Donderdag 29 Mei 2014

Hemelvaart

Vandag gedenk alle Christene van regoor die wêreld die hemelvaart van Jesus Christus. Wat ‘n triomfantlike waarheid dat Jesus Christus nie net uit die dood uit opgestaan het nie, maar dat Hy ook met heerlikheid in die hemel opgevaar het. Met hierdie gebeurtenis, het die Here Jesus ‘n hele aantal onbetwyfelbare getuies agtergelaat, nl. (1) die leë graf - As Jesus nie opgestaan het en opgevaar het nie, sou die godsdienstige leiers ‘n liggaam geproduseer het en daarmee saam die evangelie gekelder het. (2) Die lewende getuies – Talle getuies het die lewende Christus na sy opstanding gesien, met Hom gepraat, saam met Hom geëet, Sy opdragte ontvang en Hom in die hemel sien opvaar. (3) Die koms van die Heilige Gees tydens Pinkster – Die Heilige Gees se toetrede tot die innerlike ervaring van individuele Christene in die Nuwe Testament gemeentes, was ooglopend en ingrypend. Nie net het mense tot bekering gekom nie, maar hulle het radikale veranderinge aan hulle lewenstyle gemaak. (4) Die stigting van die gemeente – Die totstandkoming en uitbreiding van die enkel grootste organisasie van alle tye, wat in die naam van Jesus gesorg het onder andere vir die Joods-Christelike wetstelsel, die opvoedkunde, die mediese professie en die afskaffing van slawerny (natuurlik nog baie meer). Al hierdie dinge het wêreldgeskiedenis so beïnvloed, dat ons vandag nog die vrugte pluk as gevolg daarvan. Wat is dan die betekenis van hemelvaart vir ons?  As ons dink aan die geweldige invloed wat Jesus se eerste kom gehad het, wat sal die gevolge wees van Sy tweede koms. Jesus het in Johannes 14 gesê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar ek is.”  As gevolg van die hemelvaart, sal daar ‘n heerlike dag aanbreek waar die Here Jesus, na die geskal van die basuin, ons sal kom haal om by Hom te wees. Op daardie dag, wat dalk gouer kom as wat jy dink, sal Jesus Christus ons fisiese, verganklike en gebroke oorlewingsbestaan omskakel na ‘n geestelike, onverganklike en volmaakte oorwinningstriomf.  

Geen opmerkings nie: