Woensdag 22 Mei 2013

Wanneer ons met stryd en lyding moet saamleef - Deel 1

Van die oomblik van ons geboorte, tot en met ons laaste asemteug, is ons gewikkel in ‘n lewenstryd, wat met lyding, moeite en selfs die dood gepaard gaan. Ons geboorte begin ‘n lewensreis op aarde, wat altyd onder druk is en wat op ‘n dag, wat nie aan ons bekend is nie, deur die dood beëindig sal word. As gevolg hiervan leef elke een van ons met die wete dat ons vleeslik, sterwend en afhanklik is. Ons moet egter weet dat hierdie situasie nie deel van God se oorspronklike plan was nie. Sy oorspronklike bepaling in die skepping kan in Sy evaluering van die skepping in Genesis 1:31 gesien word. “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.”. Alhoewel dinge nou anders lyk, sal God volgens Openbaring 21:4, dit alles eendag weer herstel. “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”

Kom ons oorweeg eerstens ‘n paar godsdienstige mites oor stryd en lyding :
  • Stryd en lyding is in alle gevalle God se straf vir my sonde en ongehoorsaamheid;
  • Stryd en lyding is nie iets wat ‘n ware Christen moet verwag of toelaat nie;
  • Stryd en lyding kan deur ‘n beter geloofslewe totaal vermy word;
  • Stryd en lyding is net ‘n frustrasie wat geen waarde in my lewe het nie. Dit moet bloot verduur word totdat dit verby gaan.
Hoe ons ook al na stryd en lyding in ons lewens kyk, moet ons met die Bybel begin. In die eerste plek het ons, volgens Genesis 3:13-19 die ONTSTAAN van stryd en lyding aan die sondeval te danke. As gevolg van die ongehoorsaamheid van die mens, het God bepaal dat die sondeval ‘n meta-fisiese (geestelike) en fisiese (vleeslike) invloed op die mens se lewe sal hê. Op ‘n meta-fisiese vlak, het God soos volg bepaal, “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. En Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Gen. 3:15) Paulus sê die volgende oor ons lewenstryd, “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie;” (2 Kor. 10:3). Hy sê ook, “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Ef. 6:12) As gevolg van hierdie vyandskap en stryd teen Satan, sal ons stryd en lyding verduur. Moeite, konflik, sweet en swaarkry is alles resultate van die sondeval, op ‘n fisies vlak.

Daar is tye in ons lewens, waar die stryd en lyding wat ons verduur alleenlik toegeskryf kan word aan hierdie vyandskap tussen ons en die Satan. Christene kan bemoedig word in die wete dat hierdie worstelstryd teen die duisternis, ‘n bewys is dat ons, as gevolg van die genade van God, in die koninkryk van die Lig van Jesus Christus staan.  

Voorts gaan ons kyk na die OMSTANDIGHEDE waarin stryd en lyding plaasvind.

Geen opmerkings nie: