Vrydag 03 April 2015

Waarom is Goeie Vrydag goed?

Die herdenking van die lyding van Christus behoort nie bloot net ‘n een-maal-‘n-jaar-gebeurtenis op Goeie Vrydag vir Christene te wees nie, maar ‘n daaglikse realiteit om ons lewens te verander. Die apostel Petrus het gesê: “Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde, om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God.”
In Jes. 53:3-12 beskryf die profeet die werklikhede van Jesus se lyding: “Hy is verag en deur mense verlaat (v:3), ‘n man van smarte en bekend met krankheid (v:3), Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor (v:5), ter wille van ons ongeregtighede verbrysel (v:5) Hy is mishandel… soos ‘n lam wat na ‘n slagplek gelei word” (v:7). Jesus se lyding aan die kruis was ‘n plaasvervangende werk vir ons – die vernedering en lyding wat ons moes verduur, het Hy op Homself geneem en Jes. 53:11 sê: “deur Sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra.” Jesus Christus, Hy wat geen sonde geken het nie, in wie se mond en hart daar geen bedrog gevind is nie, die sondelose Seun van God wat geen onreg gedoen het nie, het in Sy vlees onregverdige lyding verduur.
Omdat Christus vir ons die prys betaal het kan ons sekere gevolgtrekkinge maak en hierdie gevolgtrekkinge moet die wapenrusting van ‘n Christen se gedagtes wees. Omdat die Here Jesus in ons plek gely het deur Sy kruisdood het ons die vermoë om anders te dink oor sonde en lyding. Onverdiende lyding is vir Christene onafwendbaar – ons moet dis te wagte wees. Christene moet die regte verwagting van die toekoms hê. Lyding moet Christene nie onkant vang nie.
Hierdie laaste gevolgtrekking is die belangrikste en die hoofdeel van ons wapenrusting. Onverdiende Lyding is ‘n bewys dat ons besig is om met sonde af te reken. Kyk na die Here Jesus as ‘n voorbeeld hiervan in Romeine 6:9-10: “omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.”
Die dood wat Jesus gesterf het, het Hy vir die sonde gesterf en die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. Hoor wat sê Romeine 6:7:  “Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.  As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, so moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.” Omdat Christus gesterf het en ons saam met Hom gesterf het, glo ons ook dat ons saam met Hom sal lewe en dat die sonde nie meer mag oor ons het nie. Dit is die goeie nuus van Goeie Vrydag!

Geen opmerkings nie: