Donderdag 23 Mei 2013

Wanneer ons met stryd en lyding moet saamleef - Deel 3

Stryd en lyding is nooit ‘n aangename saak nie. Dit veroorsaak twyfel, hartseer en ongemak. Daar is egter OORWINNING wat ons in stryd en lyding kan smaak.

Eerstens, as ons op ‘n verkeerde weg is of ‘’n verkeerde gesindheid het en God moet intree om ons reg te help en sodoende terug te bring na die Woord, dan bevestig dit volgens Heb. 12:7 God se Vaderskap en ons eie kindskap. “As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?  Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”

Tweedens, is dit moontlik dat ons stryd en lyding volgens Heb. 12:11-13  ook God se geregtigheid bevestig, “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” Het jy al ooit die lyding deurgaan om ‘n verkeerskaartjie te betaal? Of dalk moes jy ‘n groot hoeveelheid geld betaal om ‘n regsaak te beding wat onregverdig teen jou aanhangig gemaak is? As jy dit verduur, het jy die geregtigheid van God bevestig! Hierdie geregtigheid sal eendag in ‘n volmaakte Vrederyk seëvier. God gee jou die kans om die formasies van reg en geregtigheid nou al te smaak! Dank Hom daarvoor!

Derdens, nog ‘n oorwinning wat ons in stryd en lyding kan verkry is wanneer ons stryd en lyding ander bevoordeel. Dit kan dalk sondaars na Christus toe bring, soos Paulus in Fil. 1:12-14 verklaar: “En ek wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het, sodat my boeie openbaar geword het in Christus onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander”. Dit kan ook volgens vers 14 ander vertroue gee, “en die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, dit des te meer waag om die woord onbevrees te spreek.”

Vierdens, ‘n baie belangrike aspek van oorwinning wat in stryd en lyding moontlik gemaak kan word, is ons geestelike groei. Die apostel Jakobus, het sy gemeentelede gehelp om stryd en lyding te sien as geleenthede om te groei in hulle geloof. Hy het selfs gesê: “Ag, dit louter vreugde... as julle in allerhande versoekinge val...” Hulle blydskap moes nie wees oor die feit dat die versoeking plaasvind nie, maar oor die uitkomste wat deur die stryd en lyding daaruit sal voortkom.

Die uiteindelike uitkoms van versoekinge, stryd en lyding is Jak. 1:12 “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.” Wanneer stryd en lyding in ons lewens inkom, moet ons nie daardeur ontmoedig word nie, maar die slap hande en verlamde knieë oprig, “sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond word.” Alhoewel stryd en lyding nie van die begin af God se idee vir ons was nie, is dit deel van God se ingrype na die sondeval. Die omstandighede waarin stryd en lyding plaasvind is onvermydelik vir die Christen. Ons kan oorwinning hê in stryd en lyding as ons weet dat dit ‘n goddelike uiteinde het, wat nie net onsself nie, maar ook ander en ons eie geestelike groei kan bevoordeel.  

Geen opmerkings nie: