Donderdag 14 Augustus 2014

Voortsetters van die werk van die Here

Daar is geen twyfel dat alles wat met die ware God te doen het vandag onder druk verkeer. Die grootskaalse afskaffing van Christenskap in Amerika en Europa, die vervolging van Christene in Iraq en die uitwissing van Israel is alles pogings om die werk van God stop te sit. Die Bybel is nie onvertroud met hierdie stryd teen God en die waarheid nie en deurgaans word ons ingelig oor die geskiedenis van die onsuksesvolle pogings om God en sy mense uit te wis. Ten spyte van die mens se grootskaalse mislukking en die vyand se beste pogings, is daar altyd diegene wat God gebruik om sy werk voort te sit. 

In die derde hoofstuk van Esra lees ons hoe die leiers in Israel, nadat hulle terugkeer het na Jerusalem, te werk gegaan het om die werk van die Here voort te sit. Na sewentig jaar se ballingskap en met alle strukture wat deur die Babiloniërs tot op die grond afbreek is, moes hulle soos vreemdelinge in hulle eie land gevoel het. Daar was letterlik geen struktuur wat skuiling en veiligheid sou kon bied nie. Hoe sou hulle hierdie ontvreemding hanteer? Waar sou hulle begin om die werk van die Here, wat sewentig jaar terug onderbreek is as gevolg van hulle eie sonde, voort te sit? Hoe sou hulle “die skrik vir die volke van die lande (wat) op hulle gekom het” en die onsekerheid en twyfelagtigheid wat daarmee gepaard sou gaan te bowe kom om die werk van die Here voort te sit? Sal daar hoegenaamd enige iets oorbly van God en van Israel? Ons lees dat die volk soos “een man in Jerusalem byeengekom” het en dat Jésua, sy broers en Serubbábel “die altaar van die God van Israel gebou (het) om daar brandoffers op te offer”. Omdat dit alles op die sewende maand plaasgevind het – die Nuwejaarsdag van Israel – is dit betekenisvol om te weet dat God dit so bepaal het. Dit was ‘n nuwe begin, vry van die slawerny wat ballingskap gebring het. Die sewende maand is volgens die wet die huttefees maand. Hulle het die Loofhuttefees, wat ‘n toewydingsfees is wat Israel teruggewys na die hulle woestynreis na die beloofde land, weer ingestel en is weer opnuut herinner aan die koms van die Messias en die instelling van die Vrederyk. Serubbábel, die kroonprins van Israel en ‘n voorsaat van Jesus Christus en Jésua, die hoëpriester, het die volk gelei om die voortsetting van die werk van God by die altaar van skuldbelydenis, heilige toewyding en heenwysing na Jesus Christus te begin. So 'n grafiese herinnering aan die moederbelofte van die koms van die Verlosser en die instelling van ‘n Messiaanse Vrederyk, sou hulle vrese besweer en hulle gemotiveer het om die werk van die Here voort te sit. Hierdie werk van die Here, wat die herbou van die altaar en die tempel behels het, het eerstens streng plaasgevind “soos geskrywe staan in die wet van Moses, en tweedens onder die streng toesighouding van geestelike leiers. Hierdie strengheid het nie die mense ontstel nie, want dit was God se werk en moes reg gedoen word. Dit was hoegenaamd nie depressiewe tye nie, maar heuglike tye in die lewe van die volk. Ons lees dat die fondasie van die tempel gelê is deur dieselfde manne wat die altaar gebou het. Net toe die fondasie gelê is, het die volk nie bloot net die aanbiddingsprosessie van die leiers gevolg nie, maar spontaan uiting gegee aan hulle dankbaarheid en lof aan God wat dit alles moontlik gemaak het. Die ouer mense se dankbaarheid is gemeng met heimwee, omdat hulle teruggedink het aan die glorie van die eerste tempel wat sou verskil met hierdie weergawe, maar uiteindelik was almal oorstelp van blydskap vir dit wat die Here gedoen het om weer sy werk in Israel voort te sit. 

Met die koms van Jesus Christus, het die Here weer na baie jare se stilte Sy werk begin voortsit in die wêreld. God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het as Waarborg van Sy toewyding tot die voortsetting van Sy liefdeswerk. Ons weet dat Israel hulle Messias verwerp het en tot vandag toe nog weier om Hom as hulle Verlosser te erken. Jesus, ‘n ware Voortsetter van die werk van die Here, het egeter net soos Sy oer oupagrootjie Serubbábel, nie toegelaat dat die hardkoppigheid van die Jode die werk van die Here stopsit nie. Jesus sê vir Petrus: “op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matt. 16:18) Die Verlosser en Saligmaker van die mens, het die werk van God voortgesit deur die gemeente te stig. Paulus, ‘n kranige Voortsetter van God se werk sê in “So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God.” (1 Kor. 4:1) En ook “want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” (1 Kor. 9:16) In 3 Johannes 6 bemoedig Johannes die geliefde Gajus deur te sê: “Jy sal goed doen as jy hulle (mense in die gemeente) voorthelp op ‘n voor God waardige wyse.” 

Nog nooit te vore is die waarheid so onder druk en is daar so ‘n nood vir hulle wat die werk van God in moeilike omstandighede voortsit nie. Voortsetters van God wat terugdink aan die kruisdood van Christus Jesus en vorentoe na sy koms, wat bekend staan as getroue dienaars van die Here Jesus en Sy gemeente, wat hulleself vrywilliglik verplig om ander voort te help op ‘n manier wat God se goedkeuring wegdra. Voortsetters van die genadewerk van God en die evangelie van Jesus Christus moet begin by die altaar van skuldbelydenis en toewyding en met hulle lewens heenwys na die hoop van die wederkoms van Jesus Christus. Hulle gee nie om vir die toesighouding van geestelike leierskap nie, want dit is God se werk. Vanuit hulle harte en monde kom daar ‘n dankbaarheid en lofspraak wat vreemd is vir enige wêreldling, want dit is God waardig en sy werk word voortgesit. Is daar ‘n altaar in jou lewe? Is jy onderdanig aan geestelike toesighouers? Doen jy dinge streng volgens dit wat in die Woord geskryf staan? Wys jou lewe die dankbaarheid en lof wat God toekom? Is jy ‘n VOORTSETTER van God se werk?

Geen opmerkings nie: