Vrydag 17 Januarie 2014

Die Littekens van Sonde

Rigters 16:21  Daarop het die Filistyne hom gegryp en sy oë uitgesteek en hom afgebring na Gasa en met koperkettings gebind; en hy moes maal in die gevangenis. 

Ons lees hier van die hartseer einde van die magtige Simson, ‘n man wat eens so magtig deur God gebruik is. Sy lewe is nie net ‘n hartseer verhaal nie, maar ‘n goeie les as waarskuwing vir elke Christen wat die versoeking om te sondig aanbetref. Soos Jak. 1:14-15 sê: Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

Ons vyand, Satan, ken ons swakhede alte goed en gebruik dit om ons te versoek. Elke Christen sal die een of ander tyd in sy of haar lewe met die versoekende persoonlikheid van “Delila” te doen kry en elke Christen sal versoek word om in die slaggat van die sonde van trots, gierigheid, kompromie of lusteloosheid te val. In Simson se geval was die gevolge van sy sonde ingrypend. [Miskien is jy tans in so ‘n situasie.]

Sonde het Simson letterlik verblind, want die Filistyne het sy oë uitgesteek. In 2 Petrus 1:5-7 word ons aangemoedig om geestelik te groei en nie lusteloos te raak nie. Petrus gee die opdrag dat ons by ons geloof moet voeg “die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.” Daarmee saam sê Petrus in vers 9 dat “hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig”. [Sonde het ‘n verblindende uitwerking op ons en laat die littekens van geestelike kortsigtigheid.]

Sonde het Simson nie net verblind nie, maar ook gebind, want die Fillistyne het Simson met koperkettings in die gevangenis vasgebind. Sonde mag dalk nie fisiese koperkettings gebruik nie, maar sonde wat nie bely en laat staan word nie maak slawe van ons. Weereens bied Petrus in 2 Petrus 2:19 helderheid in hierdie opsig:  “Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword.” [Sonde het ‘n verslawende uitwerking en die littekens is neerslagtigheid.]

Sonde het Simson ook laat maal. Die uiteindelike gevolg van Simson se toegee aan versoeking was dat hy verblind en gebind deur sonde geforseer is deur die Filistyne om te “maal in die gevangenis”, ‘n toestand wat Petrus in 2 Pet. 2:20 beskryf waar “die laaste erger geword (het) as die eerste…”. [Sonde het die vermoë om ons ‘n lewe te skep wat erger is as voor die soeking.]  

Simson het later berou gehad en teruggedraai na God toe, maar die littekens van sy sonde was steeds daar. God vergewe genadiglik ons sondes en alhoewel die effek wat sonde op ons het ‘n werklikheid bly, help Hy ons ook daarin. Dit is egter baie beter om te kies om die versoeking wat sonde bring teen te staan.  
[Die volgende is ‘n vry vertaalde artikel wat oorspronklik in Engels deur Henry Morris III op The Institute For Creation Research se webwerf geplaas is - http://www.icr.org/article/7783/]

Geen opmerkings nie: