Vrydag 02 Augustus 2013

Die Kuns van Bybelse Kommunikasie - Deel 2

Ek het oor die laaste tyd bewus geword van die feit dat ons kommunikasie onder druk is. As gevolg van die druk van tyd om alles gedoen te kry en die hoë stresvlakke, is ons kommunikasie besig om daaronder te ly. Ons kry nie tyd om met mekaar te praat nie. Hiermee dus ‘n paar gedagtes uit die notas van pastoor Timothy Keller oor die onderwerp van kommunikasie.

1.       Luister Mooi. Wees ‘n gretige luisteraar. Moenie antwoord voordat die ander persoon klaar gepraat het nie. (Spr. 18:13; Jak. 1:19)

2.       Dink Eers. Moenie haastig wees om iets te sê nie, dink eers mooi oor wat jy wil sê. Praat in verstaanbare taal. (Spr. 15:23,28; 29:20; Jak. 1:19)

3.       Reik Uit. Probeer om nie stilstuipe of afsydigheid te gebruik om ander persone te ignoreer of frustreer nie. Verduidelik waarom jy stil of skugter is en nie wil of kan kommunikeer nie (Spr. 10:19; 15:28; 16:21,23; 18:2; 20:15; Kol. 4:6).

4.       Maak Reg. As daar konflik was, maak eers in liefde reg voordat jy die dag afsluit met ‘n nagrus. Probeer om nie te oordryf as jy moeg of gefrustreerd raak nie. (Ef. 4:15,25; Kol. 3:8; Matt. 6:34)

5.       Vermy Argumente. Probeer om argumentering te vermy. Dit is heel moontlik om te verskil van iemand sonder om te argumenteer. (Spr. 17:14; 20:3; Rom. 13:13; Ef. 4:31)

6.       Temper jou Reaksie. Gebruik ‘n sagte woord as jy wil reageer en nie onbeheerste woede nie (Spr. 14:29; 15:1; 25:15; 29:11; Ef. 4:26,31)

7.       Bely Jou Sonde. As jy verkeerd is, erken dit en vra dadelik vir vergifnis. Bepaal daar en dan hoe jy kan verander (Spr. 12:15; 16:2; 20:6; 21:2; Matt. 5:23-25; Luk. 17:3; Jak. 5:16).

8.       Vermy Kritiek. Moenie die blaam op ander plaas of hulle kritiseer nie. Soek woorde wat opbou en bemoedig (Rom. 14:13; Gal. 6:1; 1 Thess. 5:11)

9.       Word Jy Gekritiseer? Moenie in dieselfde gees reageer nie, maar tree op in die teenoorgestelde gesindheid (Rom. 12:17,21; 1 Pet. 2:23; 3:9)

10.    Probeer Verstaan. Probeer hard om die ander se punt te verstaan en maak voorsiening vir verskillende sienswyses. Wees meer besorg oor die ander persoon se belange as jou eie (Ef. 4:2; Fil. 2:4; 3:15,16)
 
In liefde en baie gebed vir julle... 

 

Geen opmerkings nie: