Dinsdag 25 November 2014

Wie Staan Vir Die Here?


Eks. 32:25-26 Toe Moses sien dat die volk bandeloos was—want Aäron het hulle bandeloos laat word tot leedvermaak onder hulle teëstanders— het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel.

Die Here het Israel uit Egipte gered en was stelselmatig besig om hulle voor te berei om die slaaf-identiteit af te skud en ‘n nuwe identiteit aan te leer. ‘n Deel van hierdie verandering was om die wet van die Here te ontvang. Hulle het egter ongeduldig geraak en wou dinge op hulle manier doen. Wat as die een van die enkel grootste gebeurtenisse in die volk se geskiedenis moes wees, het een van die slegste oomblikke in die volk se geskiedenis geword. Hulle het ‘n goue kalf gemaak om God mee te vervang – ‘n nagemaakte god wat hulle kon sien and aan vat en nie ‘n God wat hulle laat vrees nie. Moses het hierdie bandelose gesindheid gesien en het dit gekonfronteer met die uitdaging: “Wie vir die Here is, kom na my toe!” Was dit nie ook Josua wat as leier van die volk vir Israel gesê het: “…kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Jos. 24:25). Het die Here Jesus nie ook dieselfde uitdaging gebied nie: “Kom na my toe…” Die gemeente van Jesus Christus staan vandag voor dieselfde uitdaging. Wie vir die Here is, moet opstaan vir die Here en kom en dien, want as ons nie vir die Here opstaan nie, vir wie staan ons dan?

Geen opmerkings nie: