Sondag 16 November 2014

Daar is geen keer aan die werk van die Here nie.

Jes. 61:11  Want soos die aarde sy plante voortbring, en soos ‘n tuin sy gewasse laat uitspruit, so sal die Here HERE geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies.

Die gedagte dat die bedieningswerk van die kerk en die gemeente nie aan die postmoderne mens se verwagtinge voldoen nie, is besig om Christene se beskouing van die Here Jesus te beïnvloed. Mense sien neer op swakheid en behoeftigheid, net soos die Jode met Jesus. Hul is opsoek na die wonderlike en volmaakte. Swakheid,  behoeftigheid en breekbaarheid word liefs verruil vir dit wat blink, presteer en uitstaan bo die res. Die Bybel sê dat dit juis die  kleinlike en breekbare Spruit of Takkie van die Here (Jes. 4:2; 11:1) is - dit waarop mense neersien as swakheid - wat God sal gebruik in oorwinning. God sal nie volgens menslike vleeslikheid, prestasie en verwagting optree nie. Die vrug wat op Sy werk sal voortspruit kan nie verhinder, gemanipuleer of verydel kan word nie. Die Here gebruik juis die swakke en behoeftige in Sy werk. Israel, net soos baie Christene vandag, wou met eie krag, doelgerigtheid en ‘n mooi voorkoms hulp aan God se werk verleen. Maar God bied die natuur, met die onkeerbare organiese en natuurlik groei prosesse om te illustreer hoe deeglik Hy te werk gaan.  Hy sal Sy lof en geregtigheid op Sy manier laat uitspruit. Wat moet ons doen? Moenie angstig word nie, maar werk geduldig saam met God se plan (Rom. 2:7; 8:24-25; 15:4; 2 Kor. 6:4-5; Gal. 5:5; 6:9; Kol. 1:11; Heb. 6:15; 10:36; 12:1-3).

Geen opmerkings nie: