Donderdag 02 November 2017

Ons het tot hier gekom

Deut. 26:7-9  Toe het ons die HERE, die God van ons vaders, aangeroep; en die HERE het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien;  (8)  en die HERE het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders;  (9)  en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.

Voel jy dalk ook dat hierdie jaar eenvoudig net te lank is? Of dalk het jy al teruggekyk na die laaste jaar en byna moed verloor omdat jy voel dat jy misluk het. Luister na die volgende trooswoorde uit ‘n ongewone oord. Moses sê in Deut. 26:9: “God het ons tot hier gebring...”  Dit was Moses se woorde toe hy tussen die ander leiers van Israel gestaan het en hulle wou lei om, ten spyte van hulle sonde en mislukkings in die verlede, die werk van die Here te ondersteun met hulle aardse besittings. Dit is natuurlik maklik om verantwoordelikheid te neem en suksesvol te wees as alles goed gaan en daar is geen uitdagings nie, maar ons almal weet dit werk nie so nie. Hoor wat bely Moses in Deut. 26:6  “Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en ‘n harde diens op ons gelê.” Die Egiptenaars het die lewe vir hulle moeilik gemaak en glo my daar is ‘n hele paar “Egiptenaars” wat agter jou aan is om jou lewe vir jou moeilik te maak. Wat doen ons moet hulle? Wel, die antwoord wat Moses bied is ietwat ongewoon. Hy verklaar dat as hulle gee van hulle aardse besittings soos die Here voorgeskryf het, sou die Here ‘n verklaring oor hulle maak en hulle groter maak as enige ander nasie en hulle lof en eer gee. 

Liewe vriende, God het ons tot hier gebring, laat ons dit nie vergeet as ons gee van dit wat ons van die Here ontvang het nie, soos bv. ons tyd, finansies en talente/gawes. Laat ons Hom ook hierin gehoorsaam wees.

Geen opmerkings nie: