Donderdag 09 November 2017

God sal jou nooit ooit verlaat nie

Deut. 31:6 “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.”

Die belofte dat God nooit sy volk sal verlaat nie kom dikwels in die Skrif voor. Hier gee Moses die belofte eers aan die kinders van Israel en toe aan Josua persoonlik. In werklikheid het dit begin by die belofte wat God aan Jakob gemaak het toe hy sy God-geordende rol moes aanvaar het “En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.” (Gen. 28:15) Dit is weer aan Josua herhaal. “Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie… Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” (Jos. 1:5) Dawid het dieselfde belofte aan Salomo oorgedra toe hy as koning verantwoordelikeid aanvaar het vir die bou van die groot tempel.  “Wees sterk en vol moed, … Hy sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie, totdat jy al die dienswerk aan die huis van die HERE voltooi het” (1 Kron. 28:20). Dalk is daar iets wat jy in die naam van die Here moet gaan doen, maar jy weet nie hoe en waar jy die moed vandaan sal kry nie.  Jy kan vandag vertroosting vind in dieselfde wonderlike belofte van Hebreërs 13: 5. “Want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Ons kan ook met vrymoedigheid sê soos verse 6 verklaar: “Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” Wat vers 5 so merkwaardig maak, is die feit dat daar in die Grieks vier verskillende dubbelle negatiewe stellings gebruik word in een vers. Letterlik vertaal verklaar vers 5: “Nooit ooit, Ek sal jou nooit ooit begewe en nooit ooit jou verlaat nooit ooit.” Dit is sekerlik een van die “grootste en kosbare beloftes” (2 Petrus 1: 4) wat God aan ons gee.

Geen opmerkings nie: