Volgens CANSA statistieke, word 14 miljoen mense wêreldwyd, elke jaar met kanker gediagnoseer. 90% van alle kankers word veroorsaak deur omgewing- en leefstylverwante faktore, soos bv. rook, dieet en oefening. Meer as ‘n 100,000 Suid-Afrikaners word elke jaar met kanker gediagnoseer. 6 uit 10 Suid-Afrikaners oorleef die gevreesde siekte deur behandeling. 1 uit elke 4 Suid-Afrikaners word op een of ander manier deur kanker geraak, hetsy deur eie ervaring of deelname aan die ervaringe van ‘n familielid of vriend.
Sonder uitsondering, is die diagnose van kanker en die daaropvolgende prognose traumaties en ontnugterend vir enige mens. Behalwe vir die feit dat dit ‘n ontbloting is van ‘n mens se privaatheid, voel dit in baie gevalle soos ‘n mini-doodsvonnis en die einde van ons lewenspad.
So het dit ook gevoel vir June Hunt, die skrywer van die boek CARING FOR A LOVED ONE WITH CANCER, toe haar geliefde oom Charles die nuus gekry het van die kwaadaardige glioom gewas, wat volgens Wikipedia2 ‘n breingewas is wat in die sentrale senuweestelsel begin met ‘n terminale 12 maande leeftyd verwagting.
Vir haar was die ergste, nie net die feit dat haar geliefde oom Charles nie meer lank het om te leef nie, maar dat hy, wat as ‘n ateïs groot geword het en nie die Here Jesus as sy persoonlike Verlosser en Saligmaker ken nie, dalk so sal sterf. Die situasie is boonop vererger deur die feit dat sy sélf onlangs met ‘n aggressiewe vorm van borskanker gediagnoseer is. Om alles te kroon, tap haar besige skedule as publieke spreker, om mense wat deur kanker beïnvloed is hoop te gee asook die behandeling vir haar kanker, alle lewenskrag uit haar uit.
Sy het, ten spyte van haar eie omstandighede, gedoen wat sy geglo het die beste is om te doen – “As die krisistyd kom – reik uit – staan op – gaan!” Sy het al die kreatiewe maniere waaraan sy kon dink, gebruik gedurende die 12 maande om uit te reik na haar geliefde oom en as sy terugkyk was dit die heel beste ding wat sy kon doen. Daar was behalwe die uitreik om op ‘n emosionele manier vir hom te sorg ook die saak van sy redding. Sy het hom so lief gehad dat sy net eenvoudig nie kon dink dat hy nie glo in God nie. Sy het vir die regte tyd gesoek.
Net na sy eerste operasie wat ‘n groot verandering in sy beweeglikheid teweeggebring het, het sy ouder gewoonte haar planne verander en tyd gemaak om by hom uit te kom. Haar oom se vrou wat ‘n Christen was, het geweet dat June beplan om met hom te praat oor sy saligheid. Oom Chalres se vrou het dit so gereël dat hulle ‘n stilplek kon kry om te gesels.
Diegene wat al probeer het, sal saamstem dat enige gesprek met ‘n ateïs nie die maklikste is nie. Daarbenewens is hy as terminaal verklaar. Daar was egter genoeg wedersydse liefde en respek tussen hulle dat sy sommer prontuit met oom Charles kon praat oor geestelike sake. Sy was egter versigtig om nie net met die hele sak patats uit te kom. Sy het toe besluit om die saak te benader deur vir hom die volgende vrae te vra en hom kans te gee om te daarop te antwoord.
· Beskou jy jouself as ‘n ateïs? (Ja, dis waar!)
· Is jy oop vir ‘n gesprek oor God of nie (Ek is oop)
· Beskou jy jouself as ‘n intellektueel eerlike persoon? (Ek dink so)
· Sou jy jouself sien as ‘n soeker na kennis & waarheid? (Ja, beslis)
Nadat sy hierdie vrae gevra het, het sy ‘n groot stuk papier geneem en ‘n baie groot sirkel daarop getrek en die volgende gesê: “Kom ons sê dat hierdie sirkel al die kennis in die wêreld verteenwoordig. Alle formules, feite, geskiedenis, kulturele beginsels, mediese konsepte, musikale formasies en filosofiese beredenering. As die sirkel alle kennis in die wêreld verteenwoordig, dink ‘n bietjie watter hoeveelheid daarvan jy het oom Charles? Teken asb. jou sirkel in die groot sirkel.”
Oom Charles het gedink en ‘n klein sirkeltjie in die groot sirkel getrek. Toe het sy hom weer gevra:
· Jy beskou jouself as oop tot ‘n gesprek oor God en dat jy intellektueel eerlik en ‘n soeker na kennis is, nie waar nie? (Ja, ek het) Ek weet oom Charles is so!
· Kan dit dan moontlik wees dat God buite oom se klein sirkel van kennis bestaan? (hy het gedink – ek moet erken, dit is moontlik)
· As jy erken dat jy nie alles weet wat daar is om te weet nie en dat dit moontlik is dat God kan bestaan buite die sfeer van kennis wat jy het, is dit ook moontlik dat jy nie ‘n ateïs kan wees nie, maar eerder agnosties? Met ander woorde, jy weet nie of God bestaan nie? (Jy kan seker maar so sê)
· As jy agnosties is, kan dit beteken dat jou onsekerheid of God se bestaan ook kan verander in sekerheid – of Hy bestaan of Hy bestaan nie - en dat jou sfeer van kennis groter kan word? (nog nooit so daaraan gedink nie)
· As ‘n soeker na kennis en waarheid, sou oom belangstel om te hoor hoe ander se sfeer van kennis en begrip van waarheid ten opsigte van God uitgebrei het? (Ek reken so)
Op hierdie stadium het sy met hom gepraat oor ‘n paar mense wat hy goed ken en respekteer en wat tot redding gekom het en ‘n opregte Christen getuienis het. Hy het heeltyd instemmende geknik en bevestig dat elkeen van hulle ‘n noemenswaardige bydrae in sy lewe gehad het. Oom Charles het met intense belangstelling geluister en deelgeneem in die gesprek. Sy het verder verduidelik dat elke mens uit liggaam, siel en gees bestaan. Die liggaam is tasbaar, aards en sterflik en die siel en gees nie-tasbaar en onsterflik. Die liggaam is tydelik en bestem om te sterf, maar die gees sal vir ewig bestaan - vir ewig by God of verwyderd van God. Sy sê toe dat sy dit deel met hom, omdat sy hom liefhet en dat sy voel dat ‘n ewigheid te lank is om moontlik verkeerd te wees oor God se bestaan.
En toe verduidelik sy vir hom wat dit beteken om die ewige geestelike lewe te bekom.
Erken dat daar ‘n probleem is Soos wat jou en my liggame ‘n terminale siekte onder lede het, oom Charles, net so is ons gees ook terminaal siek van sonde en onvolmaak in ‘n sterflike toestand. Ons is almal van geboorte af in hierdie posisie en kan nie vanself daarvan vrykom nie. Ons kan nie verhoed dat ons sonde doen nie, maar ons kan iets doen aan die effek daarvan in ons lewens.
God het die inisiatief geneem om die probleem op te los.
Gestel iemand kon aanbied om sy gesonde liggaam te ruil vir oom se liggaam. Sou dit nie wonderlik wees nie! Daardie persoon sal in oom se plek sterf en oom Charles sal leef. Daar is ‘n God en Hy weet dat ons sterflik is en self niks daaraan kan doen nie. Die Bybel sê dat God sy sondeloos volmaakte Seun, Jesus Christus, gestuur het om die onvolmaakte en sterflike posisie waarin ons is te verruil vir sy volmaaktheid. Hy het as te ware ons sterflike liggaam geneem en vir ons die lewende liggaam gegee. Hy het die sonde op Homself geneem en aan ‘n kruishout gesterf vir ons.
Ons kan kies om deel van die oplossing te wees.
Ons moet egter eers ‘n besluit neem, wil ons God se oplossing vir ons probleem aanvaar of nie. As ons instem, dan moet ons ons verneder voor God en gewillig wees om ons sondes te bely en wegdraai daarvan af. Die Bybel sê dat as ons ons sondigheid en sterflikheid tenoor God moet bely, dan is God regverdig en genadig om dit te vergeef en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Ons moet glo en bely dat Jesus die vergifnis van ons sondes deur God moontlik gemaak het deur sy kruisdood vir ons. As ons glo, sê die Bybel sal Hy ons red van ons sterflikheid en aan ons die ewige lewe gee.
God het ‘n wonderlike geskenk vir jou
God bied aan jou, oom Charles, die gawe van die ewige lewe deur geloof in Sy Seun, Jesus Christus. Jy mag dalk nie jou aardse liggaam behou as gevolg van die kanker nie, maar jy kan jou ewige geestelike lewe red deur in Christus te glo.
Toepassing: Kanker is so ‘n geweldig lewensingrypende siekte, dit laat by baie mense alle hoop kwyn. Maar wat van die siekte van sondigheid? Dit het dieselfde effek op die liggaam as terminale kanker, maar meer nog, ook die siel en die gees wat vir ewig verlore kan gaan. Om nie vir mense te vertel van die geestelike medikasie van die evangelie te gee nie, is net so ondenkbaar as om te hore te kom van ‘n kuur vir kanker en stil te bly daaroor. Kanker is erg en traumaties, maar dit kan vir ons die geleentheid skep om met ander te praat oor Christus. Dit maak nie saak of die persoon ‘n ateïs is, soos in oom Charles se geval nie, elkeen wat met kanker gediagnoseer is, sal die geleentheid bied vir liefde en sorg en te kan praat oor die siekte van die gees en die kuur van wedergeboorte. Oom Charles het so sy Here ontmoet en leef nou vir ewig!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking