Maandag 05 September 2016

Waar bevind jy jouself vandag?

Ek deel met julle die persoonlike bemoediging wat uit die hart van broer Gideon Cillié kom.

Liewe vriende

Ek het vanoggend die gedeelte in Lukas 7:18-23 gelees, en baie goeie perspektief daaruit gekry, wat ek graag met julle wil deel. Ek glo ons almal vind ons van tyd tot tyd op plekke waar ons vertwyfeling ervaar.

Die gedeelte vertel die verhaal van Johannes die doper wat in die tronk is (nadat hy kritiek uitgespreek het teen Herodes omdat dié ‘n verhouding met sy broer se vrou begin het). Hy het natuurlik die volk Israel gewaarsku om hul te bekeer omdat die Messias (Jesus) aan die kom was, en selfs aan mense verkondig “Aanskou die Lam van God, wat gekom het om die sondes van die wêreld weg te neem”. Hy het Jesus gedoop en eerstehands gesien hoe God, die Vader, Jesus as sy seun identifiseer en hoe die Heilige Gees neerdaal op Jesus. Hy was dus sonder enige rede vir sy vertwyfeling dat Jesus die Messias was.

Tog in hierdie gedeelte stuur hy sy dissipels om by Jesus te gaan uitvind of Hy dan die Messias is. Hoe het dit gebeur? Van absoluut seker na onseker? Was Johannes dan verkeerd? Jesus se antwoord aan sy dissipels is nogal interessant. Hy sê aan hulle om vir Johannes te gaan vertel wat hulle gesien het (Jesus se wonderwerke). Hoekom het Hy nie net ‘n persoonlike boodskap aan Johannes gestuur om hom te bemoedig nie? Iets soos “Johannes jy is okay, Ek is die messias, jy was nie verkeerd nie.” Jesus kies om Johannes te wys op die magtige dade wat Hy gedoen het.

Dalk voel jy ook vandag dat jy in die “tronk van jou omstandighede” sit en dat jy seker iewers verkeerd geluister het toe God jou gestuur het om iets te doen in jou lewe. Jy twyfel soos Johannes skielik of Jesus dan werklik nog daar is en of Hy tevrede is met wat jy gedoen het.

Hierdie gedeelte leer ons om te fokus op God se werke. Interessant genoeg is Jesus se boodskap een wat die aandag vestig op Sy werke in ander se lewens (nie in Johannes se eie lewe nie). Om die regte ding te doen kos jou baie keer ‘n duur prys, maar fokus op God se werke en word bemoedig en weet verseker dat God steeds omgee vir jou. Jesus kon selfs die dissipels weggestuur het en gesê het “Johannes hoe kan jy van alle mense twyfel? Jy het immers die Heilige Gees van kindsdae af, jy het My gedoop, My hoor preek, hoe twyfel jy dan?”

Instede daarvan stuur Hy die bemoedigende boodskap. Moenie bekommerd wees nie Johannes, alles verloop volgens My plan. Jy sien dit nie dalk nou nie, maar Ek is steeds in beheer.

Mag elke een van julle’n wonderlike dag vol van God se bemoedigende vrede hê.

Groete in Christus.

Gideon Cillié

Geen opmerkings nie: