Vrydag, 22 November 2013

Die Skepping is Nietig en Sugtend!


Rom. 8:20-21 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het (21) in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.

Hoe kan ons familie en vriende antwoord as hulle probeer sin maak van die natuurrampe, wat lyk asof dit op ‘n meer gereelde basis plaasvind? (‘n Verkorte antwoord)
Die begin van die antwoord het te doen met die Heilige Gees. Paulus het gesê dat ons as wedergebore Christene die Heilige Gees ontvang het en, dat ten spyte van ons omstandighede, die Heilige Gees in ons gees werk om ons daaraan te herinner dat ons kinders van God is. Hierdie getuienis van die Heilige Gees, wat ons herinner aan ons kindskap, het groot waarde as daar vrees in ons harte ontstaan wanneer ons lyding moet verduur (Rom. 8:15-17).  Nie net het dit groot waarde nie, maar daar is ‘ook n belofte daarby -  as ons lyding verduur, is dit ‘n bewys dat ons ook verheerlik sal word (1 Pet. 1:11; 5:1). Elke Christen wat ly, moet in daardie tyd van beproewing onthou, dat die “lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.” (Rom. 8:18)

Die feit is dat die skepping met die sondeval vervloek is en nou die gevolge van die sondeval dra (Gen. 3:17-19). Die Bybel sê dat die “skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaar-making van die kinders van God” (Rom. 8:19; Kol. 3:4; 1 Pet. 4:13), want die “skepping is aan die nietigheid (frailty, depravity) onderworpe” (Rom. 8:20) en “sug... in barensnood... tot nou toe.” (Rom. 8:22). Hierdie versugting bring die hoop dat die skepping “vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid” (Rom 8:21).

‘n Kort antwoord op die vraag kan dus iets soos die volgende wees: Die skepping is nietig en sugtend! Die skepping, wat alle vorme van die natuur insluit (die aardkors, die see die weer- en windstelsels), is as gevolg van die sondeval aan nietigheid of verganklikheid onderworpe. Indien daar, as gevolg van hierdie nietigheid/verganklikheid van die aarde, ‘n verskuiwing in die aarde se kors plaasvind, is daar ‘n moontlikheid dat daar iewers ‘n Tsunami kan plaasvind. Dit was nie God wat die Tsunami laat plaasvind het nie, maar die verwoestende golwe is ‘n gevolg van die swakheid in die weerstand wat die tektoniese plate van die aardkors teen die verskuiwing moes bied. As daar ‘n tifoon ontstaan, is dit die natuurlike swakheid van die weerstelsel om die opwaartse styging van warm lug uit die oseaan en afwaartse daling van koue lug te reguleer. Wanneer hierdie opwaartse en afwaartse beweging meer intens raak, dan sal winde al hoe sterker en sterkter word, totdat dit naderhand ‘n onbeheerbare weerstelsel vorm en groot verwoesting saai. Dit is presies wat in die Filippyne gebeur het – ‘n onbeheersde weerstelsel wat as gevolg van die nietigheid van die skepping gevorm het. Ons weet dat God nie Tsunamis en Tifone veroorsaak nie, want die skepping wat Hy geskape het, was baie “goed” (Gen. 1:4,10,12,18,21,25; 2:9). Die oorspronklike skepping was dus sonder nietigheid en verganklikheid, maar as gevolg van die sondeval, is die skepping onder die druk van verganklikheid. Die skepping is dus nietig en sugtend en sal ons elke nou en dan daaraan herinner!

Dit klink na ‘n baie depressiewe storie! Nie werklik nie, want as jy vêrder in Romeine 8 lees dan is daar hoop. Die Bybel sê dat ons “gered is in hoop”, want ons “wag... daarop met volharding.” (Rom 8:24,25). Ons hoop is nie in ‘n foutlose skepping nie, maar ‘’n volmaakte Verlosser. Op hierdie manier - deur te wag – “kom ook die Gees ons swakhede te hulp.” (Rom. 8:26).  Om dus te wag vir Jesus se koms, wat ‘n nuwe hemele en nuwe aarde sal maak, kan ons hoop hê en vertroos word, want die afwagting na die koms van Jesus en die instelling van ‘n nuwe bedeling is ons hoop (Tit. 2:12-13).           

Geen opmerkings nie: