Sondag 25 September 2016

Besorgdheid en Bekommernis

Ons almal raak een of ander tyd besorg oor een of ander saak. Die druk by die werk, die welstand van ons kinders, die toestand in ons land, die leefstyl van ander wat vir ons lief en dierbaar is en ons finansiele posisie. Wat dit ook al mag wees, ons is besorg en soms sommer lekker bekommerd daaroor. Hierdie gevoelens veroorsaak dan problem vir ons. Neem asb. kennis dat alle besorgdheid is nie noodwendig sondig en verkeerd nie, maar as dit nie reg hanteer word nie, kan dit oorgaan in sonde. Die Bybel tref ‘n duidelike onderskeid tussen ‘n opregte besorgdheid  en ‘n sondige bekommernis, maar gebruik dieselfde Griekse basis woord “merimna” in albei gevalle.  Paulus gebruik ‘n soortgelyke woord in Filippense 2:20 as hy na die opregte tipe besorgdheid verwys wat Timotheus gehad het deur sy “belange opreg (te) behartig” (merimnysei). In 1 Korintiërs 12:25 gebruik Paulus ook ‘n soortgelyke woord as hy opdrag gee dat gemeentelede “gelyke sorg” (merimnousin) vir mekaar moet dra. Paulus sê in 2 Korintiërs 2:28 dat hy, ten spyte van sy persoonlike uitdagings, ook nog die “daaglikse bekommernis (merimna), die sorg vir al die gemeentes” ook het.  Hierdie gevoelens is ‘n opregte omgee vir die belange van ander.

Die sondige tipe bekommernis waarna die Bybel verwys, gebruik dieselfde Griekse woord “merimna”, maar die konteks verskil. Jesus het in Mattheus 6:25  gesê: “Moenie julle kwel (merimnate) oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie”. Jesus het ook in die gelykenis van die saaier verwys na die “sorge van hierdie wêreld” (Mark. 4:19) as ‘n slegte ding en in Lukas 10:41 na Martha verwys as “besorg (merimnate) en verontrus oor baie dinge” en dat sy dus ‘n slegte gesindheid gehad het. Paulus se opdrag in Filippense 4:6 is “Wees oor niks besorg (merimnate) nie, wys ook na ‘n sondige gesindheid. Die sondige tipe bekommernis is dus die oor-angstige besorgdheid oor die toekoms en dinge wat nie verander kan word nie. Bekommernis is onproduktiewe gedagtes (dagdromery) wat heeltyd probeer om die toekomstige uitkomste te probeer verander. Dit is sondig as sulke gedagtes beheer neem van jou en nie andersom nie. Dit gaan gepaard met die afskeep van verantwoordelikhede, moedeloosheid en hopeloosheid.


Sondige bekommernis veroorsaak slaaploosheid, vergeetagtigheid, gespannenheid en onrustigheid. Hierdie gesindheid veroorsaak dat ons kortaf is met ander en oorkrities van ander mense is en alles wil beheer. Ons sien ander se foute raak en deurdink en oordink hulle foute en probeer ten alle koste die blaam verskuif. ‘n Vinniger hartklop, ongestelde maag en dagdromery veroorsaak dat min werk gedoen word, alhoewel daar baie is om te doen.  As enige van hierdie bostaande simptome gereeld voorkom, kan ons met ons leraar daaroor praat en leer om reg te bid (Fil. 4:6,7), reg te dink (Fil. 4:8) en regop te tree (Fil. 4:9).

Geen opmerkings nie: