Maandag, 27 Januarie 2014

Hoe om gelowiges wat anders as ons is te hanteer?

Die verskille wat daar tussen mense bestaan, is so normaal soos wat kan kom. Dit kan ouers wees wat verskil met hulle volwasse kinders, familielede wat verskil met ander familielede, werksgenote wat verskil, en vele meer. Die versoeking kom as ons so van mekaar verskil dat ons hulle wil etiketteer, afskryf en anders behandel omdat hulle ander as ons is. Hulle wil gewoontes beoefen wat vreemd is vir ons en wil nie met ons saamstem daaroor nie. Hoe kan ons steeds as medegelowiges saamstem en saamwerk? In Romeine hoofstuk 14 bied Paulus 'n Bybelse antwoord.  
Eerstens, die Konteks (Romeine 14:1-8)
Dit is duidelik dat daar twee groepe mense in Christelike geloofsgemeenskappe beweeg. Volgens Rom. 14:3 is dit "die wat eet" (die wat sterk in geloof is) en "die wat nie eet nie" (die wat swak in geloof is). Hulle wat eet verwys na die gebruik om van die vleis wat aan die afgode geoffer is en nou in die slaghuis verkoop word te koop en eet. Seker mense het ‘n groot probleem gehad met ander wat dit doen. Paulus wys ons daarop dat hulle wat 'n problem het met sekere gebruike en gewoontes nog moet groei in hulle geloof om die vryheid wat ons in Christus het te besef. Die wat sekere dinge vermy is in der waarheid die swakkeres in die geloof en nie andersom nie. In die uitleef van ons godsdiens en kultuur kan ons soms so gekant wees teen sekere dinge dat ons sonder 'n Bybelse mandaat dit wil insluit in die tien dat daar geen eenheid is nie. Enige iemand wat dit dan durf doen, word dan as swak, onvolwasse gelowiges of dalk nog as ongered bestempel.
Daar is volgens Paulus twee tipes reaksies in die Christelike geloofsgemeenskap wat verskille tussen medegelowiges aanbetref. Christene, hetsy swak of sterk in die geloof, sal mekaar verag en veroordeel sonder om die ware feite uit te vind. Ek onthou baie duidelik hoe ek tot die besef gekom het dat alle Kersfees vieringe, wat die opstel van kersbome insluit, van die duiwel is. In daardie groep het ek gou geleer hoe mense mekaar veroordeel en verag oor so iets soos 'n kersboom. Gedurende hierdie tyd het die mense wat so voel meer tyd spandeer om ander te veroordeel dat hulle die geleentheid om te praat oor die koms van Jesus, wat eintlik die fokus moes wees, total verontagsaam het.
Daar is ook vier verskillende areas van die lewe wat hier uitgelig word as 'n deel van die verskillende dinge waaroor Christene mekaar veroordeel en waarin ons anders kan wees as ander. Die eerste is eetgewoontes en die tweede is huislike gewoontes, die derde is kalendergewoontes (die viering van spesiale dae soos bv. die Sabat of ander feestdae) en die laaste is leefstylgewoontes. Dit is rondom hierdie vier dinge wat die Bybel sê dat die meeste van ons verskille gesentreerd is en waaroor mense mekaar dophou en wil veroordeel.
Daar is vier beginsels wat ons uit God se voorbeeld kan leer om ons te help met mense wat verskillende dink en doen as ons:
Die eerste beginsel: Neem hom of haar aan (3b), want God het hulle aangeneem en hou hulle staande (4b) ten spyte van ons ergste vrese. Die eerste ding wat jy met doen as jy te doen hulle kry met mense wat ander is en doen as jy, is om hulle te sien soos God sien. Dit geld ook vir die ongelowige mense in ons lewens. Ons moet hulle sien soos God hulle sien. Johannes 3:16 beskryf God se gesindheid teenoor hulle: “Want so lief het God die wêreld gehad...” As hulle gelowiges is, dan moet ons hulle sien as medegelowiges in die Here Jesus en deel van die liggaam van Christus (Ef. 2:14-16).
Die tweede beginsel: Wees liewer self oortuig in jou eie gemoed (5b), want ons almal moet voor die regterstoel van Christus verskyn (10c) vir dit wat ons gedoen het. Alhoewel Christene oor die algemeen teenoor mekaar aanspreeklik is vir dit wat hulle doen, moet hulle egter besef dat hulle aan God rekenskap gaan gee. Die tweede dinge wat ons dus moet doen, is om mekaar nie te veroordeel nie, maar eerder te ondersteun in die areas waarin die persoon wel met jou saamstem en dan die persoon reg te help in ‘n gees van sagmoedigheid (Gal. 6:1).
Die derde beginsel: Doen wat tot stigting dien (19), want hy wat Christus hierin dien, is aan God welgevallig en by mense geag (18). Die manier om mense te oortuig dat hulle nie die regte dinge doen nie, is nie om pertinent vir hulle te herinner aan hulle verkeerde weë nie, maar om hulle lief te hê en deur jou voorbeeld te wys dat jy dit nie goedkeur nie. As ons najaag wat tot “vrede en onderlinge stigting dien”, sal ons guns by mense vind en dan ‘n oop deur kry om met hulle te praat. Sonder gunstige toestande vir ons verhouding met ander, sal ons beswaarlik die kans kry, hetsy tydig of ontydig, om die waarheid te praat.
Die vierde beginsel: Behou ‘n goeie geloofsgewete (22), want alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde (23). “Behou dit (jou geloofsoortuiging) vir jouself voor die aangesig van God.” Hierin is ons almal skuldig. Ons voel onseker oor ons dade en besluite en dan wil ons dit op ander afdwing of hulle probeer oortuig dat ons die regte ding doen. Hierdie tipe optrede waar ons onsself en ons idees bemark, is eintlik maar net ‘n ander vorm van twyfel. “Maar hy wat twyfel... is veroordeel.” As mense in jou lewe jou vaste geloof in God sien en nie jou eie vermoëns nie, dan sal hulle na jou begin luister.
Ter opsomming. Almal verskil van mekaar in meer as een opsig en moet leer om hierdie verskille te hanteer. As ons as Christene verskil in eet-, huislike, kalender- en leefstyl gewoontes, moet ons na mekaar kyk as aangenome kinders van God. Ons moet oortuig wees in ons eie gemoed en ons oortuiging deur ons voorbeeld wys, want ons sal vir onsself voor die regterstoel van Christus verskyn en nie vir ons kinders of vriende nie. Ons moet ander toelaat om van ons te verskil en hulle eerder opbou as afbreek. Ons hoef nie heeltemal saam te stem met hulle manier van doen nie, maar ons moet hulle nie veroordeel nie, maar eerder liefhê. Inplaas daarvan dat ons spog met ons beter tipe leefstyl, moet ons nederig wees om ander lief te hê. Dit is immers die grootste behoefte in die kerk vandag (1 Kor. 13).   

Geen opmerkings nie: