Maandag 12 September 2016

Naomi – Van Onguns na Guns Deur Die Here Se Genade Rut 1-4

In die boek Rut lees ons van die lewensverhaal van Naomi. Haar lewe is ‘n toonbeeld van ‘n lewe wat, a.g.v. die Here se genade, van onguns na guns beweeg.  Doen jouself ‘n guns en lees eers deur die boek van Rut, voordat jy hierdie artikel lees.

Die eerste ding wat ons sal leer van die lewe van Naomi, was dat haar drome aan skerwe gelê het. Die eerste hoofstuk vertel ons van ‘n knellende hongersnood in die “beloofde” land – dit is waar die verhaal begin (1:1a). Die hongersnood het haar man, Elimeleg, onder druk geplaas en hy het besluit om weg te trek van Betlehem (wat brood beteken) – weg van die land wat brood beteken (1:1b), na vreemdeland, ‘n heidense land (1:1c). Naomi en het twee seuns gehad, maar baie vroeg in die verhaal leer ons dat Elimeleg, die broodwinner, afsterwe (1;3), wat beteken dat Naomi as weduwee alleen bly in Moab. Dit was nie ‘n goeie besluit om so weg te trek nie, want nou is sy vrou in ‘n heidense land alleen agtergelaat en boonop het beide hulle seuns met heidense (nie-joodse Moabietiese) vroue getrou (1:4). In daardie tyd kom ook haar twee seuns, Maglon (wat sieklik beteken) en Giljon (wat gedaan beteken) tot sterwe (1:5). Wat nou gemaak? Naomi bevind haar in ‘n vreemde land sonder haar familie, sonder haar man en sonder seuns wat vir haar kan sorg. Al wat sy oorgehad het was twee heidense dogters en hongersnood. Sy het ook desperaatlik probeer om haar skoondogters weg te stuur. Sy het God geblameer vir haar omstadighede (1:13b; 1:22).

Kom ons staan terug ‘n bietjie en dink aan die ongunstigheid van hulle omstandighede. Haar lewe is ten sleg geaffekteer deur hongersnood wat ‘n fisiese swakheid/behoefte in die liggaam te weeg. Daarmee saam moes sy eensaamheid ervaar het wat geestelike swakheid en pyn in die hart te weeg bring. Verder het sy ook haar desperaatheid in die situasie te kenne gegee, want sy moes staatmaak op die mense van die land om vir haar te sorg. Die blaam wat sy na die Here toe verskuif, wys ook hoe bitterheid en depressie in haar lewe ingekom het. Ek glo nie enige een van ons kan onsself in erger omstandighede indink as die waarin hierdie drie vroue hulle bevind het nie. ‘n Ware hopelose situasie!! Is daar enige iets goeds wat hieruit kan voortkom? Is daar enige hoop vir haar?

Die 1ste tekens van hoop (1:6) was dat sy gehoor het dat die Here  op sy volk ag gegee het deur aan hulle brood te gee.” Met ander woorde, die Here wat die volk deur middle van hongersnood gestraf het, het besluit om hulle weer te seen. Die 2de teken van hoop (1:16-17) was die jong heidense skoondogter Rut wat to bekering gekom het en besluit het om haar heidense geloof te verlaat om God alleen te dien. “Maar Rut het gesê:… waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God.”  Die 3de teken van hoop (2:1-23) was dat Naomi ‘n het ‘n “bloedverwant gehad van haar man se kant, ‘n vermoende man…”. Dit het beteken dat alhoewel sy op moedverloor se vlakte is, het sy iemand gehad wat vir haar kon sorg. Die 4de teken van hoop (2:3-23) is een van die mooiste liefdesverhale in die Bybel. Boas raak verlief op Rut en Naomi help haar om deur die situasie te kom en uiteindelik met Boas te trou.  

Naomi het vanuit uiters slegte lewensomstadighede beweeg na ‘n plek waar die Here vir haar voorsien het. Die Here het in haar honger en haar behoefte na fisiese brood voorsien. Die Here kan die ongunstige omstandighede van honger omskakel na versadiging. Joh. 6:35  En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Die Bybel sê in Rom. 8:35  dat as ons Christus het, dat ons nie deur honger geskei kan word van Hom nie… “Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?” Om die waarheid te sê, as ons Christus het, sal ons honger versadig word en die behoefte omgeskakel word in gelukkigheid of saligheid. Jesus het in Lukas 6:21 gese: “Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag”.

Die Here het haar eensaamheid weggeneem omgeskakel deur vir haar ‘n nuwe familie te gee, met ‘n toegewyde skoondogter en ‘n welgestelde “skoonseun”, in Boas. Boas sou vir haar sorg en Naomi het haar raad gevolg en vir haar liefde gewys en vir haar gesorg soos geen seun dit kon gedoen het nie.Die Here het ook haar desperaatheid omgeskakel in vasberadenheid, want waar sy aanvanklik haar skoondogter wou wegstuur, het sy nou haar skoondogter kon lei en raadgee. Sy het ‘n selfs die aangenome ouma van Obed, Rut se seun, geword.Laastens, het die Here haar depressie en bitterheid omgeskakel in vreugde en seening. Hoor wat se die vroue vir Naómi (4:14-15) “Geloofd sy die HERE wat aan jou vandag ‘n losser nie laat ontbreek het nie! En mag sy naam in Israel geroem word! Hy sal vir jou een wees wat jou siel verkwik en jou grysheid versorg; want jou skoondogter wat jou liefhet, het hom gebaar, sy wat vir jou meer werd is as sewe seuns.

Dit is moontlik dat die ongunstige omstandighede van die fisiese behoeftes van die lewe, eensaamheid, desperaatheid of depressie ‘n houvas kry op jou lewe. Jou vraag is dan – IS DAAR HOOP? Die Here kan in al ons fisiese en geestelike behoeftes voorsien met baie van die alledaagse dinge wat ons as van selfsprekend aanvaar. Kyk om jou… tel jou seeninge… raak betrokke, want daar is hoop!

Geen opmerkings nie: