Dinsdag 23 Julie 2013

Die Bybelse Kuns van Kommunikasie - Deel 1

Ons almal kommunikeer op een of ander manier. Daar is soveel verskillende style van kommunikasie. Sommige mense kommunikeer verbaal, ander weer net met die met die oë of deur notas, e-posse of SMS’e. Party glimlag net of frons en ander weer met hulle lyftaal. Deur jou teenwoordigheid of afwesigheid kan jy ‘n boodskap oordra of deur ‘n drukkie of ‘n handdruk. Die gee van geskenke of om te help met jou gawes of talente is nog maniere van kommunikasie. Jou gewilligheid om met ander te deel en deur te luister of nie te luister nie, is alles maniere van kommunikeer.   

Terwyl goeie kommunikasie opbou en bemoedig, kan swak kommunikasie lei tot onopgeloste konflik, die oordrag van verkeerde idees, misverstande en wanopvattings floreer. Swak kommunikasie kan wyse besluite verydel, eenheid belemmer, interpersoonlike probleme vermeerder, ontevredenheid en frustrasie ontwikkel. Dit kan lei tot die opbreek van verhoudings en min geestelike hulp is gewoonlik die gevolg.

Die Bybelse se eienskappe van goeie kommunikasie skets natuurlik ‘n beeld van ‘n mens wat ons aan Jesus laat dink. As ons kommunikeer moet ons eerstens in liefde die waarheid praat (Ef. 4:15) en nie halwe waarhede kwytraak nie. As dit ons gewoonte is om deur halwe waarhede, wit leuens, insinuasies of stilstuipe ons punt te maak, moet ons onthou dat ons lede is van dieselfde liggaam en mekaar se beste belange op die hart moet dra (Ef. 4:25). Sekere mense het hulle swak manier van kommunikeer by hulle pa of ma aangeleer en dink dit is iets om op trots te wees om met uitdrukkinglose gesigte na jou te staar. Ons moet natuurlik ons styl van kommunikasie by Jesus aanleer.  

As ons wil kommunikeer, moet ons tweedens daarvan bewus wees dat ons sal wil reageer op ongeregtighede. As ons ontsteld raak, sê die Bybel, moet ons nie dat dit oorgaan in woede, haatspraak of wraakneming nie (Ef. 4:26), want daardeur sal ons die duiwel ‘n plek in ons verhouding gee (Ef. 4:27). Kragwoorde word deur sommige gesien as ‘n bewys van sterk karakter of leierskap, maar dit is volgens die Bybel vuil taal en nie opbouend nie (Ef. 4:29).

‘n Derde area van kommunikasie is ons reaksie teenoor die nuus wat ons van ander kry. As mense nuus of boodskappe aan ons oordra van iemand anders, dan is ons geneig om sinies te raak. Ons wil dadelik ‘n verklaring gee van wat ons dink is besig om plaas te vind of onsself regverdig. Inplaas van skeptiese en siniese woorde, moet ons vriendelik en vol ontferming wees en gou om mekaar te vergeef (Ef. 4:32). Hierdie is ‘n goeie reël vir kommunikasie tussen man en vrou in die huwelik. Liefdevolle en eerbiedige kommunikasie tussen man en vrou word aangemoedig (Ef. 5:33) en sal die fisiese en emosionele verhouding tussen egpare bevorder.   

Vierdens, is dit soms, veral in die hitte van die stryd, of in die passie van die oomblik, moeilik om nie iets te sê nie. Ons brand om iets te sê en voel dat iemand dit al lankal moes gesê het, maar die gebed wat Dawid gebid het, is die antwoord: “Here, stel ‘’n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.” (Ps. 141:3). As daar enige iemand is wat iets moes gesê het, was dit Jesus gewees. Hy is so erg te nagekom, afgekraak en gespot, maar ten spyte daarvan word van geprofeteer dat die Here Jesus ‘n geoefende tong ontvang het – ‘n tong wat “weet om die vermoeide te verkwik met woorde.” (Jes. 50:4) Jesus het op ‘n herderlike manier die mense met probleme om Hom hanteer en hulle harte met ‘n sagte woord aangeraak (Spr. 15:1). Daarom is troosvolle, bemoedigende en vriendelike woorde die tipe kommunikasie wat God verheerlik en genesing kan bring vir die ontstelde hart (Pred. 12:10; Spr. 16:24).

In die vyfde plek is daar volgens Salomo al groot oorloë tussen vyande gekeer met ‘n gewilligheid om te luister en deur te reageer met ‘n sagte antwoord (Spr. 25:15). Daar kom tye waar konflik en twis ‘n onmiskenbare deel van ons lewens is en die Bybel sê dat dit soos ‘n damwal is wat kan bars (Spr. 17:14). Ons kan egter deur ‘n gewilligheid om te luister en te verstaan, die saak ontlont. Wyse en selfbeheerste kommunikasie is die gereedskap om in enige situasie die gesindheid van twisgierigheid te vermy (Spr. 25:8). Daarmee sê ons nie dat jy nie jou saak moet verdedig nie, inteendeel, ons as Christene kan antwoord op die aanklagte teen ons of misverstande rondom ons. Wat ons teen moet waak is om driftig te raak en om eerder die gemoedere te laat bedaar en deur kalmte te beraadslaag. (Spr. 29:11). Daar is ‘n wonderlike voorbeeld in Spreuke 31:26 van ‘n moeder wat met wyse en vriendelike woorde baie mense kan beïnvloed vir die goeie.   

Laastens, as jy as ‘n verstandige mens erkenning wil verkry, dink eers deeglik na aan wat jy wil sê voordat jy dit sê en as jy iets wil sê dan moet dit gebaseer wees op grondige kennis (Spr. 15:2; 15:28; 20:15) en uit die regte harts gesindheid (Spr. 16:23,24). Die regte woorde wat op die regte tyd gespreek word, het baie groot waarde in God se oë, want dit bou op, motiveer en genees.

Ter opsomming, Christene is ook in hulle kommunikasie deur die bloed van Jesus vrygemaak om ‘n nuwe mens te wees. Liefde, met ander woorde, ‘n opregte en opofferende omsien na die belange van ander, is die nuwe manier van kommunikasie (Gal. 5:13,14). Wat meer is, hierdie liefdevolle tipe kommunikasie is nie net die regte ding om te doen nie, maar is die vervulling van die wet van God.      

Geen opmerkings nie: