Sondag 20 Mei 2018

Pinksterdag 20 Mei 2018

Vandag vier ons die wonderlike dag toe die Heilige Gees uitgestort is, volgens Jesus se belofte in Joh. 16:7, en die kerk begin het, volgens die belofte in Hand. 1:8. Die Skrif is duidelik daaroor dat die Kerk op Pinksterdag begin het toe die dissipels met die Heilige Gees gedoop is. Die waterdoop van Gelowiges het ook op Pinksterdag begin toe 3,000 mense wat die evangelie gehoor het geglo het, gedoop is en by die nuwe gemeente gevoeg is. Dit was die heel eerste keer ooit dat so iets gebeur het.

Die uitstorting van die Heilige Gees is die begin van die kerk en die begin van God se nuwe plan vir nuwe mense. Die ou dinge is waarlik verby en die nuwe dinge het gekom. Dit is wat ons vandag vier – ALLE NUWE DINGE. Die Kerk, wat geseën is met die innerlike werk van die Gees van God, is God se nuwe plan vir ons in hierdie tydperk van Genade. Een van die seëninge van hierdie nuwe plan is dat ons deel het aan die “lewensap van die wortel van die olyfboom” (Israel) (Rom 11:17). Dit is die geestelike lewenskrag van God wat werk in ons lewens. Dit beteken prakties dat ons getuies kan wees van God se werk in ons lewens (Hand. 1:8), dat ons insig kan he om God te ken (Ef. 1:18), dat ons in ons siele versterk kan word as ons swaarkry (Ef. 3:16), dat ons deur die Gees gelei kan word (Rom. 8:14) en dat ons vry kan wees (2 Kor. 3:17). Daar is nog baie ander dinge wat die Gees vir ons doen, maar die belangrikste is dat ons NUWE dinge kan ervaar deur Sy krag.

Vier jy vandag nuwe dinge of sit jy vas in die tradisie van die ou dinge?

Geen opmerkings nie: