Sondag 13 Maart 2016

Hoe kan ons meer mense bereik!

Dit is nie meer so ’n maklike taak om die Afrikaanse kerkgemeenskap van ons dag te beskryf nie. Die gemiddelde Afrikaanse Geloofsgemeenskap in Suid-Afrika bestaan hoofsaaklik uit: 1.) Een deel Christene wat nog in die tradisionele gereformeerde susterkerke is, maar wil weet of daar 'n alternatief is; 2.) , ander deel meer “verligte” Christene wat die tradisionele kerke verlaat het en uit vrye wil die charismatiese of ontluikende kerke gekies het, omdat dit bleik die enigste ander opsie te wees (nuwe hervorming, kruiskerk, internet kerke); 3.) nog 'n deel Christene wat hulleself in huiskerke of groterige gebedsgroepe gevorm het en graag die “groot” doop wil ondergaan en dan laastens, maar nie die minste, 4.) Christene en gekerkte ongelowiges wat besluit het om nie meer kerk by te woon  nie, en basies glo dat daar nie enige waarde meer daarin sien nie.

Afrikaans as ’n taalmedium is ook onder druk op alle vlakke van ons samelewing en daarmee saam is daar ’n groeiende aantal Afrikaanssprekendes wat Engelse kerk verkies en dit as werks- en aanbiddingstaal verkies. Die selfs groter getal jongmense wat besluit het om hulle ouers se geestelike nalatenskap vaarwel toe te roep en Sondae te gebruik vir sport, ontspanning en onafgehandelde huistake, is ook ’n interessante tendens. Moet ook nie die groot hoeveelheid Afrikaanssprekende jongmense wat deur middel van werksgeleenthede ’n “beter” heenkome elders in die buiteland gaan soek.  Die enigste gevolgtrekking wat ons hieruit kan maak, is dat die Afrikaanse geloofsgemeenskap aan die kwyn is. Daar is baie min onafhanklike Baptiste/Bybel kerke wat suiwer Afrikaans as medium gebruik. Hierdie nie-denominasie gerigte of onafhanklike kerke is baie klein in getal en nie kerke van voorkeur nie.  

Die rede hiervoor is dat daar baie min motivering is vir mense om die kerke waarin hulle ouers was te verlaat, al is daar min motivering om wel na hulle ouers se kerk toe te gaan. Dit is baie moeilik vir mense wat in bv. in een van die gereformeerde Susterkerke grootgeword het om te besluit om 'n Baptiste kerk by te woon. Daarbenewens is pastorale leierskap ‘n uitdaging in die kleiner kerke, omdat die jong Afrikaanse mans wat potensiaal wys vir gemeentelike leierskap eerder hulleself beskikbaar stel om oorsee te gaan of in sendingorganisasies betrokke te raak wat hulle sal wegneem van Suid-Afrika of die gebiede wat hulle ken.

Wat wel positief is, is dat daar tog 'n aansienlike aantal Christene in die groter geloofsgemeenskappe is wat steeds die suiwer uitleg van die Skrif wil navolg en wil bly by die waarheid van die woord en hulle kinders so grootmaak in hulle eie moedertaal. Hierdie groepies gelowiges is regoor die land in al ons dorpe en stede en op soek na ’n Skrif-suiwer gemeente. Hulle soek Sondae na iets meer as net die program van die tradisionele kerk en maak gebruik van materiaal wat deur verskeie bedienings op die Web geplaas word, asook die DSTV kerk ens. Hierdie Christen is meer wêreldwys en is ingelig oor ’n wye verskeidenheid van onderwerpe as wat hulle ouers was. Hulle is geïnteresseerd in die praatjies wat bekende persoonlikhede lewer oor alledaagse, relevante onderwerpe. Hulle wil tog ook die tradisionele familiewaardes behou en is nie te vinde vir die nuwerwetse en vreemde idees wat ander kulture en bedienings inbring nie. 

Het ons die potensiaal om mense in die diverse plaaslike gemeenskappe te bevriend, te bereik met die evangelie en te bedien met die Woord? Daar sal altyd 'n behoefte wees vir persoonlike kontak met mense. Volge 'n paar maklike stappe: BEVRIEND IEMAND – Maak ‘n vriend met vreemdelinge. BEARBEI HOM/HAAR – Maak tyd vir jou nuwe vriende. BETREK HOM/HAAR – Nooi hulle saam na jou Groeigroep of kerkbyeenkoms. BEREIK HULLE –  Praat met hulle oor die Here Jesus.  


Geen opmerkings nie: