Saterdag 08 November 2014

Genade, Onbeskryflik Groot! Maar hoe?

Ef. 2:7 …sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.

‘n Bekende Engelse prediker, wat probeer het om genade te verduidelik, het die woord GRACE gebruik as ‘n akroniem vir “God’s Remedy At Christ’s Expense”. Die wese van God se genade word opgesom in drie hoofgedeeltes 1.) Rom. 8:31 “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”; 2.) Ef. 2:8-9  “…uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” en 3.) Joh. 1:17  “…die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” 

Genade is dus nie net 'n algemene en abstrakte konsep nie, maar reddend en behoudend. In die huidige dispensasie van genade, gee geloof in Jesus Christus gee ons toegang tot God se reddende genade en bied interaksie met die liggaam van Christus ons deel in die seëning van God se behoudende genade. God het bepaal dat ons in Jesus Christus en deur die gemeente (sy liggaam), se woordbediening, gebedsondersteuning en liefdesorg, die genade van God kan ontvang en ervaar. 

Die wyse waarop ons dus hierdie woordbediening toelaat, ons samewerking in gebed en ons toewyding aan evangelisasie en sorgsaamheid, is direk eweredig aan ons belewing van God se genade. Baie Christene kies vandag om eerder in die koue, buite hierdie konteks van God se reddende en behoudende genade te bestaan, as om die sogenaamde onvolmaaktheid van die gemeente te bedek met liefde. Mag die Here ons genadig wees.   

Geen opmerkings nie: