Sondag 02 November 2014

1 Kor.  10:11  Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Ons almal het op een of ander stadium in ons lewens iemand anders se voorbeeld gevolg, dalk toe jy as seun gekyk het hoe pa die gras sny, of as dogter hoe ma koekies bak...mmm. Jy kon iemand se voorbeeld navolg, want jy weet nie van nature hoe om te doen wat hulle doen nie. Wat ‘n voorreg om iemand te hê wat vir jou ‘n voorbeeld stel! 

Het jy geweet dat daar een groep mense is wie die Bybel sê ons nié moet navolg nie. Wat bedoel ek daarmee? Israel, volgens die Bybel, is beide ‘n waarskuwing aan ons van die tipe dinge wat ons nié moet doen nie en ‘n voorbeeld van die dinge wat ons liefs moet vermy. Israel het alles gehad: beloftes van God, die Messias, die verbonde, die wet ens., maar wat hulle nie gehad het nie, was geloof en gehoorsaamheid. Die dinge wat hulle oorgekom het en die posisie waarin hulle tans verkeer, wys ons daarop dat God ons nie kan seën as ons moedswillig ongehoorsaam is nie. 

Die vraag is nou, watter voorbeeld stel jy? Onthou, sonder dat jy weet kyk en luister mense na jou! Elke Christen moet daarop uit wees om Christus se voorbeeld te volg. Sal God jou as ‘n goeie voorbeeld gebruik, net soos Hy met Job gemaak het, of as ‘n slegte voorbeeld waarteen hy ander waarsku? Daar is ‘n wonderlike seën daarin om ‘n voorbeeld vir Jesus te wees.

Geen opmerkings nie: