Sondag 06 Maart 2016

Hoe sal Christenskap oorleef?

Is jy onseker oor hoe die werk van God deur middel van Christenskap op aarde gaan uitbrei en oorleef? Die Groot Opdrag, om mense te bereik met die evangelie, is die antwoord! Nie almal van ons sien onsself egter as voorbrand evangeliste nie, en loop dalk rond met skuldgevoelens wat ons weerhou om betrokke te raak. Ons sien onsself nie as goeie verkoopsmanne of vroue nie en is skugter om die eerste stap te neem. Baie van ons pogings het dalk al misluk en moontlike onoorkombare hindernisse vir ons in die pad na spontane uitreik geplaas.

Johannes, die evangelis, gee ons raad hierin: “En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees.  Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai, en ‘n ander wat maai. Ek het julle gestuur om te maai waar julle nie aan gewerk het nie. Ander het gewerk, en julle het in hulle arbeid ingegaan.”  (Joh. 4:36-38) Op grond van hierdie waarheid kan ons die eenmalige poging wat oes-ten-alle-koste behels, tot ‘n meerfasige proses van saai EN oes aanpas. Kinders wat in Christen huise grootword het en later tot redding gekom het, is ‘n voorbeeld van ‘n proses-gebaseerde voorbereiding van die hart vir die ontvangs van die evangelie. 
   
Onthou, dit is die werk van die Heilige Gees om mense se harte waarlik voor te berei deur sonde oortuiging en waardering van God, maar die Heilige Gees gebruik beide die Woord en die goeie getuienis in Christelike vriendskappe wat goud werd is.  ‘n Boer kies nie bv. nie net ‘n stuk aarde en begin daarop die plant nie. Die grond is te hard en moet gebreek word om sag te wees, anders sal daar geen saad kan ontkiem nie. Die saai van die saad volg hierop en die nasorg van die lande en gesaaides is net so belangrik om ‘n goeie oes te verseker. Kultivering van die hart deur vriendskappe en sosiale interaksie, die saai van die evangelie saad deur goed-geplaaste geestelike gesprekke en die oes van die geestelike vrug deur ‘n oproep tot bekering – dit is alles die werk van die evangelis en dissipelmaker, onder leiding van die Heilige Gees. Al hierdie aktiwiteite neem tyd. Die grootste vraag wat jy jouself in gebed dus moet afvra is, watter vriendskappe het ek gekultiveer in my ongeredde vriende se lewens?  Watter mense se harte is ontvanklik genoeg vir die saad van  die evangelie, dat ek met hulle ‘n geestelike gesprek kan hĂȘ? Of dalk is al hierdie dinge al gedoen en die vrug is al ryp en moet afgeoes word deur iemand tot bekering te lei? 

Die opwinding is dat ek en jy betrokke kan raak by die mees belangrike saak wat God nog ooit vir die mens gegee het om in Sy Naam te behartig. Moenie bang wees nie, maar begin met vriendskappe en vriendelike, geestelike gesprekke en hou in gedagte dat daar ander is wat jou kan help.   

Geen opmerkings nie: