Donderdag 23 Mei 2013

Wanneer ons met stryd en lyding moet saamleef - Deel 2

Eerstens het ons gesien dat die ONTSTAAN van alle stryd en lyding met die sondeval te doen het. Volgende gaan ons kyk na die  OMSTANDIGHEDE waarin stryd en lyding in ons lewens plaasvind. Hierdie omstandighede word breedvoerig deur die Skrif uitgelê.

Die heel eerste beskrywing van die omstandighede waarin stryd en lyding plaasvind is in Genesis 3:16-19: Moeite en smart in swangerskap, konflik tussen man en vrou oor leierskap, moeitevolle broodwinning en kosproduksie, sweet en stryd in die werksplek en die stoflike uiteinde van ons liggame.

Die tweede tipe omstandigheid wat stryd en lyding in ons lewens sal veroorsaak, is versoeking van Satan. In Matt. 6:13 leer Jesus ons om te bid en te vra “lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” Hy sê ook in Luk. 22:40  “En toe... sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie.” Ons word in 1 Tim. 6:9  gewaarsku teen die versoeking van die ambisie om ryk te wil word. Versoeking, die manier hoe sonde in ons lewens inkom, kom volgens Jak. 1:13 nie van God af nie, want God versoek nie mense nie. Dink aan die stryd en lyding wat veroorsaak word as ‘n jongmens ingee vir die versoeking om dwelms te gebruik.

Die derde omstandigheid waarin stryd en lyding plaasvind is as gevolg van goddelike werking. Volgens die beloftes van God wat sê: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Heb. 13:5), sal die Here soms moet intree as dit nodig is om ons te korrigeer of reg te help. In 2 Kor. 12:7-10 se Paulus: “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Nadat God die wonderlike openbaringe van die Nuwe Testament verborgenhede van die Skrif aan Paulus gegee het, het Hy op ‘n dramatiese manier ingetree om Paulus nederig te hou. Die stryd hieroor was volgens vers 8 vir Paulus ‘n saak van ernstige gebed. “Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Paulus se gesindheid oor die stryd en lyding in sy lewe word in vers 10 uitgelê: “Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.” Soms het  ons volgens die skrywer van Hebreërs vermaning of tugtiging nodig, “...want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.” (Heb. 12:6-10)  Soms het ons volgens 1 Kor. 11:31-32  regstelling nodig, “Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”

‘n Vierde tipe omstandigheid waarin stryd en lyding moontlik sal plaasvind, is as Christene vir Christus stryd en lyding moet verduur. Praat maar met iemand wat besluit het om sendingwerk te gaan doen. Of iemand wat besluit het om hulself te laat doop en die tipe reaksie wat hulle kry. Paulus het hierdie lyding ter wille van die liggaam van Christus in Kolossense 1:24 en 2:1 beskryf. “Nou verbly ek my in my lyding vir julle ...Want ek wil hê dat julle moet weet wat ‘n groot stryd ek oor julle het...”. Christene wat al vervolg is, sal weet dat 2 Tim. 3:12-17 sê: “almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” Hulle kan vertroos word met die woorde van Petrus in 1 Pet. 2:19-24 wat sê: “Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly.” Om oneer vir die Naam van Jesus Christus te lei was volgens Hand. 5:40-42 vir die dissipels ‘n wonderlike voorreg, “Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly.”
 
Die vyfde tipe omstandigheid waarin stryd en lyding moontlik sal plaasvind, is as beproewings in ons lewens inkom wat ons geestelik laat groei. "Ag dit louter vreugde", het Jakobus verklaar, "wanneer julle in allerhande versoekinge (beproewinge) val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid werk..." 
 
Wanneer die omstandighede waarin jy verkeer vol stryd en lyding is, kan jy vir die Here vra om vir jou te help om te verstaan wat jy volgende moet doen. Nie net verstaan Hy waardeur jy gaan nie, maar Hy is ook die enigste Een wat waarklik kan help. 

Geen opmerkings nie: