy nie saam met Jesus nie?”, het hulle gevra. Maar Petrus het dit ontken en gesê: “Ek ken die man nie.” Terwyl ons gou sal wees om ons van Petrus te distansieer, is daar tog ‘n ontstellende ooreenstemming. Deur nooit ons monde oop te maak om te getuig nie, sê William Fay, ontken ons eintlik dat ons Jesus ken. Ons ontken hom deur ons stilswye!  Terwyl ons opgewonde moet wees oor ons geloof en oorloop van Jesus, veral omdat ons daardeur gered is en dat daar soveel Bybelse eindtyd profesieë in ons dag vervul word, bly ons eerder stil. Net soos Petrus van ouds, is ons ook soms geneig om die sonde van stilswye te kies.

Toets gou jouself, se William Fay, vir die tekens van ‘n stilswyende en sterwende Christelike lewe: Het jy al ooit getuig van jou geloof? Het jy al vir enige iemand die goeie nuus van die evangelie gegee? Het jy slegs Christen vriende? Het jy ooit te doen met uitgeworpe sondaars, die wat hulp soek, of is jy net met jou eie persoonlike groepie vriende gemoeid?

Christene wat getuig, val in twee groepe, die wat OOR die verlore wêreld praat en die wat MET die verlore wêreld praat. Die eerste groep is vriendelik, gee drukkies, stuur e-posse met motiverende dagstukkies, beloof dalk om te bid vir ‘n saak en gebruik selfs ‘n Johannes 3:16 plakker agter op die kar. Hulle pogings in lewensredding is soos om ‘n klein pleistertjie op ‘n bloeiende wond te plak. Hulle is vriendelik, maar  vaag en bly soos Petrus op ‘n veilige afstand, steeds in die sonde van stilswye. Hulle offer klein brokkies informasie, wat lei tot hongersnood, maar weerhou die versadigende voeding van die Brood van die Ewige Lewe. Daar is dalk niks fout met hulle kerkbywoning nie en hulle is verseker goeie Christelike mense, maar hulle getuienis aan hulle vriende en familie kan met ‘n vraag opgesom word. Die vraag word 4 keer deur Paulus gebruik in  Rom 10:14-15 herhaal: “Hoe kan hulle…?” M.a.w. Hoe kan jou vriende God vind, in Hom glo en tot bekering kom, as jy nie na hulle toe gaan en hulle die evangelie by jou hoor nie? Hoe kan die Heilige Gees hulle tot bekering lei, as hulle nie die Woord van God, wat die Heilige Gees gebruik, uit jou mond hoor en in jou lewe sien nie?   Die sonde van stilswye eindig met die vraag: “Hoe kan hulle… tot bekering kom?” 

William Fay sê dat navorsing toon dat ongelowiges ‘n totaal van 7.6 keer die evangelie moet hoor, voordat hulle ‘n oorgawe maak? Elke keer as jy met ‘n ongelowige praat moet jy bewus wees van die feit dat dit een tree nader is aan die 7.6 keer wat hy of sy dit moet hoor voordat hulle tot oorgawe kom. Sommige bely: “Maar ek het gedink ek moet met elke gesprek iemand tot bekering probeer bring en ek is bang ek faal!” 

Liewe vriend, die Here het jou gevra om getrou te wees om jou geloof met ander te deel. Of jy nou besig is om die saad van die Woord te saai deur ‘n evangeliese gesprek, of besig is om die saadjie wat reeds gesaai is water te gee deur liefde, of jy besig is om die oes af te haal – jy is besig om getrou te wees! Dit is wat God van jou verwag – GETROUHEID! Daarom moet jy elke keer as jy met ‘n mens praat, probeer bepaal of hulle vir die eerste keer die evangelie hoor, en of hulle dit al baie keer gehoor het en gereed is vir bekering en of hulle alreeds tot bekering gekom het. Jy kan dus nie faal nie! As jy die sonde van stilswye pleeg omdat jy bang is om te faal in evangelisasie, dan moet jy die sonde bely en weet dat jou sukses nie is om mense te red nie – dis God se werk! Sukses vir jou is om jou geloof met ander te deel. Klein treëtjies in die begin, met groter treë later. Begin deur te BID vir geleenthede om met mense te praat. Tweedens, BEPLAN wat jy gaan sê – dink aan ‘n vraag oor wat belangrik is in hulle lewens, en hoe die Woord of Jesus ‘n verskil gemaak het. Werk aan jou getuienis van ‘n tyd in jou lewe waar die Here en die Woord jou deurgedra het. Raak dan BESIG met mense deur spontane kommunikasie en volg jou plan.  Dis al! Nie so moeilik as wat jy dink nie? Hoekom bely jy nie die sonde van stilswye en begin vandag getuig nie?

(Vertaal en verwerk uit William Fay se boek: Share Jesus without Fear, The Gideons International, Nashville, Tennessee. 1999)
 

Geen opmerkings nie: