‘n Belangrike sleutel tot die kennis van
die wil van God is in Johannes 7:17 opgeteken: “As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet
of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek.” Die beste manier om God se
wil te leer ken, is met ander woorde, om eerstens met gewilligheid en toewyding
in sy algemene wil vir ons lewens te wandel en dan sal ons kan “leer” of dit wat ons wil doen “uit God is” of nie.
As jy wil weet of jy werklik gewillig is om
die wil van God na te volg, moet jy natuurlik bepaal of jy tans besig is om Sy
wil, wat reeds deur Sy Woord aan ons bekend is, na te volg. Daarvoor het jy eerstens
kennis van God se Woord nodig. Vrae soos: Is ek werklik gered? Dra ek die
vrug van die Gees? Is daar enige sonde, wat tussen my en God staan? Is ek
daagliks in die Woord van God besig? Daarbenewens het jy geloof nodig om God se
wil te vertrou, en gehoorsaamheid om dit uit te voer, veral as dit met die algemene
wil van God vir jou lewe te doen het. “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig
vir my pad.” (Ps. 119:105) Is jy tans besig om in Sy wil te wandel?
Nadat jy bevestig het dat jy wel besig is
om in die wil van die Here te wandel, dan alleen kan jy Hom met ‘n geruste hart
(1 John 5:14-15) in gebed nader oor ‘n spesifieke saak waarvoor daar geen
duidelike Bybelse lering is nie (sien Jakobus 1:5-6). God sal wel jou gebed
beantwoord, hoewel dit heel moontlik nie so gou sal wees soos jy dit wil hê nie.
In Lukas 18:1 sê Jesus, dat “‘n
mens gedurig moet bid en nie moedeloos (moet) word nie”. Dit mag dalk nie volgens ons persoonlike
voorkeure of voorliefdes geskied nie, maar dit sal altyd “ten goede meewerk”. Hoor
net wat Paulus in Romeine 8:26-28 verklaar: “En
net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons
moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons... omdat Hy ooreenkomstig die wil
van God vir die heiliges intree. En ons
weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na
sy voorneme geroep is.”
God sal ons, wat Sy
wil vir ons aanbetref, op twee maniere lei waar daar nie spesifieke
Skriftuurlike leiding is. Enersyds sal Hy ons in Sy voorsienigheid van ons omstandighede
lei en andersyds, sal hy ons deur die innerlike oortuiging van die Heilige Gees
lei. Hy gebruik Skrif beginsels wat ons uit die lesse van vorige ervarings
geleer het. Hierdie twee aspekte moet egter ooreenstem. Wanneer al hierdie
dinge in plek is, moet ons ons beste doen om God se wil na te volg, met volle
vertroue dat die Here wel sal intree om koersaanpassings te maak as ons
verkeerd verstaan het. Dit is God se wil dat ons Sy wil sal ken, want Hy sal “ons paaie gelykmaak.”
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking