Gewete Grieks: suneidesis;
Engels: conscience
Ons gewete is 'n belangrike deel van ons menswees. Dit vorm deel van ons innerlike
self-bewustheid. Die gewete is ‘n onlosmaaklike deel van die innerlike
rasionele denke van die mens. Die gewete maak voorsiening vir ‘n kritiese
innerlike beoordeling van ons optrede en gesindheid en lewer getuienis van die
norme en waardes wat ons erken en uitleef.
Die komplekse aard van die waardes waarmee ons gewetes te doen het, sluit
nie net ons eie waardestelsel in nie, maar ook die hele reeks van waardes
waaraan ons tydens ons lewensjare blootgestel word. Gevolglik is daar in ons
gedagtes as ons oor dinge wat gebeur het nadink, 'n innerlike gevoel dat ons ‘n
stryd stry teen iets. Die getuienis van die gewete maak sy teenwoordigheid
bekend deur geestelike angs en skuldgevoelens te weeg te bring, veral wanneer
ons in stryd is met die waardes wat ons reeds erken en toepas. Terselfdertyd,
bied die gewete ook 'n goeie gevoel van bevrediging en tevredenheid wanneer ons
besef dat ons optrede en gesindheid in lyn is met ons waardestelsel.
Daar is geen Hebreeuse term in die Ou Testament, wat 'n taalkundige
ekwivalent vir die klassieke Griekse term suneidesis
is nie. In die Nuwe Testament kom suneidesis
[Johannes 8:9) ongeveer dertig keer voor. Vervolgens gaan ons kyk wat die Nuwe
Testament ons kan leer oor ons gewete. 'n Tematiese oorsig van die gebruik van suneidesis [συνείδησις] in die Nuwe Testament bied drie hoofpunte:
Eerstens, die gewete is 'n God-gegewe vermoë wat die mens gebore is mee
en word gebruik om sy optrede te evalueer of te beoordeel (1 Kor. 4: 4; Rom. 2:
14-15). In 1 Korintiërs 4: 4 verklaar Paulus dat hy nie veel waarde heg aan
ander mense of selfs sy eie beoordeling van sy bediening nie. Hy is egter meer
gesteld op die Here se beoordeling van sy bediening. Die gewete is dus die
innerlike (siel) funksie van evaluering en beoordeling van optrede.
(lees verder in deel 2)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking