Vrydag 22 Augustus 2014

Jy kan 'n betekenisvolle lewe leef! - Deel 1

Mense soek op allerhande plekke en maniere na die betekenis van hulle lewens. In Genesis 1:26-27 lees ons: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis... En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” Hierdie verse verduidelik hoe God ons geskape het en hoe hy daardeur betekenis aan ons lewens gegee het. God het ons in Sy gelykenis of beeld geskape en ons lewens waarde gegee. Die gelykenis of beeld waarmee God ons geskape het bevat dieselfde geestelike, morele en sosiale karaktereienskappe as wat God het. Dit beteken dat ons bewus kan wees van dinge om ons, dat ons besluite kan neem en dat ons dankie kan sê. Nadat God ons op hierdie manier geskape het, het God ons geseën en vir ons gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers…(daaroor)” (Gen. 1:28). God het in sy skeppingsaksie en daaropvolgende seëning, volledige betekenis aan ons lewens gegee. Regdeur die Bybel verduidelik God aan ons waar ons ‘n betekenisvolle lewe kan vind, wat die beginsels is waarmee dit werk en hoe dit prakties werk.

Die Here het ons nie robotte gemaak nie, maar persoonlike wesens met ‘n geestelike bewustheid van wie God is en dit wat om ons gebeur, ‘n vrye wil om besluite daaroor te maak en ‘n sosiale vermoë om te kommunikeer. Met hierdie geestelike bewustheid kan ons God se wil verstaan, vrywilliglik besluit om Sy wil te volg en met Hom daaroor kommunikeer om hulp te vrae of dankie te sê. Dit gee betekenis aan ons lewens. My lewe beteken iets as ek dit wat om my gebeur kan verstaan vanuit God se perspektief, as ek kan besluit hoe ek Sy wil gaan uitleef en as ek hom kan dank en aanbid daarvoor. Paulus verklaar in 1 Thess. 2:4 dat dit God se wil is dat “alle mense gered word en tot die kennis van die waarheid kom.” Enige iemand wat ‘n betekenisvolle lewe wil hê, moet dus gered word van ‘n lewe van betekenisloosheid en oorgaan van die koninkryk van die duisternis na die koninkryk van die lig. Betekenisvolheid is dus ‘n geestelike perspektief wat net deur ‘n reddende geloof in die Bybel verkry kan word. Dit is wat God vir jou en my begeer.

Waar kan ons betekenis vind?

Die eerste plek waar ek ‘n betekenisvolle lewe kan vind, is die gemeente. As sosiale wesens wat God se betekenis-gewende wil vir ons lewens wil verstaan en uitleef, het die Here ‘n gemeente voorsien waarin ons interaksie met ander soos ons kan hê. Die definisie van ‘n betekenisvolle lewe kan nêrens beter geïllustreer word as in die werksaamhede en sosiale interaksie van die plaaslike gemeente as die liggaam van Christus nie. Hier kom mense vrywilliglik saam wat vol goedheid is en in staat is om mekaar te vermaan (help) (Rom. 15:14); ‘n plek waar mense hartlik teenoor mekaar is met broederlike liefde (Rom. 12:10); ‘n plek waar geen persoon ‘n ander iets skuld behalwe liefde nie (Rom. 13:8); 'n plek waar mense mekaar nie oordeel nie, maar eerder dít najaag wat tot onderlinge stigting en vrede dien (Rom. 14:13,19); ‘n plek waar mense waak teen verdeeldheid of onenigheid en eerder toegewyd is om gelyke sorg vir mekaar te dra (1 Kor. 12:25); ‘n plek waar ons mekaar dien deur die liefde van Christus (Gal. 5:13) en mekaar se laste dra (Gal. 6:2); in daardie plek kry ons die geleentheid om met ‘n Christus gesinde fokus ‘n waardige lewenswandel na te streef (Ef. 4:1-2); ‘n plek waar mense vriendelik en vergewensgesind teenoor mekaar is (Ef. 4:32) en nog vele meer. (verw.. Ef. 5:18-21; 2 Kor. 11:9; 9:7; Fil. 4:5; Kol. 3:9,12, 13,16; 1 Thess. 3:12; 4:8; 5:11,14; Heb. 10:23-25; 13:7; Jak. 5:9,16; 1 Pet. 4:9; 1 Joh. 4:7,11,12; 2 Joh. 5)

Dit is die geestelike bediening van die plaaslike gemeente “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam…” (Ef. 4:12), sodat mense betekenisvolle lewens kan leef. Vir dit om plaas te vind moet ons “nie meer wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie…” (Ef. 4:17), maar streef daarna om heilig (afgesonder) te leef. (Ef. 4:7,12; Rom. 12:3-6a; 1 Kor. 12:12-27; 1 Pet. 4:11).

Nog ‘n plek wat die Here voorsien het vir ons om betekenis vir ons lewens te vind, is die gesin. Die gesin wat opgemaak is uit die man en vrou huweliksverhouding, asook die ouer en kind verhoudings kan betekenis tot ons lewens toevoeg. Dit is God se wil vir ‘n man en vrou om ‘n gesin te begin deur kinders in die wêreld te bring (Gen. 1:28). Deur middel van die gesinsopset kry individue die kans om sinvolle bydraes te maak in ander se lewens en individue te leer om karakter te bou wat dan deur ‘n betekenisvolle lewe ondersteun kan word.

Nog ‘n plek waar die Here ons lewens betekenis laat kry, is die gemeenskap waarin ons geplaas is. Die Here het bepaal dat die mens se lewe betekenis sal vind as hy die aarde sal vul en daar waar hy kom te leef tot Sy eer (Gen. 1:28; 2:8; 9:1). Die Here het “uit een bloed al die nasies en die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kan soek” (Hand. 17:26). Christene kan betekenis vind deur die groot opdrag in Matt. 28:18-19 uit te leef.

Wat beteken dit vir my? 

Die beginsels van ‘n betekenisvolle lewe is soos volg: Die eerste beginsel is ‘n goeie werketiek. ‘n Betekenisvolle lewe is onder andere die resultaat van ‘n goeie werketiek. Om te werk is nie ‘n straf nie, al voel dit so, want ons weet dat God die mens geskape het om te werk voordat die sondeval plaasgevind het. Ons sien hoe Jesus self daaroor praat as Hy in Johannes 5:17 sê” “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Ons lewens kry dus betekenis as ons getrou opdragte uitvoer en voltooi (Gen. 2:15; Spr. 14:23).

Geen opmerkings nie: